Lubbe gaan presidieer oor NGK-verbrokkeling

*******

Lubbe gaan presidieer oor NGK-verbrokkeling | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

13 November 2023

Die titel van die artikel “NG Kerk: Soek die middelgrond” (03.11) is ’n oksimoron, want die Bybel maak nêrens voorsiening vir enige middelgrond nie. ’n Kerk is óf op die nou pad óf op die wye pad wat lei na ’n “ruim huis”. Dis óf reg óf verkeerd, óf vals óf waar. Selfs dwalend of dolerend (op pad na Bybelse Waarheid).

Ds. Jan Lubbe het die leisels oorgeneem van ’n Kerk wat deur ’n baie klein gay-lobby gekaap is en ergerlik in humanisme en postmodernisme verval het. Soos dr. Frits Gaum daarop wys (28.10), het die NG Kerk (NGK) die gay-Rubicon oorgesteek, maar ook nie heeltemal nie. Vele lidmate weier steeds botweg om hul voete in die verdelende waters van die gay-Rubicon te steek.

Vroeër vanjaar het afgevaardigdes van die Namibiese sinode die algemene sinode se leierskorps kom oproep tot hartgrondige bekering van hul onbybelse dwaalleer. In ’n skrywe aan alle gemeentes in Namibië (gedateer 08.11) lig die Namibiese moderamen hulle in “dat genoegsame bekering nie by die algemene sinode plaasgevind het nie” en dat art. 37 van die NG Kerkorde nou in werking gestel word ten einde uit die huidige verband met die NGK se algemene sinode te tree, ná gepaste oorlegpleging met al die gemeentes.

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Koinonia-sinode, wys daarop dat terwyl die algemene sinode se leierskorps voorheen ’n geel kaart aan die dolerendes gewys het, het die afgelope algemene sinode ’n duidelike rooi kaart aan almal getoon.

In ’n gedetailleerde dokument van tien bladsye, getiteld “Skrifgetroue NG-gemeentes en -lidmate se pad vorentoe”, word almal opgeroep om “finaal ’n duidelike geloofskeuse te doen”, aangesien die algemene sinode “steeds geen voorneme tot bekering toon nie en hy alle versoeke om onpartydige bemiddeling of gesprek met behoudende lidmate verwerp, word ons nou deur die liefde van Christus en getrouheid aan sy Woord gedring om alle direkte en indirekte verbande met die algemene sinode op te skort”.

Lubbe sal blykbaar die onbenydenswaardige voorreg hê om te presidieer oor die verbrokkeling van die NGK waar dolerende lidmate en die Namibiese sinode sommer heeltemal onder die dak van die kerklike “ruim huis” uittrek en verkas.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui