Ope brief aan Ds Dirkie van der Spuy

Somerset Morkel het die volgende ope brief aan ds Dirkie van der Spuy geskryf na aanleiding van sy reaksie op die 2015 NGK homoseksuele besluit. Kyk Nelis Janse van Rensburg en Dirkie van der Spuy oor die 2015 NGK homoseksuele besluit (10 Okt 2015).

********

OPE BRIEF AAN DS DIRKIE VAN DER SPUY, VISE-MODERATOR/ASSESSOR VD NG-KERK

Deur Somerset (Sommie) Morkel, Posbus 12031, Queenswood 0121

E-pos: khwezi@mweb.co.za

20 Oktober 2015

Ek weet nie eens of u hierdie brief gaan lees nie.. Daar is nou al so baie oor die saak gesê.. Maar hierdie is meer op ’n persoonlike vlak – iets wat baie lidmate van die NG-Kerk dalk beleef. Ek het lank geworstel, gewroeg en gebid om hierby uit te kom. Want my hart is seer.. My worsteling staan in die lig daarvan dat ek self ’n sondaar is en self elke dag met sonde worstel. Dit dryf my na die Kruis.

Ek het baie geskryf – uit my hartsoortuiging uit. Die meeste het ek uitgevee. Maar omdat dit ’n ope brief is, moet ek ter wille van ander duidelik wees, al klink dit soms kras.

Ek vra by voorbaat verskoning vir sommige wyses waarop ek my uitdruk, maar: weens die feit dat ons nou hierdie punt met die NGK bereik het, kan ek nie anders nie.

Feit is: Wanneer ’n rolmodel dan val, is die pyn groot. Veral as dit ’n man is op wie jy gereken het. Maar dan word jy weer herinner aan God se Woord: “Wie volhard tot die einde toe, sal gered word.” En: “Moet op prinse nie vertrou nie”.

Ek was verbaas: Ek het gewonder waarom u tot die moderatuur van die Algemene Sinode van die NG-Kerk verkies is – en so byna-byna tot moderator. Ek het gehoop dat dit ’n goeie teken is: Dirkie van der Spuy, na wie ek oor baie jare opgesien het en vertrou het, kan goeie invloed uitoefen op ’n kerk wat al oor jare aan die dwaal is. Toe die besluit deur die Alg Sinode geneem is oor homoseksuele persone, het ek gewonder waarom u nie terstond bedank het uit die moderatuur nie.

Ek wou aan u ’n persoonlike brief skryf om te vra waarom nie, want dit rym nie vir my met die Dirkie van der Spuy wat ek geken het nie – die een van Moreletapark NG-gemeente. Die een wie ek as Hoof van Buitelandse Sake se kerke-lessenaar destyds genooi het om ons Bybelstudie-groep op hoofkantoor toe te spreek. Die een wie ek as ouderling by NG-gemeente Riviera na geluister het oor hoe Moreletapark as gemeente vir Christus funksioneer.

Toe sien ek die onderhoud met u en die nuwe moderator waarin u die Sinode-besluit verduidelik. Luister weer na uself hier, want u sal nog hierdie in die toekoms vorentoe hierdie woorde sluk, so seker as wat vandag vandag is: Algemene Sinode 2015 – Selfdegeslagverhoudings

U het duidelik perspektief verloor op wie God is. Want die God wat die NGK tot die besluit gebring het, is nie die God van die Bybel nie, inteendeel: Dit is die god van hierdie wêreld.

Erg is: U weet van beter, maar u het duidelik ingekoop in die kompromie-denke om van die NG-Kerk ’n humanistiese mens-georiënteerde ‘spyskaart-kerk’ te maak – mense kan kies wat hulle wil doen, “niks word afgedwing nie” en u is “gemaklik daarmee”.

Ds Dirkie: Die kerk van Jesus Christus, die HERE, is nie veronderstel om ’n demokrasie met ’n spyskaart oor wat waarheid is vir wie, wanneer en hoe ookal nie, te wees en ‘navorsing’ (á la die nuwe moderator) te doen oor dinge wat in die Woord duidelik is nie.

Die Kerk moet as roeping van God die waarheid verkondig téén die tydsgees in, veral, anders is dit nie meer kerk van Jesus van die Woord nie – maar het ’n sosiale klub geword, ’n restaurant met ’n keuse op die spyskaart.

Een predikant in Amerika het destyds vir my in New York oor sy eie kerk gesê (Reformed Church of America): “It has become a club where you go to on Sundays where they tell you what a nice guy you are.” Dit is waar die NGK nou is. Kyk hierdie uitstekende artikel oor die kerk as klub: Dear American Church … I Am Not Renewing My Membership This Year

Selfs die charismatics het nou al raakgesien waar die NGK haar bevind, nl. as deel van die groot verval en afvalligheid van die laaste dae: Another Denomination Slips Into the Great Falling Away

Die NGK se Jesus is ’n ‘ander Jesus’, en die NGK se evangelie is ’n ‘ander evangelie’ – sonder bekering, sonder oproep tot bekering voor die kruis van Christus. ’n Eensydige Jesus word nou verkondig en daar is net sprake van, wel, “Liewe Jesus”. Die genade en liefde word nou humanisties-eensydig beklemtoon en die kruis en bekering van sonde word onderslaan. ‘Menswaardigheid’ staan nou sentraal. Dit is dodelik, want dit is humanisties. Daar word nou uit ’n humanistiese bril na Jesus gekyk. Dit tas in wese sy godheid aan want daar word afskeid geneem van Sy probleem met sonde – waarvoor Hy gesterf het. Deur lg te ontken m.b.t. sonde. is volgens die Skrif om die bloed en die kruis van Jesus te vertrap en die genade goedkoop te maak en uit verband te ruk in terme van menslike denke oor God – i.p.v. om te buig voor die Woord wat Hy as openbaring gegee het.. Soos iemand iewers gesê het: “Jesus has left the building.” Die uiteinde is akademiese taal in mooi ‘demokratiese’ woorde wat die leuengees weerspieel en wat God uitsluit en Sy Woord misken – asof daar ander opsies buite die Skrif (of selfs daarbinne) kan wees wat deur ‘navorsing’ ontsluit kan word. Dit lei tot deformasie, weg van Reformasie af.

U standpunt nou is nie die standpunt van ’n man van die ware Christus wat by die Waarheid van God se Woord staan nie, soos hy voorheen gedoen het, toe hy, Dirkie van der Spuy, nog ’n vaste rots vir die waarheid was nie.

Die tragiek daarvan wil mens laat huil in jou hart – omdat u nou deelneem aan die misleiding weg van God se Woord af en mede-verantwoordelikheid vir die verdediging daarvan neem. U is nou soveel ’n werk vir bekering terug na die ware Christus as wat die liberale teoloë, Sodomiete en Vrymesselaars in die NG-Kerk self is.

Ek verneem elders dat u persoonlike standpunt die is van die huidige NG-Moreletapark. Is dit korrek? Ek hoop nie so nie. Indien wel, hoe kan u so duplisisties wees? Dit is om met ’n gesplete tong te praat. Dis een of die ander, nie altwee nie. Dit sou u integriteit en geloofwaardigheid aantas as spreker vir God se wil, en dit afbreek. Mens kan nie so iemand soos u nou is en waar u nou in die openbaar staan, vertrou nie. U kan nie u amp in die moderatuur skei van u persoonlike belydenis nie, want deur dit te doen verloën u beide uself EN Christus Jesus. U is die lidmate, uself en die gemeenskap dit verskuldig om duidelik te maak waar u in wese staan, nl. by watter een van bg twee standpunte. Ek neem egter aan dat u in elk geval die keuse reeds voorheen gemaak het, nl. voordat u tot die moderatuur verkies is, want die video hierbo reflekteer u openbare standpunt.

Kern in hierdie hele saak is Christus Jesus as Verheerlikte, Gekruisigde en Opgestane Heer. Sy werk is deur hierdie (en ander, vorige) ‘besluite’ (en sg. ‘navorsing’) deur die Alg Sinode aangetas, gekontamineer en tersyde gestel. Dit is die dwaalweg. En u vergoeilik dit nou. Dis pynlik vir my.

My oproep tot u is: BEKEER u tot waar u vroeër was – en waar u ’n voorbeeld van die mens wat vir God staan in die waarheid, was. Gal 1:8-10. As dit vir u nie meer betekenis het nie, skeur my hart vir die toekoms wat u besig is tegemoet te gaan: buite die wil van God. Die einde daarvan is skrikwekkend. Mag die Here u genadig wees!

Bekeer u en draai weg van die dwaalweg van misleiding, weg van Vrymesselaarsdenke, sg ‘navorsing’ oor die saak, ‘ruimte’ vir blatante doodsonde, humanistiese waninterpretasie en verdraaiing van die Skrif as Woord van God en die weg van duisternis waarop u nou is.

Kyk wat het die NGK nou met die heilige instelling van die huwelik as beeld van Christus en Sy bruid, die kerk, gedoen deur enersyds te verklaar dat die definisie van ’n huwelik vir die NGK nog is tussen een man en een vrou. Maar aan die anderkant is daar ‘ruimte’ vir predikante wat kans sien om burgerlike verbintenisse tussen homoseksueles kerklik in te seën.

Dit is ’n duplisisme en is dualisties in die kern . U en die NGK dwaal in die humanistiese dualisme in ten einde die punt verby mense te kry. Maar: U het die huwelik soos God dit in absolute terme definieer, geminag en afgeskryf. U spreek met gesplete tong: let op die woordspeling: In kort: Kyk vir die sleepsel van die slang.

Die Dirkie vd Spuy met wie ek geassosieer het, was m.i. ’n ‘dierbare, eerbare, sterk en wonderlike kind van die Here’. So het ek hom geken. U is dit nou nie meer nie, maar u is nou ’n vyand van Christus Jesus, of u nou so dink of nie.

Indien u vir Christus is, sou u na die besluit van die Alg Sinode bedank het as Assessor. Nou vergoeilik u met gladde tong die drek wat vanuit die hel self kom.

Dit is waarnatoe kompromie jou bring: Die waarheid van God se Woord staan nie meer sentraal nie en is nie meer primêr nie. Dan word mens ’n vals profeet. Ek stel dit onomwonde: U is nou een. En ’n vals profeet is volgens die Skrif ’n leuenaar en staan onder God se oordeel, skriftuurlik duidelik – tensy hy hom bekeer van sy sondige leuens.

Ek was 22 jaar in die buiteland as diplomaat (VSA, Duitsland, Nederland, Ierland, Verenigde Koninkryk, Afrika), en het ondervinding met alle soorte kerke vanoor die totale spektrum, gehad. Ek kon oor die jare eerstehands sien hoe kerke wat wegbeweeg van die gesag van die Woord, degenereer en deformeer en uiteindelik basies humanistiese Satans-klubs word wat nie veel beter is as Sataniste-‘covens’ nie, maar met die verskil dat hul ’n Christelike naam het met ’n Christelike sousie oor, want hulle maak mense ryp vir die hel, maar in die Naam van God. Die NG-Kerk is nou ook daar, maar die NG-Kerk is ver agter sommige van daardie kerke – sommige van daardie ouens ‘bless’ nou al aborsie-klinieke.. Die Nuwe Gay Kerk sal wel nog daar uitkom, ook.

Gaan u dit ook verdedig en ‘ruimte’ daarvoor laat?. En u is deel daarvan? U het verder geval as wat u besef: U dink u staan nog.. Ek wil waarlik en werklik niemand laat hel toe gaan nie, inteendeel. Maar die Skrif is duidelik: Daar is ’n hel en God verdoem mense daartoe. Maar die NGK lei nou openlik mense na die hel, want diegene wat hul tot Christus Jesus behoort te bekeer, hoef nou nie meer nie. Hul sonde word openlik geakkommodeer en geherdefinieer tot geen sonde nie.. Dit is erge misleiding, veral as dit in die Naam en liefde van Christus gedoen word, want u en die NGK Alg Sinode verteenwoordig nou ’n ‘ander evangelie’ wat volgens die Skrif ’n ‘vervloeking’ is.. Deur u herdefiniëring het u soos die Fariseërs die Woord van God kragteloos gemaak, soos Jesus aan die Fariseërs gesê het – en maak u nou u dissipels en volgelinge twee maal so ryp vir die hel as wat hul voorheen was, weer eens in die woorde van Jesus.

Die Alg Sinode (insl uself) en gemeentes en predikante wat die besluit aanvaar en verwelkom, is nou na my mening ’n Sinagoge van die Satan waar met ongoddellikheid gehoereer word. Ek wil nie totaal veralgemeen nie: Die caveat bestaan steeds dat daar poele van waarheid binne die NGK is. Maar duidelik is u nie deel daarvan nie.

Hoe kan lig met duisternis gemeenskap hê? Die Skrif is duidelik: Draai van sulke mense af weg. Moenie gemeenskap hê met hulle nie. Dit is God se opdrag in die Skrif. Gemeentes en predikante wat dus die Alg Sinode se besluit verwerp, moet diep hieroor nadink – maar daar is nie eintlik veel om oor na te dink (of sg. ‘navorsing’ te doen) nie. Net bekering bly oor, terug na die waarheid, weg van die dodelike kanker af.

Indien daar wel ‘navorsing’ gedoen moet word oor die saak, sal die NGK ook die volgende uitstaande bronne raadpleeg, nl. Homosexuality and the scientific evidence (waar die jongste wetenskaplike navorsing oor homoseks te vinde is – en dit is nie in die Nuwe Gay Kerk se guns nie) en ook Dr. Robert A.J. Gagnon asook soektog vir “homosexuality” op www.ligonier.org. U sal daar vind dat die argumente van die Taakspan van die NGK oor hierdie saak effektief weerspreek word en hul sielkundig-humanistiese eksegese ontmasker word. Terloops: die Taakspan se verslag aan die Alg Sinode is een van die swakste dokumente oor so ’n ernstige saak wat ek nog ooit gelees het – en ek het baie dokumente by sinodes, kerkvergaderings, e.s.m. oor 22 jaar in die buiteland onder oë gehad. Dit is ’n prag-voorbeeld van klimaatskepping. Selfs ’n pleb soos ek egter kan die gate sien in die argumentering en in die omgang met die Skrif. Die Skrif-voorbeelde wat gebruik is, word misbruik en half-weg beredeneer, asook uit konteks van die Skrif aangehaal. Die Ou Testament (voor Christus) en die Nuwe testament word nie in perspektief geplaas nie. Christus se Kruiswerk en Bloed as Redder van sonde en bekering en berou oor sonde word totaal geignoreer, en nêrens eens genoem nie.. Die Skrifwoorde oor homoseks (Sodom) word gerelativeer en gerelegeer tot relatief tot ‘destyds’ se wêreldbeeld – asof God ook verander, soos die wêreldbeeld verander. (Sê die Skrif nie êrens in Hebreërs dat Christus “gister, vandag, more en tot in ewigheid, dieselfde” is nie?). Deurgaans word die ‘menswaardigheid’, ‘pyn’ en ‘swaarkry’ van ‘gays’ beklemtoon en aanbevelings en manipulatiewe klimaatskepping op grond daarvan gemaak, maar terselfdertyd ‘bely’ dat ‘die Woord’, ‘die Gees’ en ‘die Gereformeerde tradisie’ die deurslag moet gee = lg. is werklik alles leuentaal in die konteks van die verslag. Daar word geskryf van die wonderlike permanente verhoudings en ‘commitment’ van homoseksuele paartjies wat graag die seën van die kerk wil hê omdat hulle Christene is, ens. Natuurlik word nêrens melding gemaak van die stinkend-vuil-perverse aksie van veral anale seks by manlike homoseksueles nie. Op elkeen van die Taakspan se argumente in die verslag is daar ’n klinkklare antwoord in die Woord. Die NGK (Nuwe Gay Kerk) is inderdaad op ’n Nuwe Gay koers wat na die verderf lei…

Dit is ’n tyd van ernstig bid vir onderskeiding. Maar daar is geen tyd of ruimte meer vir kompromie nie. Kompromie het die NG-Kerk gebring waar hy vandag is. Ek se dit o.g.v. vorige besluite van die Alg Sinode soos m.b.t. die duiwel en ook m.b.t. Belhar en ander sake soos saamwoon voor die huwelik. Geen ware Christen kan homself en sy kinders aan hierdie blatant-duiwelse dwaalleer van die NGK se Alg Sinode blootstel nie.

Matt Walsh skryf: “No, Christianity Should Not ‘Welcome’ or ‘Include’ Your Sinful Lifestyle. Jesus never uttered the word “lifestyle,” much less did He preach that they all ought to be tolerated. Recently, we’ve started referring to sins as “lifestyles” and pretending that this rhetorical maneuver somehow changes the morality of the issue. It doesn’t. A sin is still a sin, and He instructs us all to “go and sin no more” (John 8:11), which often means dramatically altering our lifestyles. Indeed, when people came to follow Him in Scripture, He told them to first leave their earthly pleasures behind and then continue along the road (Luke 18:22). He made it very clear that there is in fact a correct lifestyle, a correct way to live, and that way is narrow. Matthew 7:13 tells us the broad and “inclusive” road is the one that leads to damnation. You must choose, then, to walk through the right path, the narrow path, but it will be difficult and demanding, and it will not and cannot be widened to include you.”

U staan nou self voor d situasie dat u as persoon tog sekerlik nie kan weier om te kies om nie as Dirkie van der Spuy self ongoddelike ‘huwelike’ te voltrek en in te ‘seën’ nie. Gaan u daaraan deelneem? U het nou ’n selfgeskepte ‘morele’ verpligting om dit te doen, want u het deelgeneem en verantwoordelikheid aanvaar met u vergoeiliking daarvan aan die verloop van sake soos dit nou staan. Dit is een konsekwensie van die besluit waaraan u deelgeneem het.

Deur die heilige instelling van die huwelik aan te tas het u en die NGK nou die deur oopgemaak vir verdere konsekwensies. Watter gronde het u en die NGK nou moreel om een man met meerdere vroue nie in die huwelik in te ‘seën’ nie? Of andersom? (Poligamie). Wat van Poliamori: nl. seksuele verhoudings met meerdere ander met hulle toestemming? Of om ’n kommune van homoseksueles in die ‘huwelik’ in te seën nie? Wat van bi-seksualiteit (seksueel na beide kante toe) : Indien mense kom na die NGK om in te ‘seën’ dat hul ’huwelik’ dit bevat? Of gaan die NGK dan nou sy eie definisie of grense daarstel, nadat God se grense deur die NGK versaak is? Sal daardie nuwe grense dan nou geld tot die tydsgees weer die Algemene Sinode daarby bring om sy eie nuwe definisie te verander? En sal u dan mede-verantwoordelikheid neem daarvoor? Die probleem en dilemma waarin u nou is, is dat of u nou of later by so n nuwe (vloeibare) gruwel-definisie betrokke is of nie, u het reeds verantwoordelikheid daarvoor weens die stap wat u nou geneem het, die duisternis in. Verwag u dat God in Sy genade saam in so ’n stap sal ingaan wat deur humanistiese denke deur die mens self bepaal is? God se genade het immers grense soos deur die Woord daargestel vir Sy Koninkryk? Sy genade het intrinsiek met bekering te doen. Sien u nie waar u u nou bevind nie? Die Vader sal in Sy genade voortgaan om mense wie Hy kies as Sy eie, tot Sy eer uit te haal daaruit deur hulle te trek deur bekering terug na die Lig in Christus Jesus, die Kruis en die Opstanding. Maar Hy sal virseker nie Sy seën gee op die werke van die duisternis nie. Mag Hy u daar uithaal!

Persoonlik glo ek dat die tyd ryp is vir ware kinders van die Here om uit die NG-Kerkverband te tree, want die NGK se Algemene Sinode (en u daarby ingesluit) hoereer nou buite God se koninkryk. Jammer om so hard te wees, maar: Dit is rebellie teen God en Sy skeppingsorde van man en vrou. Hoe kan mens nog binne so ’n kerkverband bly en deel wees daarvan, wat die Satan openlik dien en hoereer in rebellie teen God met hul goedkeuring van ’n perverse leefstyl (eerder doodstyl)?

Hier is ’n voorbeeld van man wat die Here se pad geloop het: Raised by gay parents, he shocked them by coming out as Christian – and then a pastor. Volgens die NG-Kerk-Taakspan is dit die uitsondering – en is dit eintlik ’n probleem wat spanning veroorsaak. So ’n uitsondering is nie vir Christus belangrik nie? Hy, Christus Jesus, sal vir seker nie Sy seën oor die Nuwe Gay kerk uitspreek nie. Sy weg is anders – Christus sal aanhou om mense te red van die dóódstyl wat u nou bevorder. En die uiteindelike konfrontasie met Christus gaan nie goed wees vir u-hulle nie.

Gays sal nooit totaal aanvaar word soos die Nuwe Gay kerk dit nou gedoen het nie, nl. om ‘ruimte’ vir hulle sonde te skep nie. Die Waarheid van Gods Woord, nie humanistiese denke nie, sal altyd die maatstaf bly – want die waarheid kan nooit verander nie, en dit haal mens later in, op watter vlak ookal, wanneer ookal. Homoseksueles sal deur ware kinders van die Here altyd na die kruis van Christus gewys en begelei word. Die getuienis teen diegene van hulle wat in rebellie teen God bly, sal dus altyd weer by hulle uitkom – tot en met die finaliteit van die oordeelsdag toe.

Die tragiek is nou dat die NGK – met u inkluis – hulle nou die ‘ruimte’ gee om die pad na die hel te loop, en hulle sowaar aan te help op die pad van vermyding van bekering tot die Kruis en op pad na die ewige verdoemenis.

Die ergste vir my is dat u dit weet: U wéét dat u weet….

Jes 66:2-5 stel dit so duidelik: “Ek het alles gemaak en so het alles ontstaan, sê die Here. Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord….Hulle het besluit om hulle eie kop te volg, hulle is lief vir hulle afskuwelike afgodsoffers.

Daarom besluit Ek dat hulle gestraf moet word en bring Ek verskrikking oor hulle. Toe Ek geroep het, het niemand geantwoord nie, toe Ek gepraat het, het niemand geluister nie; hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë, hulle het gekies vir wat My nie aanstaan nie. Hoor die woord van die Here, julle wat ontsag het vir sy woord…”

Wat gaan u, ds Dirkie, se keuse wees?

Somerset (Sommie) Morkel, Posbus 12031, Queenswood 0121

E-pos: khwezi@mweb.co.za

EDIT 21/10/2015

Hier is Ds van der Spuy se antwoord

Somerset,

Ek erken die ontvangs van jou epos en dat ek dit wel gelees het, hoe pynlik jou veroordeling ook al was.

Ek het jou e-pos aangestuur vir die vervaardiger van die video waaruit jy jou afleidings gemaak het en waarna jy verwys het, waar daar slegs 3 minute gesny is uit ’n 15 minute opname.

Ek verseker jou dat ek hierdie brief na die Here gevat het en Hom vertrou om met my verder hieroor te praat.

Seënwense

Dirkie van der Spuy
Leier: Moreletapark Assosiasie
T: 012 997 8066

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui