Hoekom behoudendes ongelukkig is in die NG Kerk

2000: Ben du Toit publiseer sy boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd, waarin hy die maagdelike geboorte, Jesus se liggaamlike opstanding en die bestaan van die duiwel bevraagteken. Daarvoor ontvang hy die Andrew Murrayprys. In 2020 verklaar Ben du Toit dat hy ’n postteïs (ateïs) is.

In 2002 en 2004 besluit die NG Kerk dat die Bybel ‘n menslike boek is met menslike foute en dat dit geen aanspraak maak op historiese eksaktheid nie.

2003: Lede van die Nuwe Hervormers word na die Sinode van Noord Transvaal genooi wat daartoe lei dat die sinode besluit om nie standpunt in te neem oor Jesus se maagdelike verwekking en opstanding nie.

2005: Pieter Pelser publiseer sy boek, NG Kerk: Reformeer of… Disintegreer? Dit stop nie die liberale stroming nie.

2006: Ferdie Mulder, ‘n teologiese student by Tukkies, kla drie dosente aan van leerdwaling omdat hulle nie aan Jesus se opstanding glo nie: Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human. Hierdie drie dosente word onskuldig bevind op grond van die 2002 en 2004 besluit oor Skrifgesag. Ferdie word lewenslank geskors.

2006: Ben du Toit en Kobus Gerber, die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers, moedig die Suid-Afrikaanse parlement aan om homoseksuele huwelike te wettig.

2009: In ‘n poging om die liberale stroming in die NG Kerk te keer, skryf Adrio König die boek Die evangelie is op die spel. Die hooftema van die boek is dat indien Jesus se opstanding ontken word, is die evangelie op die spel.

2010: George Claassen (ateïs) tree op as gasspreker by die openingsdag van die Tukkies se Teologiese Fakulteit. Kort daarna word versoek dat Mark Harwood, ’n skeppingsleerder, ook die teologiese fakulteit toespreek, maar Julian Müller wys dit van die hand.

2010 en 2011: Nog drie boeke verskyn in ‘n poging om die liberale strominge in die NGK te stuit: Die Trojaanse perd in die NG Kerk (sewe skrywers), Opgestaan (Ferdie Mulder) en Jesus is die een! (Johan Janse van Rensburg).

2011: Die algemene sinode besluit om ruimte te maak vir  saamwoonverhoudings en vir mense wat nie aan die duiwel glo nie.

2012: Die Sinode Hoëveld reël ‘n geleentheid om na besware te luister, maar niks kom daarvan nie.

2011: Wynand Louw kla vir Ben du Toit aan omdat hy nie in die duiwel glo nie. Hy word onskuldig verklaar op grond van die algemene sinode se besluit in 2011.

2015: Die algemene sinode maak ruimte vir SGV (selfdegeslagverhoudings). Daar is sprake van emosionele manipulasie.

2016: Die 2015-besluit oor SGV word omgedraai tydens ‘n buitengewone sinode. Die moderator, Nelis Janse van Rensburg, sê egter dat die sinode nie besluite op gemeentes gaan afdwing nie. Maw, gemeentes kan self besluit hoe hulle SGVs hanteer.

2016: 12 lidmate neem die NGK hof toe omdat die besluit omgedraai is. In 2019 verloor die NGK die hofsaak. Die NG Kerk se respondente is almal mense wat waarskynlik gehoop het dat die NG Kerk die hofsaak sou verloor.

2019: Ten spyte van die 2016-besluit, word Louis van der Riet, ‘n gay proponent, by Parkegemeente bevestig as predikant. Ook by NG gemeente Stellenberg word ‘n gay man, Philipp Dietmann, getroud met Floris Hanekom, bevestig as predikant.

2019: Die algemene sinode maak weer ruimte vir SGV. In 2020 ontstaan die Kairos Netwerk.

2021: Tydens ‘n legitimasiediens verwys die prediker, Ds Melanie Thirion, na God in die vroulike geslag. Die voorsitter van die algemene kuratorium, Frederick Marais, verdedig haar en niks verder gebeur nie.

2021: Prof Jerry Pillay, dekaan van Tukkies se teologiese fakulteit sê in ‘n video: “We are consciously giving more attention to black theology, African Christian theology, liberation theology, feminist theology, womanist theology, urban theology, etc.”

2022: Die sinode van die CRCA (Christian Reformed Churches of Australia) besluit om alle bande met die NG Kerk en die Hervormde kerk te verbreek weens hierdie kerke se standpunte oor homoseksualiteit.

2023: Peter Nagel, ‘n teologiese dosent by Universiteit Stellenbosch, word skuldig bevind aan dwaallering en word geskors nadat hy ‘n artikel skryf waarin hy Jesus se godheid bevraagteken. In 2024 word sy predikantsbevoegdheid herstel nadat hy verklaar dat hy steeds sy legitimasieverklaring onderskryf.

2023: Nog twee boeke: Kerk met die verkeerde baas (Gerhard Mahne) en Die geestelike noodtoestand in die kerk (Kobus Visser)

2023: Algemene sinode: In die agenda beveel ATLAS gesamentlike aanbidding aan. Ruimte word steeds gemaak vir SGV.

Vir meer inligting, kyk www.glodiebybel.co.za/skokkende-geskiedenis-van-die-ng-kerk-sedert-2000 (Daniel Louw, 14 Maart 2024)

1 thought on “Hoekom behoudendes ongelukkig is in die NG Kerk”

  1. Jarelange lidmaat van ‘n bekende NG Kerk gewees en waar ek werklik ‘n pad saam met die Here geloop het. Ondervinding wat ek vanaf April 2024 tot hede met tans die huidige hoofleraar van die betrokke NG Kerk daar gehad het, het my met afgryse en skok gelaat.
    Is hy nie veronderstel om mense na die huis van die Here te lei, hy hulle so vervreem dat jy niks van ‘n kerk en spesifiek NG kerk te doen wil he nie. Dit is skokkend hoeveel mag die NG Kerke asook hul leraars het. Was by ‘n hospitaal vir depressie opgeneem, en as gevolg van net een oproep na die betrokke leraar, het ek daarna geen mediese hulp verder ontvang nie. Hierdie klink vergesorg en absurd maar hierdie is werklikhede waarmee ek deel. In plaas van bystand het hy my verder in depressie afgetrek toe ek Hom bevraagteken, die een leuen na die ander een. Was bereid dat ons om ‘n tafel met ‘n ander leraar sit, wat hy gladnie wil doen nie. In wedersydse korresponsie, wat heelwat is, het ek hom gevra om my na dokters toe verwys, waarop hy tot op hede net geignoreer het Hy kan nie want hy is skuldig daaraan. Hy het my die voorreg ontneem om na n Christen dokter toe te gaan. Dis ‘n predikant se woord teen die van myne. Wie gaan my glo? Niemand nie!! Dis waartoe die NG kerke en hulle leraars in staat toe is. Is doodseker daarvan dat die vorige leraars, met wie ek ‘n lang pad kom, nie hiervan bewus is nie. Wil NOOIT weer die binnekant van ‘n NG kerk sien nie!! Absurd en vergesorg maar die waarheid. Ontvang terapie van ‘n Moslem psigiater en sielkundige. Voel veilig daar!! Die NG Kerke het MEER mag as selfs die Broederbond!! Alles hierdie sal nie sin maak nie want julle ken nie die agtergrond hiervan nie. Ek het nog NOOIT ‘n predikant so hoor lieg nie. Het alle bewyse van wat hy gesê en gedoen het! Hoe DURF hy as Godsman die Woord elke Sondag verkondig? Hierdie een groot nagmerrie waaruit ek net wil wakker word. Bevraagteken Christenskap en Christenwees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui