MRK bekyk leraar ná klag

Kyk ook:

MRK bekyk leraar ná klag | Netwerk24

Deur Johan Eybers

30 September 2018 00:03

Dr. Chris van Wyk, die NG predikant midde-in ’n storm omdat hy pedofilie en homoseksualiteit met mekaar vergelyk het, moet nou sy sie­ninge aan die Menseregtekommissie (MRK) verduidelik.

Van Wyk het hom ook die gramskap van die Sielkundevereniging van Suid-Afrika op die hals gehaal met sy stelling dat die sielkunde sowel pedofilie as homoseksualiteit as “seksuele oriëntasies” beskryf.

Sielkundiges sê dié siening is nie net verkeerd nie, maar ook skadelik en kan deur ’n hof as “haatspraak” beskou word.

Altesame 55 NGK-lidmate, gelegitimeerdes, predikante en dosente het ook sy uitsprake in ’n skerp bewoorde verklaring verwerp. Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NGK, het in ’n verklaring gesê enige suggestie wat gay gelowiges negatief stereotipeer, pas nie by gelowiges nie.

Die MRK het bevestig hulle ondersoek ’n klag teen Van Wyk. Hennie Pienaar, ’n gay proponent en sameroeper van die nieregeringsorganisasie Queers With­out Borders (QWB), deel van die Sentrum vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch, het Vrydag die klag teen Van Wyk ingedien.

“Pienaar se klag is deur die MRK se uitvoerende hoof (Lindiwe Khumalo) vir verdere evaluering verwys,” sê adv. André Gaum, ’n MRK-kommissaris.

Van Wyk het verlede week op die Kerkbode se Facebook-blad geskryf: “Indien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook moet aanvaar.”

Van Wyk se mening is in reaksie op ’n artikel deur ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator, waarin hy skryf gays is “net so ’n deel van God se skepping soos heteroseksuele mense”.

Van Wyk ontken teenoor Rapport dat hy ’n “vergelyking met pedofilie en homoseksualiteit as sodanig tref”. Hy sê dit gaan oor die beginsel.

Pienaar sê in sy klag aan die MRK: “Sy mening as ’n teoloog, ’n dosent van sy eie Bybelskool en as ’n predikant van ’n gemeente het ’n groot invloed op baie mense, insluitende die jeug. Om dit met mekaar te vergelyk, dra by tot jong mense se verwarring oor seksualiteit waar heteroseksualiteit as die sogenaamde norm voorgehou word.

“Sy uitgesprokenheid oor homoseksualiteit is onverantwoordelik en ons mag nie toelaat dat ’n invloedryke persoon bydra tot die trauma wat soms tot selfmoord lei nie.”

Die 55 se verklaring sê Van Wyk se uitsprake waarin instemmende volwasse verhoudings tussen mense van dieselfde geslag met die lewe-ontnemende en skadelike praktyke van pedofilie en bestialiteit vergelyk word is “onaanvaarbaar”.

Juan Nel, ondervoorsitter van die sielkundevereniging, sê Van Wyk probeer haat en verdeling saai, pleks van naasteliefde en aanvaarding.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui