Die middeweg is nie God se weg nie

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Die middeweg is nie God se weg nie | Netwerk24

Louis Smith, Strand

13 November 2023

Die NG Kerk (NGK) se algemene sinode-sitting is verby en die kloof tussen behoudende (dolerende) gemeentes en die groter meerderheid van gemeentes en die NGK-leierskorps het net groter geword. So waar staan ons nou?

Is dit nie maar net ’n klomp verkrampte gemeentes wat nie vrede kan maak met die meerderheidsbeslissings nie? Bepaald nie. Die Kerk van Christus kan nooit demokraties wees nie, maar wel Christokraties. Die NGK mislei goedgelowige lidmate deur voor te gee dat dit absoluut in orde is om verskeie en ook kontrasterende menings binne die kerkstrukture en in individuele gemeentes te akkommodeer – en vandaar die konsep van ’n “ruim huis”.

Die “ruim” kerk laat toe dat kerkleiers en dosente aan kweekskole die boodskap verkondig dat die Bybel nuut geïnterpreteer moet word en dat die eeue oue boodskap nou aangepas moet word binne die moderne konteks en by die lewensbeskouing van mense wat anders wil leef as wat die Bybel voorskryf.

Hoewel die saak oor selfdegeslagverhoudings meestal in die kollig is en behoudende Christene meestal as homofobies en liefdeloos voorgestel word, gaan die primêre saak oor Skrifgesag en die historiese Bybelboodskap.

Die Bybel is vir behoudende Christene die onfeilbare en Gees-geïnspireerde Woord van God en nie mensewoorde oor God wat nou ten grondslag lê van die postmoderne sienings wat oral in die kerk uitslaan nie. Lidmate van die NGK moet wakker skrik en besef dat hulle aan dwaallering blootgestel word.

Daar kan eenvoudig nie twee absolute waarhede wees nie. Gaan lees die Bybel biddend en laat toe dat die Gees van die Here julle van die waarheid oortuig. Ons is sekerlik nie liefdeloos nie. Werklike liefde volgens die Bybel is om jou broer (en suster) te waarsku teen sonde en indien nodig hulle uit die “vuur” te ruk ten einde hulle van uiteindelike verderf te red.

Maar nou word God se oordeel en die Bybel se uitsprake daaroor verontagsaam. Die NGK is op ’n glybaan na selfvernietiging, ten spyte daarvan dat die leiers almal wil laat glo dat die middeweg is die beste, maar dit is nie God se weg nie.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui