NG student bevestig gebrekkige teologiese opleiding

*******

NG student bevestig gebrekkige teologiese opleiding

Daniel Louw

8 September 2022

In STUDENTE Sê: ‘Beleef en bewys’ (7 September 2022) adresseer JG de Bruin, ’n teologiese student van die NG Kerk, die vraag: “Hoe weet ons God bestaan?”.

Hy sê dat ons nie God kan bewys as ons God nie kan wys nie.

Dit is streng gesproke korrek dat ’n mens nie God wetenskaplik kan bewys nie, maar dit is nie nodig om God eers te wys voordat ’n mens ’n wetenskaplike argument vir God kan maak nie. ’n Mens kan nie elektrisiteit sien nie, maar ’n mens kan wel baie duidelik wys dat dit bestaan. Netso kan ’n mens die bestaan van God in die natuur sien – daar is ’n baie goeie saak vir intelligente ontwerp.

De Bruin gaan dan verder en sê dat ons nie nodig het om God te bewys as ons hom kan beleef nie.

Hierdie benadering oortuig nie. Hy wys later self die probleem met hierdie redenasie wanneer hy erken dat ons ervarings van God subjektief is. Dit is opvallend dat hy nie voorstel dat ervarings oor God aan die Bybel gemeet moet word nie. In plaas daarvan sê hy dat elkeen se ervaring oor God erken moet word, solank daar net liefde is (“Where there is love, there is God.”)

Dit is nie waar nie. In 1 Korintiërs 5 lees ons dat Paulus sterk woorde gehad het oor ’n man en sy stiefma wat as getroudes saamgeleef het, ten spyte van die liefde wat daar waarskynlik tussen hulle was. Sou ’n mens ook kon redeneer dat ’n buite-egtelike verhouding van God af kom omdat daar liefde is? Of ’n homoseksuele verhouding? Of poligamie, poliamorie, pedofilie of selfs bestialiteit?

De Bruin se reaksie op hierdie kwessie wys duidelik die gebrek aan apologetiese opleiding en die invloed van liberale teologie in die NG Kerk se teologiese fakulteite.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui