Brief aan NGK ASM 2019

Kyk ook:

Jan Louw het die volgende brief op 5 Januarie 2020 aan die dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinodale Moderamen (ASM) gestuur na aanleiding van die homoseksuele besluit van 2019.

Op 8 Januarie 2020 het hy egter ook die brief, tesame met ’n begeleidende brief, aan die volledige ASM gestuur van ongeveer 50 mense. Vir die begeleidende brief, kyk Brief aan NGK ASM begeleidende brief.

*********

Dr Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
Hatfield
Pretoria

5 Januarie 2020

INSAKE BESWAARSKRIFTE AAN DIE ALGEMENE SINODE

Geagte dr Gustav Claassen en lede van die Dagbestuur van die ASM

Ek skryf hierdie as ʼn brief van persoonlike vermaning aan jou en aan die ander lede van die ASM, by name: ds Nelis J van Rensburg, ds Nioma Venter, dr Dewyk Ungerer, ds Maartje van der Westhuizen, dr James Kirkpatrick en ds Elise Klut.

Ek het in die vakansietyd gekyk na die beswaarskrifte/gravamina wat veronderstel was om by die Algemene Sinode gehanteer te word.

Wat my opgeval het in hierdie lys van gravamina is die groot aantal ernstige en weldeurdagte pleitredes vanuit Ringe en Kerkrade, asook van gerespekteerde teoloë van ons kerk, waarin beswaar gemaak is teen die 2015 Sinode se besluite. Wat my in die besonder getref het, is die briewe van lojale lidmate, wat moeite gemaak het om met die kerk te probeer kommunikeer oor die valse leringe wat nou in hulle kerk ingevoer word.

Ek wil die voorbeeld noem van Kobus Smit van Parowvallei-Oos se brief:

Die Algemene Sinode besluit omtrent bogenoemde (SGV) het my gesin in ʼn ongekende krisis gedompel – die resultaat hiervan was dat my vrou en seun die gemeente verlaat het en tans by Andries Enslin se nuut gestigde kerk, Die Kaapse Lewenssentrum by Bellville Hoërskool inskakel. Ons is 48 jaar baie gelukkig getroud en Sondae na die erediens was dit ʼn instelling om gebeure by die kerk/erediens oor middagete te bespreek – daardie “lekker-om-die-tafel-gesels” het in ʼn nagmerrie ontaard waaruit ek nie weet hoe om te kom die. My passie vir/in my geloof, my gesin, Parowvallei-Oos gemeente en die waarheid soos met God se skeppingsopdrag, Genesis 1:27-28 (waarvan ek en jy voorbeelde/resultate) is, is vir my ononderhandelbaar. Dr Theo Swart (my predikant) staan ons by, maar die wagperiode is besig om vir ons, en vele ander gesinne onherroeplike skade te berokken – dit is baie erg as jou kleinkind wil weet hoekom ouma en oupa nie meer na dieselfde kerk gaan nie.

My ma (92) wil Sondagmiddae, wanneer ons haar besoek, weet wat alles by die kerk aangaan – “ek hoor snaakse stories” – as sy moet weet dat ons vanweë die AS besluit nie meer in dieselfde kerk is nie…

Meer as 70 gravamina is by die 2019 Sinode ingedien. Die gravamina by die 2016 Sinode het meer as 600 bladsye beslaan, waarvan by verre die grootste deel gegaan het oor besware oor die 2015 besluite.

Gravamina is amptelike dokumente van die Sinode, maar hierdie dokumente is nooit werklik in behandeling geneem nie. Die gravamina van 2019 is nie eens in die agenda opgeneem nie, maar is eenkant op CD gesit en volgens my kennis is dit nooit eens hanteer nie.

Die wyse waarop met die gravamina omgegaan is, skep die indruk van “hubris” by die mense wat leiding neem in die kerk. Die Woordeboek (HAT) beskryf die woord hubris as: aanmatiging, ….. roekeloosheid; opstandigheid teen die goddelike gesag; skending van die sedelike wette op onbeskaamde wyse.

Ek wil vra dat die ASM hieroor hand in eie boesem sal steek. Die indruk word geskep dat dit net die “kundiges” is wat werklik insig het in die ingewikkelde sedelike kwessies van die moderne samelewing. Die Skrif het skynbaar ʼn Boek vir die ingewydes geword, waarby die gewone mense nie kan saampraat nie. Dit is skynbaar ook net die “spesialiste” wat kan aanspraak maak op die leiding van die Gees?

In baie van die gravamina word julle herhaaldelik gewaarsku oor afvalligheid en afwyking van die leer van die Skrif. Julle het julle daarvoor doof gehou en hardkoppig voortgegaan om julle ding te doen. Die LGBT aktiviste in die kerk is gou om ander te herinner aan die Seisoen van Luister, maar ag hulleself verhewe bo die gesindheid van leerbaarheid, wat hulle graag aan ander voorhou.

Die Dagbestuur van die ASM het nou die verantwoordelikheid om die afvallige koers wat die Sinode van die NG Kerk ingeslaan het, te verdedig en verder te implementeer. Ek wil julle vir oulaas waarsku om ná te dink oor dit waarmee julle besig is. Die Kerk is nie maar net nog ʼn vereniging van die samelewing nie. Die Kerk is God se unieke instelling op aarde, waaroor Hy heilig is. Wie sy Kerk skade aandoen sal beslis nie ongestraf bly nie. Hy noem die Kerk sy Bruid en Hy is baie gesteld op haar reinheid.

In sekere gravamina word julle gewys op, wat genoem kan word, ʼn kerkordelike gekonkel in sinodale besluitnemingsprosesse rondom die homoseksuele kwessie. Dit is ʼn skande waaroor veral die aktuarius, dr Ungerer, regop behoort te sit, want dit hoort nie so in die kerk nie.

Dr James Kirkpatrick, jy het ook ʼn voorlegging vir die Sinode ingedien, waarin jy gevra het dat die 2015 besluite oor homoseksualiteit gehandhaaf sal word. Jy voer aan dat ons moet kennis neem van veranderinge in Skrifbeskouing. Jy vra dat ons die Bybel “kultureel-sensitief” moet lees. Met sulke argumente wil jy die Here se duidelike opdragte in sy Woord oor ʼn heilige lewe omseil.

Jy sal nie op die Dag van die Here, met daardie voorlegging van jou in die hand, voor die Here wil verskyn in die verwagting dat Hy genoeë daarmee sal neem nie. Daarvan is ek oortuig!

Dieselfde geld vir jou, ds Nelis Janse van Rensburg: Jy het leiding geneem onder die mense wat lank voor die tyd, voorbrand gemaak het vir die besluite wat uiteindelik in 2019 tot stand gekom het. Jy het verder toegesien hoedat jou vriend, Chris van Wyk gruwelik in die kerk en in die samelewing verguis is, bloot omdat hy op ʼn Christelike manier in ʼn kerklike debat van jou verskil het. Jy weet baie goed, Chris het niks verkeerd gedoen nie, maar jy het nie vir hom in die bres getree toe wêreldse magte op hom toegesak het nie.

Jy sal nie jou hande in onskuld kan was oor die onreg wat Chris as ʼn medebroer van jou aangedoen is, op die dag as jy voor die Here verskyn nie.

Ek is nie ʼn profeet om vir julle as Dagbestuurslede van die ASM te sê wat in die nuwe jaar met die NG Kerk gaan gebeur nie. Al wat ek weet, is dat ek hierdie brief vir julle moes skryf. Ek weet uit die beswaarskrifte wat ek gelees het, dat julle nie die Kerk, die ware Kerk van die Here, aan julle kant het nie. Julle het nie die Woord van God aan julle kant nie en julle het ook nie die Here aan julle kant nie.

Toe Saul in so ʼn situasie beland het, het hy agter Samuel aangehardloop. Hy het aan Samuel se mantel probeer vashou, maar dit het geskeur. Samuel het toe vir hom gesê:

“Die Here het die koningskap van Israel nou van jou afgeskeur en dit gegee aan jou naaste wat beter is as jy. Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie” (1 Sam 15:28-29).

ʼn Emeritus leraar

Ds JD Louw

13 thoughts on “Brief aan NGK ASM 2019”

  1. Uitstekende brief, Jan.
    Dit bring n goed-geformuleerde getuienis na vore.
    Baie mense in die NGK wil dit sê, maar het nie die woorde nie.
    Baie dankie.

  2. Na al die “slim besluite” van die NG Kerk,loop die kerk leeg. Wie moet ons blameer: die moderator en sy geagte enersdenkende kollegas. Binnekort gaan julle niemand hê om voor te preek nie. SOLA SCRIPTURA!!!

  3. Ek ondersteun die skrywer ten volle.
    As Sodom en Gomorra juis vanweë hul blatante homoseksuele vergrype deur God vernietig is, wat is anders in 2020?.
    Ons is telkemale deur die profete gewaarsku om nie enige byvoegings of weglatings in die Bybel te maak nie.
    Ons word ook op baie plekke herinner dat sonde altyd sonde sal wees. Daar is geen plek vir vertolking nie.

  4. Dit is so jammer dat God se kinders so om die bos gelei word met “new age” en skrif wat verdraai word om die wêreld te pas. Ek bid vergifnis oor elke persoon wat vasgevang is in die leuen en dat mense tot hul sinne sal kom en die Waarheid hulle kom vry maak, totaal en al los van die leuen. Satan het gekom om te roof steel en te vernietig, en Jesus het gekom dat ons die lewe in oorvloed kan hê. Ons spreek verwarring in al satan se planne en bid dat die sluier van mense se gesig sal afval en vir bonatuurlike vrymaking van God se kinders. Ons kom claim ons geliefdes terug vir U en ook die lewe wat U vir hulle beplan het in Jesus se Naam. Amen en amen

  5. Net een vraag. Wat maak die opregte, waaragtige, Bloedgewaste, weergebore kinders van God NOG in die NG Kerk(kan ook nie meer dit ’n kerk noem nie)?

    1. Janine
      Ek wil twee opmerkings maak oor jou vraag.
      In hierdie bedeling sal daar altyd koring en onkruid saam groei. Dis nie vir ons om die onderskeid te tref tussen wie wedergebore is en wie nie.
      Verder begin die werklikheid almeer vir my duidelik te word dat ek nie in die eerste plek aan ’n kerk of ’n denominasie behoort nie, maar aan ’n gemeente. Op hierdie stadium probeer ek met my kerk kommunikeer, maar my ware geestelike tuiste is in my gemeente.

  6. Ds. Jan, Baie dankie vir die moeite om die beswaarskrifte/gravamina deur te lees. Nou wéét ons die kerk kan nie sê hulle is nie gewaarsku nie.

    Uiteindelik, die wyse waarop die ‘bestuur’ omgaan met die Skrif (Skrifbeskouing) is bepalend van hulle aksie. Dis duidelik dat hulle nie gepla is met die Woord nie… hulle glo soos hulle wil… daar is nie ’n hel nie… daar is nie ’n duiwel nie…

    Dit maak die werk van ‘glodiebybel’ net soveel meer belangrik.

  7. Jan ek admireer jou dat jy die moed van jou oortuiging aan die dag gelê het met die skrywe van jou aan die dagbestuur van die ASM. Hoe ondenklik is dit dat die persone wat jy by die naam genoem het hulle laat meesleur het deur die oordrewe populistiese humanistiese lewensbeskouing wat so tiperend van ons tyd is op alle vlakke van ons samelewing. Nog meer so met die vertolking van die woord van God. Ek hoop van harte dat hulle kennis geneem het van die inhoud. Ek bid jou sterkte toe.

  8. Ja, dis goed dat gelowiges begin praat en hul harte opmaak. Ek is lank al nie meer deel van die NGK nie, maar ek het daar in grootgeword en dit wat nou gebeur is onaanvaarbaar vir God.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui