Steve moet R100 000 opdok oor Facebook-video

*******

Steve moet R100 000 opdok oor Facebook-video | Netwerk24

Cara-Lee Dorfling

13 Maart 2023

Die sanger Steve Hofmeyr moet R100 000 aan ’n LGBTQIA+-organisasie skenk as deel van die skikkingsooreenkoms met die Menseregtekommissie (MRK).

Die skikkingsooreenkoms is Maandag in die gelykheidshof in Gqeberha as ’n bevel van die hof uitgereik.

Hofmeyr moet ook binne die volgende drie maande ’n bewusmakingsgesprek oor diversiteit en inklusiwiteit bywoon wat deur die MRK aangebied word.

Die hofbevel volg nadat OUT LGBT Well-being, ’n organisasie sonder winsbejag in Gqeberha, ’n klag by die MRK teen Hofmeyr ingedien het oor sy uitlatings teenoor die LGBTQIA+-gemeenskap in ’n video wat hy verlede jaar op sosiale media geplaas het.

In die video, wat sedertdien verwyder is, het Hofmeyr oënskynlik daarop gesinspeel dat die “+” in die afkorting LGBTQIA+ bestialiteit insluit.

Hy het die video gemaak om Disney te kritiseer oor sy besluit om karakters van die LGBTQIA+-gemeenskap by sy produksies in te sluit.

Die MRK het in hofstukke aangevoer Hofmeyr se uitlatings kom neer op haatspraak en teistering op grond van seksuele oriëntasie.

Voordat die skikkingsooreenkoms Maandag in die hof bekragtig is, het Hofmeyr die afgelope Saterdagaand reeds aan die eerste deel van die ooreenkoms voldoen deur onvoorwaardelik verskoning te vra aan die LGBTQIA+-gemeenskap en enige ander lid van die publiek wat aanstoot geneem het weens sy kommentaar in die video.

Hy het ook erken die opmerkings was kwetsend vir lede van die LGBTQIA+-gemeenskap.

Die hofbevel is Maandag verwelkom deur adv. André Gaum, MRK-kommissaris, wat ook die hoop uitgespreek het dat dit Hofmeyr daarvan sal weerhou om weer negatiewe opmerkings teenoor die LGBTQIA+-gemeenskap te maak.

“Dit is ook ’n baie duidelike boodskap aan Suid-Afrikaners dat dit onaanvaarbare gedrag is en tot groot pyn en leed vir die gemeenskap lei.

“Die MRK sal dié soort aangeleenthede aanspreek. Ons duld nie onbillike diskriminasie met betrekking tot enige van die verbode gronde nie. Dit maak nie saak wie die persoon is wat betrokke is nie, ons sal nie skroom om mense aanspreeklik te hou wat hulle aan dié soort gedrag skuldig maak nie.”

Met die kleurvolle Pride-vlag in sy hand het Sibonelo Ncanane van OUT LGBT Well-being Maandag gesê dié organisasie is tevrede met die uitkoms van die saak.

Hy is wel bekommerd dat Hofmeyr se aanhangers nie hul siening sal verander nie, selfs nadat hy die opmerkings teruggetrek het.

“Op (Hofmeyr) se inskrywing (wat die verskoning bevat), is meer as 300 negatiewe en vieslike kommentaar wat op die LGBTQIA+-gemeenskap gemik is. Dat hulle niks fout sien met wat Steve Hofmeyr gesê het nie, en dink (wat hy sê) is die waarheid, is kommerwekkend,” sê Ncanane.

Hy verduidelik die “+” in die afkorting dui daarop dat die gemeenskap oop is tot ander seksuele identiteite binne ’n breë en komplekse gemeenskap.

“Dit het niks te doen met onwettige identiteite, verkragting, pedofilie of bestialiteit nie.”

Die R100 000 wat Hofmeyr aan OUT LGBT Well-being moet betaal, sal gebruik word vir die versterking van sy program teen haatmisdaad. Dit behels onder meer opleiding en samesprekings met die regering, asook die skep van veilige sones vir geaffekteerde gemeenskappe.

Gaum het by navraag gesê daar blyk ’n neiging te wees met sake waarin die LGBTQIA+-gemeenskap geteiken word en daarom is hofsake soos dié belangrik om ’n duidelike boodskap uit te stuur dat hierdie soort optrede nie geduld sal word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui