Fluit-fluit, is die NG Kerk dalk uit, vra Frits Gaum

Kyk ook:

Hierdie is die eerste artikel van ’n mediadebat (Rapport) tussen dr Frits Gaum en prof Johan janse van Rensburg. (Lees die oorspronklike artikel HIER.) Hier volg ’n lys van die daaropvolgende artikels:

Gaum se boek, Fluit-fluit, die kerk is uit?, het ook in 2012 die Andrew Murray prys verower – kyk Insig in kwelvrae oor kerk besorg Gaum prys.

********

Fluit-fluit, is die NG Kerk dalk uit, vra Frits Gaum

2011-03-12 23:45

Johannes de Villiers

“As die NG Kerk nie radikaal verander nie, gaan hy nie die wederkoms beleef nie,” sê dr. Frits Gaum.

Gaum, ’n voormalige redakteur van Kerkbode en eens ’n stoere verdediger van die NG Kerk se dogmas, meen ’n mens kan selfs die kerk se huidige posisie ’n bestaanskrisis noem.

Gaum, wat op sy tyd soms redelik behoudende teologiese standpunte voorgestaan het, maar deesdae dikwels veel meer progressiewe standpunte inneem, het pas ’n boek voltooi met die titel Fluit-fluit, die kerk is uit?

Dié boek, wat belowe om ’n knuppel in die teologiese hoenderhok te gooi, word in Mei deur Bybelmedia gepubliseer.

Die alarmistiese titel, sê Gaum, is ’n vraag wat hy deesdae eerlik oor die toekoms van die kerk vra.

Hy wys daarin op hoe die kerk in Europa gekwyn het en vra of die kerk onder Afrikaanse mense dieselfde pad gaan stap.

“Die kerk as liggaam van Christus sal altyd bestaan, maar as die kerk as instituut nie so gou moontlik aanpas nie, gaan dit nie oorleef nie,” het hy die afgelope week in Stellenbosch, waar hy op die Woordfees oor ’n vorige boek gepraat het, aan Rapport gesê.

Die kerk het deur die geskiedenis baie wonderlike dinge gedoen, sê Gaum, “maar ek skryf ook die kerk het in baie opsigte misluk”.

Van die foute wat die kerk se voortbestaan nou bedreig, sluit in die onvermoë van kerkverbande om te verenig (selfs die verdeling tussen die NG Kerk, Hervormde Kerk en Gereformeerde Kerk is volgens Gaum verregaande). Dan is daar ook konserwatiewe besluite oor homoseksualiteit en ’n engheid wat dogma betref.

“Die kerk sal moet leer om dinge met minder sekerheid te sê.”

Hy verwys onder meer na die boek Die eerste vyf minute ná die dood deur dr. Izak Burger, president van die AGS, waarin die hiernamaals beskryf word.

Volgens Gaum sal teoloë moet ophou om voor te gee of hulle vaste antwoorde op sulke kwessies het en meer erns met twyfel en onsekerheid moet maak.

“Wat gebeur as jy in Hongkong loop en jy sien derduisende mense wat nie Christene is nie? Kan ons nog glo hulle gaan reguit hel toe? Ek glo nog dat Jesus die Een is, maar ons moet dit dalk eerder aan God oorlaat om te besluit hoe Hy die finale situasie gaan hanteer.”

Gaum gee toe dat hy nie 20 jaar gelede ’n boek sou kon skryf wat sulke kritiese vrae oor die kerk stel nie.

“Daar moes eers goed in my ¬lewe gebeur het wat my op dié bepaalde pad gebring het. As ek van die preke lees wat ek destyds geskryf het, kan ek dit nie meer oor my hart kry dat ek sulke dinge geskryf het nie.

“Maar ’n mens verander voortdurend.”

Hy meen ook dit sou ’n groot fout wees as die kerk meer fundamentalisties raak ten einde siele te werf.

“Fundamentalisme – ’n onverdraagsame, letterlike verstaan van die Bybel – sal daar altyd wees, maar dit word ’n ernstige probleem vir die kerk.”

– Rapport

_____________________________________

Vervolg by Fundamentalisme? Nee, vrysinnigheid!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui