Laat die NGK terugkeer na die waarheid

Kyk ook:

Die volgende brief van Piet Otto het ook verskyn as NGK se treurendes het een gebed en een doel (12 Oktober 2021).

******

BRIEF: Laat die NGK terugkeer na die waarheid | Netwerk24

Deur Ds. Piet Otto, Centurion

11 Oktober 2021

Ek verwys na onlangse berigte rakende die NG Kerk. Onverkwiklike gebeure hou die kerk konstant in die nuus. Vir baie mense is dit egter steeds onduidelik waaroor die herrie eintlik gaan. Van die uitlatings probeer om op opportunistiese wyse twyfel te saai oor die egtheid van die probleem en stel dan strooipop-argumente op wat met mooiklinkende woorde gemaklik afgeskiet kan word.

Wat is dan die ware probleem waaroor honderde leraars en duisende lidmate treur? Hulle treur omdat talle ampsdraers, dosente en kerkvergaderinge nie meer die Bybel as die hoogste en finale gesag vir die leer en lewe van die kerk in geloof aanvaar nie. Dít is die ware probleem.

Hulle treur omdat diesulkes eerder menslike geskrifte bo die Bybel glo as om die Bybel self te glo. Omdat hulle die Bybel krities en met agterdog lees en dan as verdag en onbetroubaar voorstel, waardeur die eenvoudige geloof van derduisende lidmate verbreek word.

Dit is omdat hulle nie meer glo dat die hele Skrif God-geadem is en die wil van God volkome bevat nie, en daarom onveranderlik geldig bly vir alle mense, oral en altyd. Hulle treur omdat Skrifwaarheid “herinterpreteer” word om in te pas by die postmoderne gees van die tyd en hulle hierdeur die Gees van God minag.

Omdat hulle die evangelie van “verlossing, heiligmaking en dankbaarheid” vervang met ’n sosiale evangelie van “inklusiwiteit, diversiteit en sosiale geregtigheid”. Omdat hulle ’n onbybelse liefde verkondig wat die heiligheid en geregtigheid van God verduister.

Hiervoor staan hulle weerloos in die spervuur van verdagmakery, verguising en vals aanklagte van bekrompenheid, fundamentalisme, skeurmakery en selfs haatspraak.

Die treurendes het een gebed en een doel: dat die NG Kerk sal terugkeer na die waarheid van die Skrif, sodat die eer van God weer voorop kan staan: Solis Deo Gloria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui