Staan op vir jou kerk, moenie die NG Kerk verlaat nie

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Staan op vir jou kerk, moenie die NG Kerk verlaat nie | Maroelamedia

Dawie Botes

20 Oktober 2015

Wat die Algemene Sinode van 2015 betref, is daar met groot teleurstelling kennis geneem van ingrypende besluite. Die bloot emosionele besluit van die Algemene Sinode vír gay huwelike wys dat die kerk toe nie bo die tydsgees kon uitstyg nie.

Die Bybel moet ons enigste rigsnoer wees vir alle besluite, anders raak ons bloot ’n sosiale vereniging wat mense napraat en geen beginsels meer het nie. Met hierdie besluit is net geluister na die samelewing en drukgroepe, en gekyk na tendense in die samelewing. Ons moet die moed hê om te sê: So sê die Here in sy Woord – punt en klaar. Ons is gereformeerd en staan by die Woord waarin ons glo en waaraan elke besluit eers deeglik getoets moet word. Dit is nie by die sitting van die Algemene Sinode gedoen nie.

Die pas afgelope geleentheid het opnuut bevestig dat die Algemene Sinode sy rug stelselmatig keer op wat ons as gereformeerdes deur die eeue heen glo en bely. Alles dui daarop dat die Algemene Sinode die gereformeerde weg byster geraak het. Dit het in ’n magsetel verander, waarin die selfstandigheid van plaaslike gemeentes geminag word deurdat die Algemene Sinode eensydige besluite neem waarin die plaaslike gemeentes nie geken word nie.

Die spanning oor verskille gaan vorentoe net groter word. Die Algemene Sinode word nou gekaap deur ’n klein groepie wat die debatte met emosie oorheers. Dit kan nie meer toegelaat word nie. Daarom moet daar liefs weer besin word oor die moontlikheid om eerder uit te tree uit die Algemene Sinodale band sodat elke streeksinode eerder die vrae in eie verband hanteer.

Dit was die geval voor 1962 in die Federale Raad van Kerke. Dit is ’n ingrypende voorstel, maar sal op lang termyn tot behoud van die kerk dien. In so ’n federale stelstel kan ook ander kerke tot ons familie bygevoeg word en op beginselsake wat die kerk raak, gefokus word. Die NG Kerk kan nie nog een sitting van die Algemene Sinode bekostig nie. Daarom my beroep aan elke streeksinode: Tree uit die verbintenis met die Algemene Sinode. Sy besluite gaan vorentoe net nog skokkender word.

Wat kan jy as lidmaat, kerkraadslid en dominee tans aan die saak doen?

Eerstens moet jy bid en alles aan die Here opdra in gebed. Hy hoor en Hy is almagtig. Tweedens weet ek dat gay persone met empatie en liefde hanteer word in die gemeentes. Dit is die weg wat ons as gelowiges met mekaar moet loop in die Here.

Prakties kan jy as lidmaat, kerkraadslid en dominee die volgende doen:

Maak seker dat jy reageer met ’n brief of e-pos aan jou kerkraad, asook dat jou kerkraad op ’n amptelike kerkraadsvergadering aandring op ’n buitengewone streeksinode. Gee goeie redes waarom jy so ’n sinode aanvra.

Gaan bid dan verder oor wat die streeksinode te doen staan. Tans is dit belangrik dat elke streeksinode uit die Algemene Sinodale band tree. As jou streeksinode nie wil voldoen aan die versoek nie, kan julle as gemeente altyd die kerkordelike weë ondersoek om by ander streeksinodes in te skakel en uit jul huidige sinode te tree om sodoende ’n ander groep in die NG Kerk, saam met ’n ander streeksinode, te vorm.

Staan dus op vir jou kerk. Moenie loop nie, veg vir jou kerk. Doen alles om die NG Kerk te suiwer. Die punt bly, van die almagtige Algemene Sinode moet daar nou ontslae geraak word, en sommer baie vinnig in die komende jaar. Bid oor die sake en leef elke dag naby aan die Here. Ondersoek ook jouself. Wanneer ons sê dat die Algemene Sinode nie die Bybel as riglyn volg nie, vra jouself ook af: Volg ék nog die Bybel as riglyn vir my eie lewe?

  • Dr. Dawie Botes is ’n leraar in die NG gemeente Vrede-Wes in die Vrystaat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui