Jesus se broers en susters

Jesus se broers en susters

Die Nuwe Testament noem dat Jesus broers en susters gehad het. Hoeveel broers en susters hy gehad het is onseker, maar vier broers van Jesus se name word genoem in Matteus 13:55-56 en Markus 6:3:

  • Jakobus
  • Joses/Josef
  • Judas
  • Simon

Matteus 13: (55)Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? (56)En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?”

Markus 6: (3)Is hy dan nie ‘n timmerman, ‘n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”

‘n Mens kry egter die idee dat Jesus se verhouding met sy broers nie goed was nie.

In Matteus 12:46-50 (Markus 3:31-35; Lukas 8:19-21) wou Jesus se broers met Hom praat, maar dit lyk nie of Hy veel daarin belang gestel het nie:

(46)Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het sy moeder en broers buite gestaan, en hulle wou met Hom praat. (47)Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan daar buite en wil met U praat.” (48)Maar Hy sê vir die man wat dit vir Hom gesê het: “Wie is my moeder, en wie is my broers?” (49)Toe wys Hy met sy hand na sy dissipels en sê: 50“Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”

In Johannes 7:1-9 word vertel dat Jesus se broers op sarkastiese wyse vir hom gesê het om ook na Judea te gaan om wonderwerke te doen, wetende dat die Jode hom daar wou doodmaak. Vers 5 sê: “Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie.

In Romeine 15:3 skryf Paulus: “Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.”

Paulus haal hier aan uit Psalm 69:10, ‘n Messiaanse Psalm. In Psalm 69:9 staan daar ook: “Ek het vreemd geword vir my broers, my familie wil my nie meer ken nie.” Dus is dit redelik om af te lei dat hierdie ‘n profesie is wat ook daarna verwys dat Jesus se broers en susters Hom in die steek sou laat. Dit stem ooreen met wat in die Evangelies gelees word.

Na Jesus se opstanding en hemelvaart het dinge egter verander:

In 1 Korintiërs 9:5 verwys Paulus na Jesus se broers, wat duidelik ook as ‘n apostel opgetree het: “(5)Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat ‘n gelowige is, op reis saam te neem soos ook die ander apostels en die Here se broers en Sefas nie?

In Galasiërs 1:19 verwys Paulus ook na Jesus se broer, Jakobus: “(19)Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here.

Jakobus het ook die brief van Jakobus geskryf en Jesus se ander broer, Judas, het die tweede laaste brief in die Bybel geskryf.

Die vraag is: wat het hierdie verandering in Jakobus en Judas gebring?

Dit kon niks anders wees as Jesus se opstanding en hemelvaart nie. Alhoewel hulle aanvanklik skepties was oor Jesus se roeping en Godheid, kon hulle nie anders as om hulle standpunt te verander nadat Hy uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel nie.

Vir meer oor Jesus se opstanding, kyk Die Bybel oor Jesus se opstanding en Aanhalings – Jesus se opstanding.

Kyk ook

1 thought on “Jesus se broers en susters”

  1. Jesus se opstanding het alles verander. Skielik word die Ou Testament se geskrifte, en Jesus se eie woorde, en die woorde van God oor Hom, ook lewend, en begin brandend te leef in hul harte.

    Die Gees begin toe te brand soos 🔥 in hul binneste en kon nie uitgeblus word nie.

    God is Gees, en ons vergeet dit só maklik; Sy Gees is Ewig, maar nie Christus se Verrese Liggaam nie. Sy Vlees is wel opgewek tot Ewige Lewe, maar Sy Vlees was vir 3 dae food, en het nooit bestaan voor Sy koms in die wêreld nie. Is Hy dus ”mínder” Goddelik? Nee. Jesus is die Ewige GOD se ❤ wat só volmaak en só perfek is, dat Hy Homself ook volmaak ontledig het, om in Maria se baarmoeder as ‘n baba te ontwikkel en te groei, júís om die Perfekte Paaslam, die Perfekte ”heifer” te word om in die 👣 van die mens te staan en God se ⚡⚡⚡ op Hom te neem. GOD wat Homself straf deur Jesus. Daarom kon Paulus nie anders, as om eintlik liries, en amper buite sy eie sinne, te spreek van God se Liefde, waarvan die lengte, wydte, diepte, hoogte vér buite ons verwysingsraamwerk is, maar tog so bereikbaar, en dat Sy Gees bìnne die mens ‘n tuiste kom maak het. Johannes praat van God die Vader-Seun-Gees, wat ín die mens Sy tuiste maak.

    Het die hedendaagse leraar waarlik, waarlik al dié Liefde van GOD ontmoet? Dit verklaar dan waarom God so intens en gefokus aanbid word in Openbaring 4, want dié 👁👁 na ‘n Ewige Onsienlike God, wat Homself sigbaar en bereikbaar gemaak het, en dié wete, is soos ‘n eggo van die 🔥🔥🔥🔥🔥🔥🔥⚡⚡⚡⚡⚡⚡⚡👑🤍💎in hul binneste, waar hul binne in Sy ❤ staan, en nie ánders kan, as om deur Sy hartklop meegevoer te word nie.

    As mens na dienste 👀 Sondae – of met christene omgaan in die alledaagse lewe – kan mens merk, dat ‘’aanbidding’’ vir 99.99999% ‘n blote ritueel is, en ver meer ‘’vleeslik’’ gedrewe, as in die Gees.

    Het Jesus dan wáárlik opgestaan in dié harte?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui