Moet vroue weer kerkhoed dra?

Kyk die volgende reaksies op Neels Jackson se skrywe hieronder:

********

Moet vroue weer kerkhoed dra? | Netwerk24

Deur Neels Jackson, Pierre van Ryneveld­

15 Oktober 2021

Ds. Piet Otto se brief “NGK se treurendes het een gebed en een doel” (12.10) het betrekking.

Ds. Otto beweer die groot probleem in die NG Kerk (NGK) is dat talle predikante nie meer die Bybel as die hoogste en finale gesag vir die leer en lewe van die NGK aanvaar nie.

Ek dink ds. Otto is verkeerd.

As ’n lidmaat van die NGK en as ’n joernalis wat nou al langer as drie dekades lank oor die NGK skryf, sien ek dit nie.

Wat ek wel sien, is verskille oor hoe die Skrif verstaan moet word.

Ds. Otto het dit daarteen dat die Bybel geherinterpreteer word.

Ek wil weet hoe verstaan ds. Otto 1 Kor. 11?

Daar is ’n uitvoerige argument waarom vroue hul koppe in die erediens moet bedek.

Die NGK het dit baie lank as ’n Skrifwaarheid gesien waarvolgens vroue hoede moes opsit kerk toe. Maar toe, sowat 40 of 50 jaar gelede, het die NGK dié teks geherinterpreteer. Daar is besef dat die kulturele redes waarom Paulus destyds wou hê dat vroue hul hoofde bedek, vandag glad nie meer bestaan nie.

En daarom het die NGK gesê­ dis nie langer nodig dat vroue hoede kerk toe dra nie.

Op dieselfde manier is tekste wat vroeër verstaan is as ’n verbod dat vroue ouderlinge of predikante mag word, geherinterpreteer.

Daar is weer gekyk na tekste wat vroeër gebruik is om apartheid te regverdig en die NGK het besef dat hy die Bybel verkeerd verstaan het.

Dit is deel van die NGK se gereformeerde erfenis om telkens nuut na die Bybel te kyk en te vra of ons dit reg verstaan het of nie.

Daarom word tekste geherinterpreteer.

As die dolerendes daarteen gekant is, gaan hulle nou weer verwag dat vroue hoede kerk toe moet dra?

Wil hulle vroue die kansel belet?

Wil hulle terugkeer na apartheid?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui