Kan die NG Kerk net eerlik wees oor die toekoms?

Kan die NG Kerk net eerlik wees oor die toekoms?

Dubois du Toit

22 Junie 2022

Baie is die laaste paar jaar oor die Algemene Sinode (AS) van die NG kerk se SGV besluit van 2019 geskryf wat vasgeloop in ons “ruim huis” is. Maar eintlik het die AS ‘n baie groter ruim huis ingedagte, maar min mense besef hoe ruim dink die AS.

Deur Droom Scenario 2030 van die AS in beplanning, word daar van ‘n reuse nuwe kerklike verband gedroom as Alternatief vir die huidige NG kerk, want dit moet Reformerend-ekumenies wees, inklusief en relevant om hedendaagse lewenskrisisse aan te spreek, vloeibaar in ‘n post-moderne wêreld, sodat besluite, aksies en prosesse nie verhinder word deur modernistiese, patriargale hiërargieë nie.

Dit sal ’n nuwe getransformeerde gemeenskap wees soos Jesus se bedoeling met SY kerk as SY liggaam (Joh 17, Ef 4). Hierdie “Een Liggaam van Reformerende Geloofsgemeenskappe” kan begin met vyftien geloofsgemeenskappe in Suidelike Afrika wat reeds in verhouding staan met die NG kerk uit sendingywer en samewerkingsvennootskappe. Die NG kerkverband sal dus opgeskort word hierdeur.

Ek pleit dat die AS vir elke lidmaat in die NG kerk die inligting en implikasies sal bekend maak op grondvlak, om so gou moontlik oor die skok kom en te rou oor dinge soos bv. Inklusiewe taal, eiendomme en bates vir almal se welsyn, watter Belydenisgrondslag bv Belhar, die NG kerk se naam wat gaan verander, diversiteit in liturgie en Woordverkondiging en Sinodale strukture wat kan verander.

Wat gaan opgeoffer word? ’n Gereformeerde eksklusiewe kerk gegrond in die Woord en Belydenisskrifte waar “sonde, verlossing en dankbaarheid” ons identiteit vorm, wat in ’n ruim, inklusiewe huis plek sal moet maak vir relevante etiese en dogmatiese verskille oor aborsie, genadedood, Selfdegeslag-verhoudings, seksuele oriëntasie en -identiteit, saamwoon, die bestaan van die duiwel, eenheid, versoening, geregtigheid – almal se Skrifbeskouings sal gebalanseer moet word. As lidmate dit solank kan verwerk, hoef dit nie af forseer te word deur die AS nie en kan elke lidmaat self ’n ingeligte besluit hieroor neem.

2 thoughts on “Kan die NG Kerk net eerlik wees oor die toekoms?”

  1. Ek het hierdie “Droomscenario 2030” op internet opespoor. Ek het ook die VV se “2030 Scenario” op internet gespoor asook die “World Economic Forum” (WEF) se soortgelyke scenario. Die belyning van die NGK se beplande “droomscenario 2030” gebruik soortgelyke begrippe. Toeval? Of het die NGK se AS nou die pad gekies vir finansiële welvaart en internasionale aansien in die plek van Geestelike stabiliteit in Jesus Christus as Verlosser?
    As hierdie inligting korrek is, dan loop die NGK ’n parallelle pad van radikale transformasie soos wat Jacob Zuma met sy “radical transformation” gedoen het. Hoekom nou?
    Dis hartseer!

  2. Baie dankie vir hierdie inligting. Ons neem met groot skok kennis van die pad wat ons leiers in die AS gekies het om te loop. Dis bitter moeilik om te glo, wat nog te sê aanvaar …..

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui