‘Ek is jammer vir die pyn’ – Bartlett aan Van Wyk

**********

‘Ek is jammer vir die pyn’ – Bartlett aan Van Wyk | Kerkbode

30 Junie 2021

Dr André Bartlett het om verskoning gevra aan dr Chris van Wyk na uitlatings wat Bartlett in 2018 aan ’n Rapport-verslaggewer gemaak het.

Bartlett het destyds op uitsprake van Van Wyk gereageer oor “kwetsende verband” wat Van Wyk volgens Bartlett se oordeel tussen homoseksualiteit, pedofilie en bestialiteit gelê het.

“Alhoewel my kommentaar saaklik bedoel was, het die ondersoekliggaam wat die klagtes teen my hanteer het, bevind dat dit gesien kan word as gerig teen die persoon en tot benadeling van dr Chris van Wyk,” het Bartlett vandeesweek in ’n verklaring gesê.

Dit kom nadat ’n interne ondersoekkomitee hom skuldig bevind het aan die oortreding van die 9de gebod. ’n Vereiste van die bevinding is dat hy regstellend moet optree in die vorm van ’n openbare apologie, wat Kerkbode elders ten volle publiseer.

Dr Chris van Wyk is ’n leraar van Qheberha (Port Elizabeth) en voormalige voorsitter van die Oos-Kaapse Sinode wat ten tye van die voorval ’n moderatuurslid van die Algemene Sinode van die NG Kerk was.

In September 2020 het dr Johann Ernst, ’n voormalige lid van die Algemene Sinode se moderatuur, Bartlett daarvan aangekla dat hy met sy uitlating in Rapport die negende gebod verbreek het.

’n Interne ondersoekliggaam, bestaande uit lidmate van die NG Kerk Vrystaat, is saamgestel om die klagtes te ondersoek. Die Ring van Johannesburg het versoek dat die Vrystaatse Sinode die ondersoek hanteer omdat Bartlett voorsitter is van die NG Sinode Hoëveld.

Die ondersoek sou in Desember begin, maar is uiteindelik in Maart voortgesit na dit herhaaldelik weens die Covid-pandemie uitgestel moes word. Die volledige uitspraak, wat 94 bladsye beslaan, is hierdie week aan die NG Sinode Hoëveld en die ring beskikbaar gemaak. Versoeke van Kerkbode om toegang tot die uitslag is tot dusver afgewys.

“Ek respekteer die bevinding van die ondersoekliggaam en vra in die lig daarvan verskoning vir enige pyn en benadeling wat dr Van Wyk en sy gesin as gevolg hiervan gely het,” sê Bartlett in sy ‘openbare regstelling’.

“Ek wil (Van Wyk) verseker van my bedoeling om op saaklike en respekvolle wyse met hom in gesprek te wees en om my te weerhou van enige taalgebruik wat die indruk wek dat ek sy persoon en waardigheid wil aantas.”

Bartlett het bygevoeg dat hy nie jammer is nie dat hy hom uitgespreek het en ook steeds uitspreek teen enige woorde en dade wat die waardigheid van mense aantas of hulle op een of ander wyse krenk.

Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, het in Oktober gesê hy is jammer dat hy nie meer gedoen het om Van Wyk se karakter te beskerm nie.

Ernst het in sy eie reaksie op die bevinding van die ondersoekliggaam gesê daar sal tevredenheid wees “as die verhouding met en die goeie naam van dr Chris van Wyk in kerklike geledere én in die openbaar deur dr Bartlett in ere herstel is”. Ernst se volledige reaksie is ook in Kerkbode gepubliseer.

1 thought on “‘Ek is jammer vir die pyn’ – Bartlett aan Van Wyk”

  1. ja “broers” Bartlett en Nelis julle wat die Woord van God so maklik verdraai en dit aan die kudde wil oordra as ware voedsel – pasop! onthou wat met Ananias en Saffira gebeur het – julle ken mos die Bybel of hoe? – as ek my sonde bely …… (1joh 1:9) – of anders??

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui