Kerk is nie ’n klub, vereniging of organisasie nie

*******

Kerk is nie ’n klub, vereniging of organisasie nie | Netwerk24

Dr. Henrietta Klaasing

27 Junie 2022

Dubois du Toit van Kestell moet geloof word vir sy navorsing oor die “Droom Scenario 2030” (23.06), die alternatiewe wat bepaalde leiers vir ’n toekomstige NG Kerk beplan.

Hierdie “Nagmerrie 2030” se vrot wortels is ’n verkeerde ekklesiologie, ’n skeefgetrekte siening van wat kerk is.

Die Bybelse betekenis van “kerk” het te make met “die wat aan die Here behoort”.

’n Wingerd (Johannes 15), ’n kudde (Handelinge 20:28), God se volk (1 Petrus 2:5-10), die liggaam van Christus (Efesiërs 4:15-16), sy Bruid (Openbaring 19:7) is Bybelse metafore vir die kerk.

Die “Droom Scenario 2030”-beplanning word gedoen soos vir klubs, verenigings of organisasies. Die Bybelse metafore is lewende organismes wat getroetel, gekoester en versorg moet word om te lewe en te groei. Dit moet nie aan wêreldse modelle onderwerp word nie.

Die beeld wat ons in die Woord aangaande die kerk kry, is groots en diep. “Wie met die kerk besig is, is besig met ’n bo-menslike en bo-historiese grootheid. Hy is besig met God se werk.” (prof. J.M. Vorster).

*******

Kerk en winkelgroep het wel baie in gemeen | Netwerk24

Piet Van Bloemfontein

29 Junie 2022

Dr. Henrietta Klaasing se brief “Kerk is nie ’n klub, vereniging of organisasie nie” (27.06) het betrekking.

Die vraag of wat die Bybelskrywers bedoel met ekklesia (die Grieks vir byeenkoms of samekoms) en wat ons verstaan onder kerk, is al eeue lank in dispuut.

Immanuel Kant was een van die eerstes wat gesê het ekklesia het geen ampte nie. Dus in ekklesia is daar nie net geen onderskeid tussen man en vrou of slaaf en eienaar nie, maar ook nie tussen leke en ampsdraers nie. Omdat so iets onmoontlik is in wat tans kerk is, weet ons dat hier dus oor iets van ’n ander orde gepraat word.

Teoloë, kerklui en vromes probeer gereeld om die kerk tot ekklesia te maak, maar dit is nie moontlik nie. Inteendeel, ek dink dit is ’n vergryp, net soos wat dit ’n onsinnige vergryp is wanneer die staat probeer om die ganse samelewing sowel te besit as te reglementeer.

Kerke probeer die ekklesia besit, maar Emil Brunner het in die 1950’s daarop gewys dat dit ’n “misverstand” is as die kerk dit probeer. En Harry Kuitert het in 2014 ’n kerk op daardie grondslag as ’n “konstruksiefout” beskryf.

Daarom moet die kerk maar sy nederigheid behou. Soos wat die bestuurskundige Peter Drucker gesê het: ’n Kerk en ’n kettingwinkelgroep het veel meer in gemeen het as wat enige van die twee besef.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui