Dolerendes nie teen herinterpretasie van Skrif

*****

Dolerendes nie teen herinterpretasie van Skrif | Netwerk24

Deur Ds. Pieter Prinsloo, Ng Kerk Kroonstad­-Wes (Dolerend)

19 Oktober 2021

Neels Jackson se brief “Moet vroue weer kerkhoed dra?” (15.10) het betrekking. Hy beweer die NG Kerk (NGK) se verskille gaan bloot oor hoe die Skrif verstaan word en nie oor Skrifgesag nie. Hy is verkeerd.

Jackson suggereer ook verkeerdelik dat dolerendes gekant is teen ’n eerlike proses van herinterpretasie van die Skrif in die NGK. Hy begryp duidelik nie die groot misleiding wat in die NGK onder die vaandel van “Skrif-herinterpretasie” aan die ontvou is nie. Hierdie misleiding behels dat talle dosente en leraars geopenbaarde­ waarhede in die Skrif ontken, wegredeneer en aanpas by die begeertes van die moderne mens, onder die vals maar mooiklinkende dekmantel van “Skrifherinterpretasie”.

Jackson verwar dus openlike Skrifmanipulasie en Skrifverduistering met Skrifherinterpretasie. Dáárom vind hy geen teken in die NGK dat leraars die gesag van die Skrif nie aanvaar nie. Godverheerlikende Skrifherinterpretasie (destydse herbesinning oor apartheidsteologie) verskil hemelsbreed van die NGK se huidige bereidheid om Skrifaanpassings te doen (God se wil oor die huwelik word aangepas onder druk van die LGBTQI+-beweging). Jackson misluk daarin om te begryp dat dié moderne pogings om die Skrif aan te pas by die begeertes van mense niks anders as goed vermomde ontkenning van Skrifgesag is nie.

Boonop verstom sy onbewustheid van blatante vorme van ondermyning van Skrifgesag in die NGK. Kan ’n ondersoekende joernalis werklik onbewus wees daarvan dat talle NG-dosente en leraars Bybelgesag ontken weens hul oortuiging dat die Bybel primitiewe, tydgebonde mensewoorde oor God eerder as die geïnspireerde­ Woord van God is?

Hierdie minagters van Skrifgesag ontken dat die Bybel blywende waarhede leer oor die huwelik, die verlossing deur Christus, asook die leefpatroon van verloste Koninkryksburgers.

Hierdie liberale figure streef beslis nie na verantwoordbare herinterpretasie van die Skrif nie. Hulle is bloot besig om te kyk hoe hulle die Skrif kan aanpas by die tydsgees.

Neels, dolerendes verlustig hulle in die beoefening van goeie teologie en juis daarom verwerp ons hierdie ligsinnige Skrifondermyning en Skrifmanipulasie wat in die NGK aangaan onder die dekmantel van herinterpretasie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui