Gehoorsaamheid is beter

Kyk ook:

Die volgende brief deur Jan Louw is in reaksie op NG gemeente Aandbloem in Bloemfontein se drie leraars wat aangedui het dat hulle gaan begin om homoseksuele huwelike te bevestig (kyk NG Kerk moet ‘diversiteit met ope arms verwelkom’ – 25 Sep 18). Dit is is agt dae na die moderator Nelis Janse van Rensburg erken het hy is progay (17 Sep).

**************

Gehoorsaamheid is beter

10 Oktober 2018, Kerkbode

Jan Louw van Reitz skryf:

Dr Willem Botha en sy kollegas wil mense in gay verhoudinge kerklik in die huwelik bevestig (lees hier).

Die voorstanders van die gay verhoudinge kom vir my met merkwaardige vindingrykheid na vore om hulle sieninge Bybels te regverdig.

Botha meen dit gaan bloot oor verskillende Skrifbeskouings. Hy sê dat daar ’n “teks-immanente”-denkskool is wat meen God is in die woorde van die Bybelteks. Aan die ander kant is daar die “teks-transenderende”-denkskool waar die groot boodskappe van die Skrif voorrang geniet bo spesifieke teksverse. Botha het wegbeweeg van die “teks-immanente”-denkskool en vind homself nou tuis in die “teks-transenderende”-denkskool. So het hy tot die oortuiging gekom om mense in gay verhoudinge te trou.

Prof Fanie Snyman het in 2016 die verdeeldheid in die kerk toegeskryf aan wat hy noem ’n “historiese” lees van die Bybel en ’n “konfessionele” lees van die Bybel. Hy meen as ons die Bybel histories lees sal ons insien dat die Bybel hom nie uitspreek teen homoseksuele gedrag nie.

Die moderator, Nelis Janse van Rensburg, onderskei weer tussen twee teologieë. Aan die een kant is daar vir hom die sogenaamde “evangeliesgesinde benadering” of Murray/Hofmeyer-tradisie, en aan die ander kant die meer “rasionele” of “Neo-Calvinistiese” benadering. Die twee tradisies loop soos die twee spore van ’n treinspoor langs mekaar om een baan te vorm.

Van Rensburg is opgewonde oor die ontwikkeling. Hy meen ons moet hierdie “hibriede teologie omarm” en sê: “Die voortgesette interaktiewe gesprek sal die kerk se vashou aan Christus en aan die Skrif én aan diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes van die samelewing dien en kan ons op ’n trajek plaas wat buitengewone koninkrykswins bied … Dié akkommodering van mekaar se denke en oortuigings het ons kerklike lewe buitengewoon verryk”. Hy kom uiteindelik uit by ’n “teologie van diversiteit”.

Die situasie het my laat dink aan die geskiedenis van koning Saul in die Bybel. Die Here het vir hom ’n duidelike opdrag gegee om die Amalakiete uit te roei. Hy moes geen ontferming betoon nie. Saul was egter ongehoorsaam aan die Woord van die Here. Toe hy met allerhande mooiklinkende verduidelikings homself wou regverdig het Samuel gesê:

“Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vir my gesê het … gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

Saul se ongehoorsaamheid het afgestuur op ’n tragedie vir homself en vir Israel.

Die NG Kerk is ook op pad na ’n afgrond en tog volhard ons voorgangers in die kerk steeds om die Here te vertoorn met “slimstories” oor sy Woord, net soos wat Saul gedoen het.

Latere byvoeging

In Jeremia 48:10 (NLV) staan die volgende:

“’n Vloek rus op elkeen wat weier om die werk van die Here te doen. ’n Vloek rus ook op elkeen wat nie dié doodmaak wat die Here hulle beveel het om dood te maak nie!”

Dit sluit baie aan by wat Samuel vir Saul gesê het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui