Die NG Kerk se Don Quixote


Don Quixote is ’n komiese figuur uit die Spaanse litterêre hoogbloei. Hierdie man in die storie het hom verbeel dat hy ’n dapper Spaanse edelman is wat by allerhande heldedade betrokke raak. Hy het egter in ’n onwerklike droomwêreld gelewe.

Nelis Janse van Rensburg, die Voorsitter van die Algemene Sinodale Moderatuur laat my aan Don Quixote dink, na die artikel wat hy pas op 25 September 2019 in die Kerkbode geskryf het.

Hy sê: DIT IS TYD VIR AANBEWEEG.

Ons staan op die drumpel van die belangrike Algemene Sinode (6-11 Oktober), wat dreig om op ’n skeuring in die kerk uit te loop oor die homoseksuele kwessie en Nelis sê: “Dit is tyd vir aanbeweeg.”

Wat wil Nelis sê? Hy argumenteer in die artikel dat ons nou genoeg gepraat het oor die homoseksuele kwessie. Hy sê:

“Ons kan nie nog navorsing doen nie. Ons is nou op die punt waar ons nie meer kan toelaat dat mense die slagoffers bly van ons oneindige meningsverskille en teologiese onsekerhede nie. … Ons kan nie die lewe van mense met ’n bepaalde seksuele oriëntasie vir altyd misrabel maak nie. Ons kan veel eerder vir mense van alle seksuele oriëntasies ’n lewenswyse en lewensruimtes bedink waarin hulle met ’n skoon gewete voor God kan leef.” (!)

So wil Nelis hierdie belangrike vergadering van die kerk tegemoet gaan. Hy voel seker ook versterk in die wete dat hy homself omring het met n skare medestanders wat net so seker van hulle saak soos hy is.

Intussen is daar weereens soos by die Sinode van 2016 ’n dik pak beswaarskrifte van lidmate, kerkrade, ringe en selfs sinodes wat vra dat Nelis en sy vriende tog tot besinning sal kom. Om die waarheid te sê die omvang van die beswaarskrifte is so groot dat dit nie in die Agenda van die Sinode opgeneem kan word nie. Dit word in ’n aparte CD aan afgevaardigdes beskikbaar gestel.

Die verskynsel is ongekend in die kerk se geskiedenis. ’n Spesiale taakspan moes aangestel word om hierdie pak besware vanuit die kerk te probeer orden, want dis onmoontlik om elkeen van die 74 dokumente individueel by die vergadering te bespreek. In werklikheid is daar 175 dokumente in dié verband ontvang, wat ’n aanduiding gee van die omstredenheid van die saak.

Die Sinode van KZN vra dat ons die saak eers by die Streeksinodes bespreek, maar Nelis meen ons het nou klaar gepraat. Dit is vir hom duidelik “dat alle mense nie inpas in die kategorie vir die ‘een man, een vrou’ bedeling van die huwelik nie”. Nelis lees in sý Bybel “Jesus het meer begrip vir die aard van seksualiteit en diversiteit as wat dikwels aan Hom toegedig word”. Dit is wat hy in die artikel skryf.

Met hierdie vaste oortuiging wil Nelis op sy perd klim om alle teenstand in die kerk uit die weg ruim.

Dit laat my dink aan die Engelse spreekwoord wat sê:

“Fools rush in where angels fear to tread.”

Ons kan ook dink aan die woorde van Spreuke 14:16:

“Wie wysheid kortkom is roekeloos en selfversekerd”.

********

Kyk ngkerk.net/sinode2019 om al die sinodedokumente af te laai.

3 thoughts on “Die NG Kerk se Don Quixote”

  1. As ons nie lag nie, gaan ons seker huil – dankie vir die onleding.

    “Ons kan nie nog navorsing doen nie. Ons is nou op die punt waar ons nie meer kan toelaat dat mense die slagoffers bly van ons oneindige meningsverskille en teologiese onsekerhede nie…”

    1. Daar word nogsteeds deesdae navorsing gedoen, (https://www.glodiebybel.co.za/navorsing-wys-geen-enkele-gay-geen-20190831/)

    2. Dit klink roekeloos… Is teologies sekerheid nie die veiliger opsie nie ?

  2. Die voorlaaste “doodklok” het gelui met van Rensburg se herverkiesing. Hoe kan dit toegelaat word dat die kruisdood ongeldig gemaak word vir sonde wat hy duidelik n voorstander voor is-lees die kort boek van Judas bladsy 324 en 325. More se uitslag is D-dag vir hierdie kerk! Mag die Almagtige God hom en julle genadig wees sou sy seining aanvaar word!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui