Frits, hoekom glo jy nie in die duiwel nie?

*****

Dalk is verdeeldheid in NGK duiwel se invloed | Netwerk24

Deur Jan Louw

20 Oktober 2014

Ek sal vir dr. Frits Gaum (“Is daar regtig ’n duiwel?“, 14.10) wil vra: Wat het daar tussen ons as leraars gebeur dat hy beweer dat hy nie regtig glo dat daar ‘n duiwel is nie.

Hy ondersteun en verwoord op dié manier die dwaling van die Algemene Sinode oor die duiwel in 2011 en weer in 2013.

Ek moet Gaum en alle leraars wat sy siening toegedaan is, herinner aan Artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, wat deel is van ons belydenis:

“… Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly.

Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is”.

Gaum propageer dus ‘n ou dwaling wat lankal deur die kerk verwerp is.

Die gevolg van Gaum se optrede is dat leraars nie meer in ‘n verhouding van wedersydse respek met mekaar in dieselfde kerk kan saamwerk nie. Ons dryf al verder van mekaar af weg, hoe hard ons ook probeer om aan mekaar vas te hou.

Miskien moet ons die verdeeldheid tussen ons juis toeskryf aan die duiwel wat hom tussen ons in die NG Kerk kom tuismaak het, die dag toe die Sinode besluit het dat lidmate nie noodwendig sy bestaan hoef te erken nie.

Ds Jan Louw (emeritus)
Reitz

1 thought on “Frits, hoekom glo jy nie in die duiwel nie?”

  1. Jesus sê self in Joh 8: 44 Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.

    Of, wat van Jesus wat versoek was deur Satan. Glo die NGK/AS nog die dinge? Jok Jesus oor al die dinge?

    Nee wat, ek glo maar líéwer vir Jesus, Immanuel, Seun van God.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui