VS sinode het eintlik nie besluit geneem, meen Kairos Netwerk

*******

VS sinode het eintlik nie besluit geneem, meen Kairos Netwerk | Netwerk24

Marita Herselman

22 April 2023

Die sinode van die NG Kerk Vrystaat het “eintlik” nie ’n besluit geneem op sy buitengewone sitting nie, meen die Kairos Netwerk (KN), ’n netwerk van dolerende en behoudende gemeentes van die NG Kerk.

“Daar het eintlik niks by die sinode gebeur nie,” sê dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Kairos Netwerk.

“Die Vrystaatse sinode het nie regtig ’n alternatief op die tafel geplaas nie – hulle gaan doodgewoon in gesprek tree, sonder om ’n alternatief aan die AS te stel.

“Ons het gehoop daar sal ’n alternatief wees wat vir behoudende gemeentes meer ruimte skep.”

Die Vrystaatse sinode het Dinsdag ’n buitengewone sinodesitting in Bloemfontein gehou om die vraag te beantwoord oor of hy uit verband met die Algemene Sinode (AS) gaan tree of nie.

Die AS bind die nege NG sinodes in die land en die een in Namibië saam.

Die vraagstuk het ontstaan omdat sommige Vrystaatse gemeentes (ook elders) nie met besluite van die AS saamstem nie.

Die Vrystaatse sinode het dié vraag Dinsdag egter met ’n meerderheid van 186 uit die 299 stemme beantwoord, en besluit om nie uit algemene sinodale verband te tree nie, maar eerder in Oktober by die volgende sitting van die AS oor die Vrystaat se standpunt in gesprek te tree.

Dit was een van ses moontlike keuses wat die Vrystaatse moderamen ter tafel gelê het.

Ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk Vrystaat, sê die besluit “is ’n duidelike keuse teen verdere verdeeldheid; óns hier in die Vrystaat is aan mekaar verbind. Ons het ’n gematigde besluit geneem wat ’n weg open waarop Vrystaatse gemeentes met hul bediening en roeping in ons konteks hier kan voortgaan”.

Lubbe sê die proses voor en tydens die vergadering was inklusief en deursigtig. Daar is diepgaande navorsing gedoen en breedvoerige gesprekke gevoer voordat die ses moontlike opsies ter tafel gelê is.

“Die agenda en alle dokumentasie was meer as ’n maand vooraf by alle afgevaardigdes en in alle gemeentes beskikbaar. Geen besware daarteen, amendemente óf ander voorstelle is vooraf ontvang nie,” sê Lubbe.

Daar was ook intensiewe gesprekvoering voordat daar gestem is.

“Ons standpunte wat na die AS deurgaan, is eweneens gematig en duidelik en bied ruimte aan Vrystaatse gemeentes na albei kante. Ons vertrou dat die Algemene Sinode dit in Oktober met agting sal ontvang en deeglik oorweeg.”

Die opsies wat naas die gekose besluit die meeste stemme gehad het, het elk 48 stemme gekry.

Die een was om in geheel uit verband met die AS te tree en die ander een om die AS te versoek om die stigting van ’n elfde, teologies-kategoriale sinode moontlik te maak.

Dit is ’n sinode wat gemeentes van dieselfde teologiese siening saamgroepeer.

Die opsie om nie uit te tree nie, maar met die AS in gesprek te tree, het twee moontlike motiverings (’n bylae 18 en 19) gehad. Dit is ’n dokument waarin die NG Kerk Vrystaat sy standpunt oor Skrifgebruik, die bose, die huwelik, selfdegeslagverbintenisse en teologiese opleiding aan die AS deurgee.

Die vergadering het op bylae 19 (149 stemme) besluit, wat volgens Lubbe ook die besorgdhede van bylae 18 (137 stemme) ondervang én terselfdertyd in Oktober deur ander sinodes van die NG Kerk ondersteun sou kon word om die AS ten opsigte van hierdie sake te oortuig.

Knoetze sê dat die uitslag van die stemming tussen die twee bylae so naby was, wys hoe ernstig die NG Kerk verdeel is.

Die KN meen dit is ’n bewys dat indien daar afsonderlik tussen die ses opsies, ’n keuse tussen twee opsies per stemming, gestem was, die behoudende stem groter sou gewees het.

“Bylae 18 verwoord in ’n groot mate die beswaarde gemeentes se standpunt, terwyl bylae 19 met baie woorde op ’n verbloemde wyse die AS se siening bevestig,” sê Knoetze.

Hy sê bylae 19 is ’n omslagtige beskrywing sonder ’n duidelike standpunt.

Volgens hom het die AS verdeeldheid veroorsaak met “sekere besluite wat geneem is wat nie die duidelike riglyne van die Skrif volg nie”.

Behoudende gemeentes wil vashou aan die Skrif en gereformeerde belydenis en sommige gaan verder deur amptelik oor die Algemene Sinode te treur (doleer), verduidelik Knoetze.

Die KN sou onder meer wou hê dat die Vrystaatse sinode die AS se 2019-besluit oor selfdegeslagverbintenisse verwerp en dat daar ’n alternatief wat betref die huidige teologiese opleiding gestel word, sê hy.

Volgens die 2019-besluit kan gemeentes self besluit of hulle ten gunste van sulke verbintenisse is en of hulle gay predikante in die amp wil bevestig.

Sommige gemeentes meen die opleiding wat die drie universiteite wat die AS vir teologiese opleiding geakkrediteer het – die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit Stellenbosch en Universiteit van Pretoria – bied nie voldoende gereformeerde onderrig nie.

Die NG Kerk het egter eie kerklike programme wat aan studente van al drie universiteite as deel van hul teologiese opleiding aangebied word, soos byvoorbeeld in die seminarium van die NG Kerk Vrystaat in Bloemfontein.

Knoetze sê wel die KN het groot waardering vir die behoudende predikante in die taakspan van die Vrystaatse sinode “wat probeer het om weer orde en bedaring” in die Kerk te bring.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui