Brief aan NGK ASM begeleidende brief

Kyk ook:

Op 5 Januarie 2020 het Jan Louw ʼn brief van vermaning aan die dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinodale Moderamen (ASM) gestuur na aanleiding van die homoseksuele besluit van 2019.

Op 8 Januarie 2020 het hy ook die brief saam met ’n begeleidende brief aan die res van die ASM gestuur. Die volledige ASM bestaan uit ongeveer 50 mense. Hier volg slegs die begeleidende brief wat aan die volledige ASM gestuur is (dit sluit die dagbestuur in). Vir die oorspronklike brief wat op 5 Januarie 2020 aan die dagbestuur gestuur is, kyk Brief aan NGK ASM 2019.

************

Aan die volledige NG Kerk ASM

8 Januarie 2020

Geagte Vriende in Christus

My naam is Jan Louw. Ek is ʼn emeritus leraar, wat met die leierskap van die NG Kerk wil praat oor wat nou in die kerk gebeur. Neem asb kennis van die brief wat ek aan die Dagbestuur van die ASM geskryf het.

Dit is die tweede keer in my lewe dat ek ʼn brief aan die ASM stuur. Die vorige keer was in 2011, nadat die AS besluit het dat ons ruimte maak vir mense wat nie in die duiwel as ʼn persoonlike wese glo nie. Kobus Gerber het my geantwoord dat as ek beswaar het met die besluit, ek volgens die gewone kanale ʼn beswaarskrif moet indien.

Ek en baie ander mense het beswaarskrifte ingedien oor hierdie gek besluit. Ons het niks daarmee bereik nie. ATLAS het eenvoudig die oorspronklike besluit herbewoord en die amptelike besluit van die NG Kerk is steeds dat lidmate nie in die duiwel hoef te glo nie. Die saak het in 2011 en 2013 gedien en in 2015 het ATLAS in ʼn verslag aan die AS die besluit bevestig. Die moderator Nelus Niemandt en ander leidende figure het ook die besluit konstant verdedig.[1]

Dit het nou vir my duidelik geword dat die NG Kerk met daardie optrede, in werklikheid vir die duiwel ʼn deur wawyd oopgemaak het om in te kom en sy plek met stemreg in te neem in ons sinodale vergaderings. Ons het gedoen wat Adam en Eva gedoen het met die sondeval. Hulle het ʼn deur vir die “slang van ouds” (Op.12:9) oopgemaak en hom so in staat gestel om sy eie koninkryk op God se eiendom te kom vestig.

Ek wys in my brief aan die Dagbestuur daarop, dat die lidmate weer met ʼn stortvloed beswaarskrifte, tevergeefs beswaar gemaak het teen ʼn dwaling wat eens so erg is as met die Sinodebesluite van 2011 en 2013 (oor die bestaan van die duiwel).

Dit is vir my duidelik dat die Here in hierdie dae besig is om sy kerk te suiwer met die oog op die Einde waarvan die Skrif ons leer. Daar is ʼn merkwaardige ooreenkoms regoor die wêreld in dit wat hom nou in ons eie kerk afspeel.

Ons moet ons nie laat mislei deur ervarings van sogenaamde eenstemmigheid, heerlike samesang of goed georganiseerde sinodale vergaderings nie. Ons moet eerder raaksien dat daar ongemerk ʼn bewindsoorname plaasgevind het!

Die satan sal sy teenwoordigheid in die NG Kerk almeer laat geld. Hy is ʼn strateeg. Hy het begin met die leuen dat hy nie bestaan nie, maar sy doel is om toegang te kry tot die kerk van die Here en om uiteindelik volledig beheer oor te neem.

Die duiwel se teenwoordigheid word gou duidelik as daar verskeurdheid, onreinheid, gemeenheid, bedrieglikheid en verwarring ontstaan. Ek het van hierdie dinge in my brief aan die dagbestuur uitgewys. Hierdie dinge sal toeneem, want die NG Kerk het nou eenmaal amptelik vir die duiwel plek gegee in God se kerk.

Mag julle in die verantwoordelike posisies waarin die Here julle gestel het, verstaan dat die “allerheiligste geloof” van die kerk (Judas vs 20) en ook jou geloof in hierdie tyd op die spel is. Dit is waaroor dit ten diepste in hierdie dae gaan. Niemand kan daaraan ontkom nie.

Judas gaan in sy brief voort om te sê:

“Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm.  Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is” (Judas v22-23).

Hy sluit sy brief af met die volgende woorde en daarmee wil ek ook afsluit:

“Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid!

Amen.”

Jan Louw

{ Kyk Brief aan NGK ASM 2019 wat aan hierdie brief aangeheg was. }

Voetnotas

[1] Kyk Die NG Kerk en die duiwel/bose.

2 thoughts on “Brief aan NGK ASM begeleidende brief”

  1. Dankie Jan vir die moed wat jy aan die dag lê om op te staan vir die waarheid te midde van veroordeling van menige van jou kollegas. Die NG Kerk is tans op die randjie van die afgrond en het met die besluit oor die gays ander kerk ook in n krisis gedompel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui