Slegs oningeligtes ag die Bybel onbetroubaar

Die volgende artikel is waarskynlik geskryf  na aanleiding van onder andere die volgende artikels:

*****

Slegs oningeligtes ag die Bybel onbetroubaar | Netwerk24

Deur Ds. Pieter Prinsloo, NG Kerk Kroonstad­-Wes (Dolerend)

27 Oktober 2021

Mense wat dink die Bybel is onbetroubaar of selfweersprekend, is óf onkundig óf moedswillig.

Die Bybel leer die betroubare boodskap van God se Koninkryk. Bybellesers se uitdaging is om hierdie Godgegewe, betroubare Koninkryksboodskap te ontsluit vanuit 66 boeke wat geskryf is in vreemde antieke genres. Boonop het God Sy Koninkryksboodskap laat verkondig in antieke tale, antieke verstáánshorisonne (soos destydse wêreldbeelde) en antieke omstandighede (soos die Korintegemeentekonteks).

Al dié faktore moet verreken word voordat moderne lesers die tydlose Koninkryksboodskap kan ontsluit vanuit die antieke verpakkingsmateriaal. Boonop het dit God behaag dat die geheimenis van Sy Koninkryk geleidelik ontvou van die Ou Testament na die Nuwe Testament; die eerbiedige leser moet daarom verreken dat talle offers en seremonies en voorskrifte van die Ou Testament slegs ter voorbereiding was vir Christus se koms, terwyl ander Koninkryksbeginsels geldig bly ná Sy koms.

Die tydlose en betroubare boodskap moet dus ontsluit word vanuit die tydsbetrokke verpakkingsmateriaal. Ondanks sekere teks-kritiese vraagstukke oor die verpakkingsmateriaal, asook oor die ontwikkeling van die kanon (gesagvolle boeke), het God Sy Koninkryksevangelie volkome betroubaar laat bewaar vir ons.

Die betroubare Koninkryksboodskap en die antieke verpakkingsmateriaal waarin dit tot ons kom, vorm op onlosmaaklike wyse die Woord van God. Soms verdedig onversigtige versie-aanhalers ongelukkig hierdie antieke verpakkingstaal as Goddelik geopenbaarde waarhede.

Wat is hierdie samevattende, blywende en betroubare Koninkryksevangelie? Die Skepper-Koning se skepping wat in sonde vasgevang was, word deur Christus verlos. Sy verloste Koninkryksburgers word dankbare evangeliedraers van die Koning se tydlose Koninkrykswaarhede.

Hierdie kernboodskap is dus eenvoudig. Die uitdaging is om élke en álle Koninkrykswaarhede te ontsluit vanuit hul dikwels moeilike verpakkingsmateriaal (dink aan Openbaring). 2 Petrus 3:16 waarsku nie verniet die Bybel het moeilike dele wat deur oningeligtes en onverstandiges verdraai word tot hul eie ondergang nie. Slegs oningeligtes wat nie bogenoemde aard van God se Woord verreken nie, ag die Bybel onbetroubaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui