Epos van NG kerkleiding aan predikante

Op Vrydag 30 Julie 2021 het Gustav Claassen ’n epos gerig aan al die predikante in die NG Kerk. Dit het hoofsaaklik drie dinge bespreek:

  1. Die Covid-19 pandemie
  2. Onlangse onluste in Kwazulu-Natal
  3. Die Strand-gemeente se dolering, wat Nelis Janse van Rensburg se video insluit

Om die volle agtergrond te kry oor Die Strand se dolering, moet die volgende gelees word:

Dit is duidelik dat die NG Kerk leiding met alle mag en mening probeer wal gooi.

Hier volg die gedeelte van die epos:

Kyk ook ’n reaksie op Nelis se video in Video: NG Kerk staan binne haar belydenis – Nelis Janse van Rensburg (28 Jul 2021)

**********

Die berig in Die Burger van 14 Julie 2021

Met groot hartseer is kennis geneem van ’n berig in Die Burger van 14 Julie 2021. Dié berig handel oor die inhoud van Die Strand-gemeente se gemeentebrief waarin hulle redes aanvoer vir hulle dolering. In die brief word die suggestie gemaak dat die Algemene Sinode se omgaan met kernaspekte van die kerk se belydenisgrondslag, verdag is. Volgens die skrywe word dit aan gemeentes oorgelaat om “self te besluit” oor ’n lys van belangrike sake soos die opstanding, die duiwel ens. By lesers van die artikel, wat nie op hoogte is van sinodale besluite nie, het dit die persepsie laat ontstaan dat die besluite van die Algemene Sinode nie meer die integriteit van byvoorbeeld die opstanding van Christus en ander kernmomente van ons belydenis handhaaf nie. Tereg het dié persepsie oor ’n wye front ontsteltenis en reaksie uitgelok.

Verdagmakery ten opsigte van die besluite van die Algemene Sinode het in die sosiale media geëskaleer op ’n onverkwiklike manier wat die kerk geensins tot heil strek nie.

Die prosesse en besluite van die Algemene Sinode is uiters deursigtig. Alle notules en agendas is vir die publiek beskikbaar. ’n Spesiale taakspan is ook na die Algemene Sinode van 2019 aangewys om vrae rondom die besluite oor selfdegeslagverhoudings te hanteer.

Die belangrikheid van die NG Kerk se belydenisgrondslag is bo verdenking. Die NG Kerk is ’n kerk wat onomwonde erns maak met die gesag van die Skrif en haar belydenisskrifte. In dié verband kan daar net gekyk word na Artikel 1 van die Kerkorde en die beskrywing van wie ons is op die kerklike webblad.

Dit is een saak om ontevredenheid oor ’n sinodale besluit aan te spreek deur van kerkordelike remedies gebruik te maak. Dit is egter ’n ander saak as ontevredenheid lei tot verdagmakery ten einde sekere agendas te bevorder.

Hopelik sou die kerkraad van Die Strand-gemeente kan aandui dat daar meer aan hulle verklaring toegedig is as wat hulle bedoeling was. Gesprekke met dié gemeente is reeds aan die gang.

Intussen is sterk verklarings gemaak deur die voorsitter van die Ring van Somerset- Wes, dr Christo Benade, asook die voorsitter van die Algemene Sinode, ds Nelis Janse van Rensburg.

Reaksie op 7 punt van beswaar van die NG Gemeente die Strand

Strand verklaring

Die Strand Julie 2021

Kom ons vier en bevestig ons verbondenheid in hierdie uitdagende tyd deur mekaar te ondersteun en vir mekaar en ons land te bid.

Groete in Christus

Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk

1 thought on “Epos van NG kerkleiding aan predikante”

  1. 1)”Groot hartseer”: Diť beteken egter “hartseer” OOK omgekeerd vir mense en gemeentes wat verstaan wat aangaan en wat “doleer”!!!!
    2) Veral OOK hartseer omgekeerd: Nie net “hartseer” oor wat homoseksueles aangedoen is nie, maar OOK die hartseer wat ons ander aandoen word weens hulle “abnormale” en STRYDIGE hantering van die Bybel!!!
    3) Hierdie “liberale teoloë” (‘AS’) veroorsaak egter die GROOTSTE “onverkwiklike” krisis in die “NG kerk van Christus” ooit!!!!!!
    4) “Verdagmakery” word deur die “AS” veroorsaak deur hulle “Goddelooslike liberale verklaring van die Bybel” en NIE deur die Bybel en God self nie!!! Jy gehoorsaam dus God en die Bybel of jy gehoorsaam dit nie!! Eenvoudig!!!
    5) Indien jy NIE tevrede is met die NG kerk en haar belydenisskrifte nie, gaan kry/soek asb vir jou ’n ANDER kerk!!!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui