Steve Hofmeyr sê jammer oor video

Kyk ook Hofmeyr: Die Bybel verskil van die MRK, waarin Pieter de Jager hierop gereageer.

*******

Steve Hofmeyr sê jammer oor video | Netwerk24

Cara-Lee Dorfling

12 Maart 2023

Die sanger Steve Hofmeyr het erken sy onlangse opmerkings teenoor die LGBTQI+-gemeenskap was kwetsend en hy het daarvoor om verskoning gevra.

Hofmeyr het sy verskoning Saterdagaand op Facebook geplaas.

Sy verskoning vorm deel van ’n skikkingsooreenkoms, het dr. Eileen Carter, Oos-Kaapse bestuurder van die Menseregtekommissie (MRK), Sondag aan Netwerk24 gesê.

Dié stap volg ’n paar maande nadat die MRK Hofmeyr in 2022 voor die gelykheidshof gedaag het weens ’n klag wat in April by die kommissie ingedien is weens sy uitlatings in ’n video op sosiale media.

In dié video, wat sedertdien verwyder is, het Hofmeyr oënskynlik daarop gesinspeel dat die “+” in die afkorting LGBTQI+ bestialiteit insluit.

Hy het Disney in die video gekritiseer oor sy besluit om karakters van die LGBTQI+-gemeenskap by sy produksies in te sluit.

OUT LGBT Well-being, ’n organisasie sonder winsbejag in Gqeberha, het hierna ’n klag by die MRK ingedien. Die MRK het in hofstukke aangevoer sy uitlatings kom neer op haatspraak en teistering op grond van seksuele oriëntasie en gedrag.

’n Moontlike skikkingsooreenkoms in die saak het in November verlede jaar misluk. Die verhoordatum vir die saak is vir 31 Julie vasgestel, maar ná Hofmeyr se openbare verskoning is die eerste stap glo gedoen vir ’n skikking in die saak.

“Ek het ’n opmerking gemaak oor die LGBTQ+-gemeenskap (sic) wat tot baie ontsteltenis in baie kringe gelei het.

“Ek erken dat die opmerkings, wat tot die gelykheidshof se verrigtinge gelei het, kwetsend was vir lede van die LGBTQ+-gemeenskap. Ek betreur die seer en aanstoot wat as gevolg van die opmerkings veroorsaak is en vra onvoorwaardelik om verskoning aan lede van die LGBTQ+-gemeenskap, sowel as enige ander lid van die publiek wat aanstoot geneem het deur my kommentaar,” lui Hofmeyr se verskoning op Facebook.

Volgens Hofmeyr het sy prokureur hom ook meegedeel dat daar ’n skikking is in die saak met die MRK en OUT LGBT Well-being wat gedurende die komende week in die gelykheidshof bekragtig sal word.

Carter sê die saak sal Maandag in die gelykheidshof, wat in Gqeberha sit, wees om die skikking ’n bevel van die hof te maak. Die MRK sal eers hierna verdere kommentaar lewer.

In hofdokumente het die MRK vroeër geëis dat Hofmeyr R500 000 skenk aan ’n LGBTQI+-organisasie sonder winsbejag wat die regte van dié gemeenskap bevorder, die gemeenskap skriftelik om verskoning vra, 20 uur gemeenskapsdiens doen en ’n slypskool oor diversiteit en inklusiwiteit bywoon.

Sibonelo Ncanane van OUT LGBT Well-being sê die organisasie sal Maandag na afloop van die hofsitting kommentaar lewer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui