VS-Sinode dui nie rigting aan

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

VS-Sinode dui nie rigting aan | Netwerk24

Ds. Pieter De Jager, Reddersburg

21 April 2023

Prof. Sybrand Strauss se keuse vir ’n teologies- kategoriale sinode (TKS), as ’n opsie om ’n vasgeloopte Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk (NGK) vaartbelynd te maak (14.04), het nie gerealiseer nie.

As afgevaardigde ouderling op die spesiale Sinode van die Vrystaat, het ek gevra of so ’n kategoriale sinode, wat ten doel het om integraal te deel in al die werksaamhede van die NGK, nie verwarring gaan skep met ’n beplande 11de sinode, Koinonia Sinode, van dolerende gemeentes nie. My vraag sou vóór stemming bespreek word, maar is nooit beantwoord nie.

Die verskil tussen die twee sinodes kom (volgens die Kairos Netwerk van die dolerende gemeentes) daarop neer dat die kerk van binne wil reformeer om sout en lig in ’n vasgeloopte situasie te wees.

Die opsie van ’n TKS wat platgeval het, sou volgens ’n agendabylaag “ruimte vir verskillende skrifvertolkings begin skep”. Hier realiseer dieselfde probleem nadat die AS in 2019 twee kampe vir Skrifvertolking ten opsigte van selfdegeslagverhoudings toegelaat het. Dit kom weer pynlik uit in die verduideliking van ds. Jan Lubbe (19.04) dat daar “verskillende maniere (is) hoe ons die Bybel kan lees . . .” Vrystaat-gemeentes wat ten gunste van selfdegeslagverbintenisse is en dié daarteen kan binne die ruimte van hierdie besluit hul bediening voortsit. Dit laat die NGK weer waar sy, soos in 2019, gevra word om vir of teen ’n onveranderlike etiese Skrifnorm te kies. Besluit maar self watter kant van die Skrif jou pas.

Veral plattelandse sinodegangers van 2023 het moeilik geraak. Hulle wou vaste spyse hê, nié praat sonder grense ter wille van kerkeenheid nie.

Hoe lank gaan ’n sukkelende, drywende NGK haar seile laat hang? “My siel kwyn weg in my . . . al U deinings en golwe het oor my gespoel” (Ps. 42:7-8) is die uitroep van byna 100 uit 1 100 treurende gemeentes. En dit in ’n tydgees soos in die Bybelse Rigterstyd “waar elkeen gedoen het wat reg is in sy eie oë . . .”

Kommentaar

Pieter de Jager vra in die tweede paragraaf of ‘n kategoriale sinode (‘n behoudende sinode binne ‘n liberale denominasie) nie verwarring gaan skep nie. Hy maak ‘n baie goeie punt. Kyk ook Artikel 37 as oplossing vir uiteenlopende teologiese sieninge.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui