NGK Vrystaat gaan in gesprek tree met algemene sinode

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NGK Vrystaat gaan in gesprek tree met algemene sinode | Netwerk24

Marita Herselman

18 April 2023

Die Vrystaatse NG Kerk gaan nie uit verband met die algemene sinode (AS) tree nie, maar gaan op vanjaar se AS-sitting in Oktober oor die standpunt van die Vrystaat met die AS in gesprek tree.

Só is Dinsdag met ’n meerderheidstem op ’n buitengewone Vrystaatse sinodesitting in die Geloofsentrum Universitas in Bloemfontein beslis.

Die Vrystaatse moderamen het voorsiening gemaak vir minstens drie stemrondes voordat daar besluit sou word op een van die ses moontlike opsies wat die moderamen voorgestel het.

Die twee opsies met die minste stemme sou ná elke ronde uitgeskakel word totdat ’n finale besluit geneem is.

Dié opsie – om nie uit te tree nie, maar verder in gesprek te tree – het egter al in die eerste stemronde geslaag met ’n volstrekte meerderheid van 186 stemme uit die 299 geldige stembriewe. Dit was ’n geheime stemming.

Altesaam 48 afgevaardigdes het wél gestem om in geheel uit verband met die AS te tree en nóg 48 dat die Vrystaatse sinode eerder die AS versoek om die kerkorde te wysig en ’n elfde, teologies-kategoriale sinode te stig – ’n sinode wat gemeentes van dieselfde teologiese siening saamgroepeer.

Twee afgevaardigdes het gestem dat daar nie nou ’n besluit geneem moet word nie. Ses was ten gunste van die verdeling van die Vrystaatse sinode in twee, waarvan een vergadering dan uit verband met die AS kan tree en die ander nie. Nege lede het gestem dat die sinode nie uit verband met die AS moet tree nie.

Die stemming het geskied ná breedvoerige besprekings in ringverband, nadat talle afgevaardigdes hul standpunte met die vergadering gedeel het en skyfies na aanleiding van die ringbesprekings gewys is.

Die vraag oor of die NG Kerk Vrystaat uit algemene sinodale verband moet tree, is op die Vrystaatse sinodesitting verlede jaar vir verdere ondersoek na die moderamen verwys.

Sommige Vrystaatse NG gemeentes het toe gevra dat die Vrystaatse sinode van die Algemene Sinode wegbreek, onder meer oor die besluit in 2019 oor selfdegeslagverbintenisse.

Volgens dié besluit van 2019, kan gemeentes self besluit of hulle ten gunste van sulke verbintenisse is en of hulle gay predikante in die amp wil bevestig.

Selfdegeslagverbintenisse is egter nie die enigste rede waarom sommige Vrystaatse gemeentes van die AS wou afstig nie; onder die redes is ook hoe die Bybel vertolk word.

Dinsdag se finale besluit het behels dat afgevaardiges uit twee dokumente met standpunte moes kies, wat die NG Kerk in die Vrystaat nou as haar standpunte aan die AS gaan deurgee.

“Ons weet nou waar staan die NG Kerk Vrystaat en dit beteken alle gemeentes sal nou hulself in hul eie bediening aan hierdie besluit kan oriënteer,” het ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk Vrystaat, aan Netwerk24 gesê.

Die dokument wat aanvaar is, stel onder meer dié Kerk se standpunt oor hoe die Bybel gelees word, selfdegeslagverbintenisse, die bose en teologiese opleiding.

“Ons het duidelik gesê wat die Bybel vir ons is – God se woord op skrif, en ons lees dit in die geheel van God se openbaring aan ons en onder leiding van sy Gees.

“Ons het ook gesê daar ís verskillende maniere hoe ons die Bybel kan lees, daarom moet ons dit verantwoordelik, luisterend en saam met mekaar doen,” sê Lubbe.

Wat betref selfdegeslagverbintenisse gaan dié Kerk die AS vra om die 2019-besluit teen die agtergrond van haar drie standpunte in die dokument te vertolk.

Dié standpunte gee nie sy steun of afkeuring van die 2019-besluit nie, sê hy.

Dit was tydens die vergadering duidelik dat daar binne die sinode verskillende standpunte oor selfdegeslagverbintenisse is.

Die dokument stel dat die Vrystaatse NG Kerk die huwelik tussen een man en een vrou beskou en dat sy nie selfdegeslagverbintenisse as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar nie. Die sinode is oortuig dat mense deur die laaste jare se debatte hieroor “seergekry het, verneder en vervreem is” en vra daarom dat dit eerder pastoraal in die veilige ruimtes van ’n geloofsgemeenskap hanteer sal word.

“Ons sê dit gaan oor mense en hul diepste gevoelens, en ons wil dit respekteer, daar is ’n ruimte waarbinne ons nie in groot debatte moet ingaan nie,” sê Lubbe.

Hy sê Vrystaatse gemeentes ten gunste van selfdegslagverbintenisse en dié daarteen sal binne die ruimte van hierdie besluit hul bediening kan voortsit.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui