NG Kerk moet ‘diversiteit met ope arms verwelkom’

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn. Die volgende is hoofpunte:

  • Die drie leraars van die NG gemeente in Aandbloem in Bloemfontein gaan nou homoseksuele huwelike bevestig.
  • Die drie leraars het hulle saak aan beide die ring en die moderamen van die Vrystaatse sinode voorgelê en nie een van die twee partye het enigiets daaromtrent gesê nie. Dit getuig van ruggraatloosheid en pligsversuim.
  • Een van die drie leraars noem van ’n ander gemeente in Bloemfontein waar twee gay predikante in ’n verhouding is en die gemeente bedien.

Dit is baie duidelik dat die NG Kerk se strukture totaal nutteloos geword het. Elke gemeente kan maar net doen wat hy wil.

Kruger du Preez is een van die predikante by Aandbloem. Kyk Sien ’n deernisvolle Jesus raak waar hy vertel hoe hy sy seun se homoseksualiteit aanvaar het en hom toe in die huwelik bevestig het.

Kyk ook Chris van Wyk en Chris Saayman se reaksie hierop onderaan die artikel.

***********

NG Kerk moet ‘diversiteit met ope arms verwelkom’

25 September 2018

Neels Jackson

Die drie predikante van die NG gemeente Aand­bloem in Bloemfontein mag nou burgerlike verbintenisse tussen gay paartjies bevestig, het dr Willem Botha, een van die drie, aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) gesê.

Botha het gesê hulle het met die steun van hulle kerkraad aansoek gedoen om dit te doen en dit is toegestaan. Die gedagte dat die denominasie namens die dominees aansoek doen, is volgens hom ’n gerieflikheidsreëling en nie ’n regsverpligting nie.

Botha het die ASM toegespreek as lid van die taakspan vir kerkverband wat oor die rol en funksie van die Algemene Sinode moet dink. Hy het aangevoer dat dit niks gaan help om oor strukture te praat nie. Die probleem in die kerk lê in verskille in Skrifverstaan.

Aan die een kant is daar ’n “teks-immanente”-denkskool wat meen God is in die woorde van die Bybelteks. Aan die ander kant is daar die “teks-transenderende”-denkskool waar die groot boodskappe van die Skrif voorrang geniet bo spesifieke teksverse.

Botha het gesê hy het in die teks-immanente denkskool grootgeword, maar het ’n bekering ondergaan. Dit het hom bevry.

Sy vraag is wat die kerk op die grond met dié verskille gaan maak.

Hy het vertel dat daar in hulle familie agt gay mense is en dat 38 mense daardeur geraak word. Hulle het besluit hulle bly in die NG Kerk ten spyte van die Algemene Sinode van 2016 se besluit wat hulle nie welkom laat voel nie.

Hy het vertel dat die gemiddelde ouderdom van Aandbloem se gemeente 82 is. Hulle ondersteun die besluit van die 2015-sinode wat ruimte laat vir gay verbintenisse. Hulle voel hulle kan nie die kerk se 2016-besluit gehoorsaam sonder om die evangelie te verloën nie.

Hulle het hulle saak by die ring gestel en dié het niks daaroor gesê nie. Hulle het dit by die Vrystaatse moderamen gestel, wat ook niks verder gedoen het nie. Nou het hulle dit ook voor die ASM gestel.

Botha het, sonder om name te noem, gesê daar is ’n ander gemeente in Bloemfontein waar twee gay predikante in ’n verhouding is en die gemeente bedien. Hy het gesê daar is ’n gemeenskap binne die NG Kerk aan die ontwikkel wat dit so aanvaar.

Hy het gepleit dat die ASM nog voor die hofuitspraak dié “diversiteit met ope arms verwelkom”.

Die ASM het Botha se bydrae nie verder bespreek of daaroor besluit nie, maar ds Nelis Janse van Rensburg, die voorsitter, het gesê die vraag oor hoe die kerk diversiteit moet hanteer, is nie ’n nuwe ding nie. Dit kom al uit die Nuwe Testament. Die NG Kerk sal moet dink oor ’n teologie van diversiteit.

Chris van Wyk se reaksie

Vanaf Facebook.

So ontwyk die kerk haar verantwoordelikheid.

Die ASM (Algemene Sinode moderamen) tree nie op in belang van die 2016 besluit nie. Die voorsitter het enige gesprek hieroor gekeer.

Die ATR (Algemene Taakspan Regte) (en die betrokke ring, sowel as die Vrystaatse sinode) tree ook nie op nie, al word hulle gesag uitgedaag.

Die brief wat ek self aan die ATR gestuur het, om te vra vir uitsluitsel oor die wyse waarop gemeentes, ringe en sinodes sulke sake moet hanteer, is afgewys.

Een van die ATR lede, wil dit my voorkom, het boonop my brief afgeneem en vir Jean Ooshuizen gestuur om my te diskrediteer.

Dit is die afleiding wat ek maak uit die plasing van ’n foto van my brief op sosiale media.

Die ATR se integriteit is op die spel, sowel as die ASM s’n. ook dié van die betrokke ring en die Vrystaatse sinode.

Die tyd het gekom dat die ASM en die ATR die mandaat wat die buitengewone algemene sinode 2016 aan hulle gegee het, nakom. ’n Kerk se leiers het nie ’n eie mandaat om na goeddunke op te tree téén die duidelike besluite en opdragte wat aan hulle opgedra is nie.

Dieselfde geld enige ander liggaam in die kerk wat mandate in dié verband het.

Tree nou op, of verloor die integriteit wat julle in die oë het van dié wat julle met die welwese van die kerk vertrou.

Chris Saayman se reaksie op Facebook

Vanaf Facebook.

HIERDIE IS EEN VAN DIE MEES ONTSTELLENDE BERIGTE WAT EK NOG IN KERKBODE GELEES HET – TWEE PREDIKANTEKOLLEGAS VAN ‘N NG GEMEENTE IN BLOEMFONTEIN WAT ‘N OPENLIKE HOMOSEKSUELE VERHOUDING HET EN RUSTIG DIE GEMEENTE BEDIEN! DIT IS – WAT DIE SKRIF NOEM – DIE “DIEP DINGE VAN SATAN”.

Volgens Openbaring 2:18-29 het die vals leraar Isébel die gemeente van Thiatire geleer om “PORNEIA” te praktiseer. Hierdie Griekse woord beteken alle seksuele bedrywighede buite die wettige huwelik tussen een man en een vrou. Gaan Google dit gerus. Porneia sluit homoseksuele praktyke in. Dit sluit ook in saamwoon-situasies (hetero en homo) waar die mense (vir altyd) in liefde en trou saam is. ’n “Huwelik” tussen mense van dieselfde geslag is op geen manier ’n huwelik nie. Dit het selfs die NG Kerk se Sinode in 2016 erken. Hetero-saamwoners is dus skuldig aan porneia. Homo-saamwoners is skuldig aan porneia. Homo-”getroudes” is skuldig aan porneia. Hulle beweeg op die lewensgevaarlike terrein van die “diep dinge van satan”. Opvallend hoe ernstig die “liefdevolle Jesus” die gemeente van Tiatire waarsku en in geen onduidelike taal alle vorme van porneia veroordeel. Hy dreig selfs om vir Isébel op ’n siekbed te werp en haar volgelinge aan verdrukking oor te gee asook haar kinders dood te maak (v 23). Die liefde van God handhaaf Sy heiligheid. Sy liefde staan nie teenoor Sy heiligheid nie. Christene wat enige vorm van die “diep dinge van satan” propageer of kondoneer behoort slapelose nagte te hê – indien hulle enigsins die Skrif ernstig neem.

Maar dit is nie die einde van die storie nie. Hierdie selfde heilige Here kan hetero’s wat saamwoon, homo’s wat saamwoon en homo’s wat “getroud” is, verlos en vergewe en nuutmaak. Dit staan lewensgroot in 1 Korintiërs 6:9-11 waar dieselfde woord “porneia” gebruik word. Maar in vers 11 sê die Apostel van sommige Korintiërs wat voorheen aan porneia skuldig was, dat hulle AFGEWAS en GEHEILIG en REGGESTEL IS MET GOD deur die bloed van Christus en die Heilige Gees se krag! DIT is die WARE Evangelieboodskap!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui