Tyd dat dolerendes gay mense se verhale hoor

‘n Mens het begrip dat dit vir die Fariseërs ’n reuse paradigma moes wees om te sien hoe “‘n profeet” die sabbat (in hulle oë) so ontheilig het.

Dit is egter glad nie regverdig om hierdie te vergelyk met die homoseksuele kwessie nie:

Dit was Jesus self wat die sabbatswette kom verander het en Jesus het homself baie duidelik as Messias geopenbaar deur die wonderwerke wat hy gedoen het. Die Fariseërs het egter gekies om blind te wees daarvoor.

Ons kan nie, omdat Jesus die sabbatswette verander het, vandag in die 21ste eeu besluit dat ons ook homoseksualteit kan ontsondig nie. Ons moet aanvaar dat wat in die Bybel staan, vas is. Daar is nie ruimte om op hierdie stadium enigiets te verander nie. Slegs God kan dit doen.

Verder is Jackson in geen posisie om te sê dat behoudendes gee begrip vir homoseksueles het nie. ’n Mens moet onderskeid tref tussen die debat en die hantering van homoseksuele mense. Die debat kan soms vurig wees, maar dit sê hoegenaamd niks oor die hantering van die homoseksuele persoon nie.

Vir alle sondige leefstyle is daar versagtende omstandighede: moordenaars, verkragters, diewe en bedelaars kan waarskynlik almal getuig van nie-ideale grootword omstandighede. Dit kan egter nie as verskoning gebruik word om voort te gaan met hierdie leefstyl nie. Daar moet gebreek word daarmee.

Kyk ook Skrif word aangepas by menslike begeertes (4 Nov 2021) waarin Pieter Prinsloo reageer op hierdie brief.

******

Tyd dat dolerendes gay mense se verhale hoor | Netwerk24

Deur Neels Jackson, Pierre Van Ryneveld

25 Oktober 2021

Ds. Pieter Prinsloo van die dolerende NG kerk Kroonstad-Wes se brief “Dolerendes nie teen herinterpretasie van Skrif” (19.10) het betrekking.

Die een voorbeeld wat ds. Prinsloo noem om sy growwe beskuldigings van die ontkenning van Skrifgesag in die NG Kerk te ondersteun, is sy stelling dat God se wil oor die huwelik aangepas word onder druk van die LGBTQI+-beweging.

Die dolerendes maak van die huwelik presies wat die Skrif­geleerdes in Jesus se tyd van die sabbat gemaak het: die absolute toetssteen vir die wil van God.

Net soos die Skrifgeleerdes en Fariseërs sou wou hê dat iemand nie genees word nie eerder as dat dit op die sabbat gebeur, sal die dolerendes gay mense eensaam en gefrustreerd laat bly eerder as dat hulle liefdevolle, getroue en permanente verbintenisse met die lewensmaats van hul keuse het.

Jesus het destyds gesê die sabbat is vir die mens gemaak, nie die mens vir die sabbat nie.

As ’n mens Genesis 2 as die instelling van die huwelik wil lees, sal ’n mens sien dat God se beweegrede daar is dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie.

God gee om vir Adam en gee hom daarom ’n maat. Die huwelik is vir die mens gemaak, nie die mens vir die huwelik nie.

Ek merk by die dolerendes geen begrip vir gay mense se worsteling en pyn nie. Daar is geen omgee nie.

Daarom dat hulle so maklik kan sê gay mense moet selibaat bly, hulle, anders as Adam, mag nie ’n lewensmaat hê nie.

Jesus het na die siekes van sy tyd se verhale geluister. Ek dink dis tyd dat die dolerendes ernstig na gay mense se verhale gaan luister.

Die godsdienstige leiers van Jesus se tyd het baie erns gemaak met die Skrif, maar hulle het die hart van God se wil, naamlik die liefde, gemis.

Die dolerendes moet versigtig wees dat hulle nie dieselfde fout maak nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui