Pastorale brief aan gemeentes ná Vrystaat Sinode op 18 April 2023

*******

Pastorale brief aan gemeentes ná Vrystaat Sinode op 18 April 2023

21 April 2023

Geagte broers en susters, gemeentes in die NG Kerk Vrystaat –

Ons wil hiermee graag ons dank aan u as gemeentes oordra vir u voorbidding met die oog op afgelope Dinsdag, 18 April 2023, se buitengewone sinodesitting in Bloemfontein. Ons wil óók dankie sê vir elke afvaardiging uit die 153 NG-gemeentes in die Vrystaat; jul bereidheid, moeite en tyd hieraan gewy, word opreg deur ons kerkverband waardeer. Nege gemeentes het verskoning aangeteken weens plaaslike omstandighede en vakatures in leraarsposte, en een gemeente omdat hulle doleer. Met die konstituering aan die begin van ons vergadering was daar 306 afgevaardigdes teenwoordig.

Ons Sinode het in ʼn gees van aanbidding en afhanklikheid voor die Here vergader. Met die sing van die ou bekende Psalms 25 en 42 – “Leer my, Heer, u regte weë” – het ons ons harte en oë op God gerig, diep onder die indruk van Wie Hý en wie ons is; hoe dit met ons kerke gaan en van ons verlange na Sy teenwoordigheid en na heling. Ons het in Lied 477 óók bely: “Christus hou self sy kerk in stand”. Ons het onsself verootmoedig in die lig van Jesus se woorde oor die groot liefdesgebod (Matteus 22:23-59); die woorde van Psalm 51 saam gebid; die genadeverkondiging uit Efesiërs 2:4-5 gelees. Ons het ons lof aan die Opgestane Here uitgesing (Lied 406). Die Skriflesing vir die dag het uit Numeri 9 gekom en dié aangrypende beeld van die wolk van God se teenwoordigheid bokant die Tent van Ontmoeting (die tabernakeltent), het ons deur die res van die dag bygebly; hoe God werklik sy volk Israel op hul groot tog deur die woestyn gelei het, dag vir dag, jaar na jaar. En uit die Nuwe Testament: Dat ons daarom as kerk ons oog só gerig moet hou op Jesus Christus, Leidsman en Voleinder van ons geloof (Hebreërs 12:1-3). Hý is met ons op weg…

Ná die sing van die Onse Vader-gebed (Lied 266), het ons as Ringe openhartig en ernstig besin oor die vraag óf ons as NG Kerk in die Vrystaat uit algemene sinodale verband moet tree of nie. Almal het ‘n kans gehad om deel te neem; daar is opreg na mekaar geluister. Terugvoer uit die ringsgesprekke is met die hele vergadering gedeel. Nóg ʼn keer kon afgevaardigdes hul perspektiewe in ʼn oop gesprek aan die Sinode stel. Hierna het die vergadering in stilte en deur ʼn geslote stemming, met oortuiging besluit om nie uit algemene sinodale verband te tree nie, maar om met die Algemene Sinode in gesprek te tree oor ons standpunte rakende die sake in ons agenda. Ander opsies voor die Sinode om wél uit verband te tree, om as Vrystaatse Kerk in twee te verdeel óf om die Algemene Sinode (AS) te vra vir die stigting van ‘n elfde teologies-kategoriale sinode, het minder steun ontvang. Die implikasie van die besluit is dat die vraag wat in Maart 2022 aan ons gestel was – oor uittrede uit die AS – nou deur die Sinode beantwoord is en dat ons daarmee as NG Kerk Vrystaat die kerkordelike proses rondom Artikel 37 vir óns Sinode, afgehandel het. Ons besef dat daar gemeentes is wat ʼn ander verwagting gehad het en laat ruimte vir teleurstelling in dié verband, maar ons almal het van die begin af ons vertroue in die Here geplaas dat Hý ons hierin sal lei. Daaraan moet ons nou saam vashou.

Dit is belangrik om daarop te wys dat in die voorbereiding vir Dinsdag se vergadering ons álle standpunte aangehoor en die tersaaklike inligting deur die studiegroepe ingewin het, dat daar by streekskonferensies in November wye deelname was en dat die proses ewewigtig en deursigtig begelei is. Uit terugvoer wat ontvang is, het die Studiegroep Kerkverband saam met die Moderamen ses moontlike opsies rakende Artikel 37 vir die NG Kerk Vrystaat bewoord. Dit is in die agenda opgeneem en kerkregtelik verduidelik (in die verslag van die Moderamen), en vroeg in Maart na alle afgevaardigdes en gemeentes uitgestuur. Dit was ook publiek en aanlyn ter insae beskikbaar. Ons het vooraf met mekaar ooreengekom dat hierdie besluitnemingsproses toeganklik en welwillend moes wees, gepas en ordelik moes verloop en ten diepste op ʼn geloofsonderskeiding sou neerkom: Hoe lei God ons nou deur sy Woord en Gees? Só het ons Dinsdag byeengekom en het die hele vergadering sonder besware of onderbrekings verloop – ook hieroor, kan ons as NG Kerk in die Vrystaat dankbaar wees.

Wat is nou die standpunt wat ons as NG Kerk Vrystaat na die AS en ons broers en susters elders in die land wil deurgee, maar ook in ons eie konteks van wil getuig?

Die Sinode het aan die uiteensetting daarvan in Bylaag 19 (hierby aangeheg) voorkeur gegee. Dit lui dat die Skrif en gereformeerde belydenis vir ons die grondslag van ons kerkwees, teologie en bediening is (soos byvoorbeeld oor die Bose); gee ons basiese standpunt rakende selfdegeslagverbintenisse weer; bevestig ons eie bestuur van teologiese opleiding in die Vrystaat én stel ons besorgdhede oor die rol en toekomstige funksionering van die AS. Dit was ook in die Sinode duidelik dat daar gemeentes is wat ten opsigte van sommige van hierdie sake, iets méér of iets anders wou sê. Daarom het ons onderneem om blyke van hierdie verskeidenheid van standpunte in die NG Kerk Vrystaat na die AS in Oktober deur te gee sodat daar nie onduidelikheid sal wees oor die erns waarmee ons hieroor nagedink het en ons getuienis daaroor wil laat hoor nie. Die eerste tree op pad daarheen word in Mei gegee wanneer die algemene moderamen (ASM) se dagbestuur ons Moderamen in Bloemfontein oor ons besluit en standpunte kom ontmoet.

Ons het Dinsdag verder besluit dat die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat met gemeentes waarin daar vrae of besorgdhede mag bestaan, in gesprek sal bly en saam na ʼn welwillende weg vir ons kerkverband hier plaaslik sal bly soek (sien punt 5 van die besluit). Ons wil lidmate, leraars en gemeentes daarom uitnooi om die besluit deur die Sinode geneem, rustig te bestudeer met die oog op ons pad vorentoe. U is welkom om ons daaroor te kontak; ons sal gemeentes met graagte besoek. Die besluit van die Vrystaatse Sinode was immers om nie te verdeel óf mekaar prys te gee nie, maar om saam ons oë gerig op Christus te hou – ons is Sý Kerk hier, geroepe tot ‘n getuienis van liefde, vrede en geregtigheid. Laat ons ons individueel ook daartoe verbind.

Ná die vergadering van die Moderamen in Mei sal ons verdere inligting oor die pad vorentoe met u deel. Mag die Here ons almal seën in die bediening van sy Woord en die versorging van iedereen in nood. Dankie nogmaals vir almal se voorbidding.

Met agting, en hartlike groete –

Ds. Jan Lubbe

Voorsitter: Moderamen.

1 thought on “Pastorale brief aan gemeentes ná Vrystaat Sinode op 18 April 2023”

  1. Het al die afgevaardigdes die werklike stem van gemeentelede verteenwoordig. Daar is Gemeentes waar geen bespreking in hierdie verband was nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui