NG Kerk is ‘dom oor die liefde’

NG Kerk is ‘dom oor die liefde’

Donderdag 25 Augustus 2005 bl. 22
Beeld
Johannesburg Finaal

Cecile Cilliers kap besluit om gay Gaum te skors

Johannes de Villiers

Kaapstad. — Sy voel haar toenemend vervreemd van ’n kerk wat nie weet waaroor liefde gaan nie, sê die rubriekskrywer Cecile Cilliers, gemeentelid van ds. Laurie Gaum se St. Stephen-gemeente.

Cilliers, voormalige leierouderling van die Andrew Murray-gemeente, die eerste vrou in die NG kerk se algemene sinodale kommissie en lid van “meer subkommissies oor homoseksualiteit as wat jy op jou vingers kan tel”, het gereageer op die nuus dat Gaum se verbintenis by die gemeente beëindig kan word omdat hy in ’n gay-verhouding was.

Die regskommissie van die ring van Kaap die Goeie Hoop gaan dié aanbeveling by die algemene sinode van die NG Kerk doen.

“Ek het drie jaar gelede by die St. Stephen-gemeente (‘n voormalige gemeente vir vrygemaakte slawe en die NG Kerk se enigste oorwegend bruin gemeente) aangesluit oor die interessante geskiedenis daarvan, maar ook omdat Laurie die leraar daar was.

“Toe moes ek sien hoe die kerk met ’n pennestreep nie net vir Laurie uitvee nie, maar ook die gemeente. Ek vind my toenemend vervreemd van ’n kerk wat nie weet waaroor die liefde gaan nie, wat nie verstaan wat dit beteken om Christus te volg nie.”

Me. Gertrude Fester, lid van die Kommissie vir Geslagsgelykheid en ook ’n gemeentelid van St. Stephen, het gesê sy ken nie die besonderhede van die beslissing teen Gaum nie.

“Ek is egter ongemaklik met ’n bevinding wat met mense se grondwetlike regte bots. My werk behels die bevordering van menseregte en menswaardigheid. Ek het ’n probleem met ’n beslissing wat mense se waardigheid aantas.”

Hoewel die meeste kerklui nie kommentaar wou lewer voordat hulle die beslissing gesien het nie, was daar verskillende menings onder dié wat wel bereid was om te praat.

Dr. Peet Botha, wat onlangs in die nuus was vir sy boek Sinode en homoseks , waarin hy die NG Kerk daarvan beskuldig dat hy nie homoseksuele gedrag voldoende afkeur nie, het egter gesê hy steun enige besluit dat “mense wat homoseksualiteit beoefen nie in dié amp mag dien nie”. Botha het ook nog nie die ring se bevinding onder oë gehad nie, maar meen dit wat hy daaroor hoor, strook met die argument in sy boek.

Dr. Carel Anthonissen, vriend van Gaum en lid van ’n kommissie wat enkele jare gelede namens die Wes-Kaapse sinode die kwessie van homoseksualiteit ondersoek het, het gesê die bevinding “wys die kerk verstaan nog min van die pyn van die worsteling van gay mense.

Dit kan enorme skade doen vir die kerk se leierskap en beeld in die gay gemeenskap.

“Ek hoop St. Stephen sal hulle nie neerlê by die besluit nie en opstaan vir hul leraar.”

Onderskrif: Ds. Laurie Gaum: Die ring van Kaap die Goeie Hoop se regskommissie gaan die NG Kerk se algemene sinode vra om sy bevoegdheid as predikant op te skort totdat hy instem om “selibaat teenoor persone van dieselfde geslag te bly”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui