Daar is nie verskillende waarhede oor ’n saak

*****

Daar is nie verskillende waarhede oor ’n saak | Netwerk24

Deur Ds. Piet Otto, Centurion

21 Oktober 2021

Naas Venter (“Is Bybel dan nie in ’n sekere milieu geskryf nie?” 18.10) en Neels Jackson (“Moet vroue weer kerkhoed dra?”, 15.10) verwys albei na my brief “NGK se treurendes het een gebed en een doel” (12.10).

Ek is onseker oor die dieperliggende redes vir Venter se skrywe. Verstaan hy doodgewoon nie my skrywe nie of gebruik hy dit net om sy eie mening oor en probleme met die Bybel aan die groot klok te hang?

Net twee verdere opmerkings: Daar kan nie twee of meer waarhede oor dieselfde saak bestaan nie. Die fundamentele veronderstelling van alle regstelsels berus in beginsel op die feit dat daar iets soos “die waarheid” is.

Gelowiges is maar net gewone mense wie se oë geopen is vir die Bybelse waarheid: Ons, die mense, is die probleem en God is die oplossing. Ons is juis nie meer gebreinspoelde mense nie, maar deur die waarheid vrygemaak.

Die “probleme” wat Venter so kwistig aanhaal, is in die Bybel­ self reeds beantwoord. Dit is jammer dat hy dit nie weet nie.

Jackson het natuurlik die reg om te verskil. Wat pla, is dat hy in sy regverdiging van die huidige verdraaiing van die Bybel misleidende argumente aanvoer om sy saak te verdedig. Hy skep doelbewus verwarring en onsekerheid. En om dit te bereik, diep hy weer die holruggeryde voorbeelde van onder meer kerkhoede en apartheid op.

Sluiers dra(!) in Kor. 11 is ’n destydse kultuuruitdrukking van ’n Bybelse waarheid en apartheid ’n politieke model. Nie een is ’n Bybelse voorskrif nie. Met die afwys van albei het ons voor die gesag van die Skrif gebuig. Ons het dit nie geherinterpreteer nie. Dit is iets totaal anders as wat tans gebeur wanneer Skrifwaarhede ontken en verdraai word om iets anders te sê as wat geskryf staan.

Jackson is dan ook op rekord dat hy van die vroeë 1980’s reeds sake bepleit het wat berus op Skrifverdraaiing.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui