Aborsie in die NG Kerk

Aborsie in die NG Kerk

Dr Etienne Liversage

26 September 2023

Psalms 139:14-16 besing lewe wat in die baarmoeder geweef word: “Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is”. So word gees en lewe in die baarmoeder geskep.

In Romeine 1:28 bevestig die apostel Paulus dat God in sy toorn ’n volk wat Hom op die agterbaan skuif, as straf aan “verdraaide opvattings” oorgee (letterlik aan ‘n brein wat nie funksioneer nie), wanneer hulle dit wat sleg is goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter (Jesaja 5:20) en wanneer selfs moord dit nie meer is nie. So byvoorbeeld het die Amerikaanse Hooggeregshof  reeds in Januarie 1973 in twee aborsiesake, “Doe versus Wade” en later “Doe versus Bolton”, uitspraak gegee wat aborsie gewettig het en die gevolge is astronomies.

In sy kommentaar op Romeine 1 verwys dr. John MacArthur, ‘n Amerikaanse teoloog, na die Joodse slagting deur die Nazi’s en tref dan die volgende vergelyking: “Hitler allowed people to kill, they killed.  The Supreme Court allows people to kill, they’ll kill.  How can there be so much support for Black Lives Matter when there are a thousand little Black lives being aborted every day.  That is a holocaust.”

Oor aborsie het die Algemene Sinode(AS) van die NG Kerk in 1994 besluit: “In die lig van die Skrifgegewens en die stand van wetenskaplike gegewens, is aborsie ontoelaatbaar. In die hoogs uitsonderlike gevalle van volkome onafwendbaarheid, bly dit nog steeds ’n saak wat nie volgens God se geopenbaarde wil is nie en daarom slegs met diepe worsteling, skuldbelydenis, pyn en onder felle protes aanvaar kan word.” Dit is wanneer die kerk se simpatieke pastorale begeleiding ter sprake kom, wat sekerlik deel van teologiese opleiding beslaan.

Die Suid-Afrikaanse regering het egter op 1 Februarie 1997 die “Choice on Termination of Pregnancy Act” aanvaar, waarvolgens alle vroue, asook minderjarige meisies, aborsies tot op 13 weke swangerskap mag ondergaan, sonder dat hulle enige rede daarvoor hoef te verstrek.  Daarna en tot op 20 weke, moet aan sekere bepalings voldoen word.

Omdat geglo is dat hierdie wet die grondwetlike reg op lewe skend, het die “Christian Lawyers Association” die Minister van Gesondheid voor die Transvaalafdeling van die Hooggeregshof gedaag.  Die aansoek is egter op grond daarvan verwerp, dat die grondwetlike reg op lewe slegs op lewende persone en nie op ‘n ongeborene nie, van toepassing is.  Dit het dus die on-Skriftuurlike beginsel hier gevestig, dat lewe eers by geboorte begin

Die kerk het dit gedwee aanvaar, dog tydens die 2019-AS, is die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake (ATLAS) versoek om weer oor die etiese kwessies rondom aborsie navorsing te doen, sekerlik in die lig van nuwe post moderne “ruim huis”-denke daaroor. ‘n Voorsmaak hiervan is op 13 September 2021 verkry, toe dr. Nadia Marais, ‘n teologiedosent aan die Universiteit van Stellenbosch, op RSG haar steun vir aborsie gegee en gesê het dat dit nie die kerk (dus God) se plek is om aan ’n vrou voor te skryf wat sy met haar liggaam mag maak nie.

Die ATLAS-verslag oor aborsie sal tydens die AS van Oktober 2023 ter tafel gelê word. Na vier jaar van “onderskeidende gesprek” is geen finale verslag gereed nie! Die Moderator, ds Nelis Janse van Rensburg stel dit onomwonde: “Ons gaan saam (oor aborsie) dink…ons is in ’n proses van onderskeiding. En aan daardie… onderskeidingsproses skryf ons nie ’n datum op nie en sê ons wil dán klaar wees nie. Die standpunt moet groei binne die kerk.”  Watter standpunt? Intussen swyg die kerk oor die daaglikse baarmoedermoorde, asof die sesde gebod nie bestaan nie.

Hoekom is die 1994- besluit, wat in die lig van die Skrif en die wetenskap geneem is, nie meer die standpunt wat vandag vir die leierskap van die kerk aanvaarbaar is nie? Word die gesprek na 2027 uitgestel sodat, met genoegsame sosiale, eerder as Skriftuurlike breinspoeling,  dit teen dan tot groter algemene byval sal ”groei”?

Dr Etienne Liversage

Ladysmith September 2023

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui