NGK Namibië besluit om moontlik uit kerkverband te tree

Die volgende omsendbrief is op 8 November 2023 uitgestuur nadat die moderamen van die Namibiese Sinode vergader het op 7 November 2023 na die NG Kerk se algemene sinode.

*******

8 November 2023

Aan: Alle gemeentes NGKN
Alle Predikante NGKN

Beste medewerker

RE: MODERAMEN BESLUITE RAKENDE DIE MOONTLIKE UITTREDE UIT DIE ALGEMENE SINODE MET VERWYSING NA DIE 2022 BESLUIT HIEROOR

Die moderamen het Dinsdag 7 November vergader en na ʼn daglange gesprek die volgende besluit geneem:

Die sinode van Namibië se Taakspan Matteus 18 was getaak met die opdrag om namens die sinode van Namibië die Algemene Sinode van die NG kerk op te roep tot hartgrondige bekering (2022 Sinode besluit verwys vir omskrywing). Indien hartgrondige bekering nie sou plaasvind nie, is dit die voorneme van die Namibiese Sinode om kragtens Art37 van die NG kerkorde uit die huidige verband met die NG kerk se Algemene Sinode te tree.
Die Taakspan Matteus 18, in oorleg met die Namibiese moderamen, oordeel dat genoegsame bekering nie by die Algemene Sinode plaasgevind het nie.
Die Namibiese moderamen oordeel dus dat die Namibiese besluit van 2022 van krag word deur middel van die aktivering van die proses van herdefiniëring van die verhouding met die Algemene Sinode.

Die proses ter uitvoering van bogenoemde beginselbesluit geskied soos volg, dat:
1) ‘n taakspan aangestel word om in die lig van o.a. Artikel 37, Artikel 32 en ander moontlikhede die herdefiniëring van die verhouding met die Algemene Sinode aan te beveel in lyn met die gees van Namibië se 2022 besluit.
2) ‘n gespreksdokument – goedgekeur deur die moderamen – rakende die teologiese afstand tussen Namibië en die Algemene Sinode, sowel as die moontlikhede en implikasies vir die Namibiese Sinode op te stel, wat deur elke gemeente bespreek sal word met die oog op terugvoer na die taakspan en moderamen
3) die taakspan, in oorleg met die moderamen, formuleer voorstelle vir die 2025 Namibiese Sinode waar die proses finaal afgehandel word.
4) die taakspan lê hul eerste vorderingsverslag aan die moderamen voor teen 20 Feb. 2024
5) alle finale terugvoer moet aan die moderamen voorgelê word teen November 2024

Die uwe

Ds M J N van der Merwe
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk in Namibië

3 thoughts on “NGK Namibië besluit om moontlik uit kerkverband te tree”

  1. Dit sal baie jammer wees as dit gebeur. Ek wens ons kon Ds Maartje se wens vervul dat ons die paar verskille wat ons het sal parkeer,.
    Dit sal dan tot almal se voordeel wees as ons as kinders van God kan konsentreer op die baie goeie dinge wat ons saambind Ons kan dan saamwerk vir ‘n beter Suider Afrika.

    1. Ponkie hoe parkeer jy misleiding en dwaling?
      Siele gaan verlore.
      Kan ons regtig so liefdeloos wees?

      1. Dit is juis die probleem, baie van ons sien dit nie as misleiding of dwaling nie. Die moment wat jy wil verklaar dat die manier hoe jy die Bybel verstaan is korrek, DAN weet jy jy dwaal en oordeel oor ander en is liefdeloos. As ons hierdie verskille nie mee gaan saam leef nie, gaan ons kant moet kies en watter kant dit ookal natoe gaan, gaan daar baie ongelukkige mense wees, en ons gaan dit in die toekom berou net soos die wet van aparheid wat die kerk gekies het om te ondersteun.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui