Minagting

Kyk ook:

Jan Louw het die volgende op 11 November 2019 op Facebook geplaas.

************

MINAGTING!

11 November 2019

Jan Louw

Ek was onlangs by ’n Ringsbyeenkoms waar die toestand in die NG Kerk bespreek is. Dit was na aanleiding van die uitsprake van die 2019 Algemene Sinode. Een van die ouderlinge teenwoordig het die woord “minagting” gebruik om sy emosies oor die kerk mee uit te druk.

Minagting vir die standpunt van die gemeentes

Nelis Janse van Rensburg, as jy en jou raadgewers in hierdie dae wonder wat nou in die NG Kerk aangaan, moet hulle verstaan dit gaan oor die gemeentes se ervaring van minagting. Jy het kant gekies vir die LGBT gemeenskap en minag die geloof van die lidmate in die kerk.

Jy en jou adviseurs moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat nou aan die gang is. Ons het begin aanvaar dit help nie om te probeer praat met die Sinodemense daarbo nie. Julle sit soos die koninklikes tydens die Franse Rewolusie in julle ivoortorings. Julle neem die houding in dat die gewone Christenmense op straat nie Bybel-geletterd nie. Julle is die “kundiges” wat die vir die “leke” besluite moet neem en vir hulle die Bybel moet interpreteer en basta met die res.

Daar was weer honderd en hoeveel versoeke (beswaarskrifte /gravamina), vanuit die kerk opgestuur na die Algemene Sinode van 2019 toe om met julle te probeer praat. Dit was nie eens in die Agenda ingebind nie. Toe iemand op ’n stadium gevra het wanneer die Sinode daarby sal uitkom is daar gesê: Later! Die “later” het nooit aangebreek nie.

By die vorige Sinodes in 2015 en 2016 was dit dieselfde. By 2016 se Sinode het die besware meer as 800 bladsye beslaan. Jy is gevra dat die lidmate se besware na die streeksinodes verwys word, waar almal hulle insette kan lewer, maar jy as voorsitter was hardkoppig en jy wou die saak eenvoudig afhandel.
Dieselfde het gebeur met die kerk se besluit in 2011 en 2013 dat ons nie in die duiwel as persoon hoef te glo nie. Al die keurig geformuleerde dokumente wat met toewyding vanuit die kerk voorberei is om beswaar aan te teken vir hierdie fundamentele dwaalleer wat in die kerk ingevoer is het op niks uitgeloop nie. Dit is netjies omseil met ’n ander bewoording wat op dieselfde neergekom het. Die NG Kerk bely steeds ’n onpersoonlike bose, vir die wat so wil glo.

Verstaan jy nou Nelis dat die gewone lidmate voel dat ons as leke behandel word en dat die Sinode ons met minagting behandel. Dit is hoekom daar nou opstand, rebellie in die kerk ontstaan het.

Minagting vir die Woord van God

Nelis, jammer om vir jou te sê dat die 2019 Sinode minagtend met die Skrif omgegaan het. Norma Rossouw van Goudland het andermaal uitgewys dat jou Sinode besluite geneem het sonder om die Bybel oop te maak by die Skrifgedeeltes wat ter sprake is. Ek wil vra wanneer laas ’n Sinode hoegenáámd die Bybel oopgemaak en geraadpleeg het by die Skrifgedeeltes wat so duidelik leiding gee oor ’n homoseksuele lewenswyse? Is daar ooit ernstig in gebed na die Here se wil gevra oor hierdie hoogs belangrike saak? 2019 se Sinode het bloot verklaar dat ons ’n “vasgelooptheid” oor die Bybel bereik het en toe is daar afgestap van die Bybel.

Is dit nie waar nie Nelis? Hoe kry jy dit reg om teen hierdie agtergrond voorspraak te maak vir jou Sinode se besluite, nadat julle die Woord van die Here geminag het?

Minagting vir die Here

Uiteindelik gaan dit hier, Nelis, oor minagting vir God. Julle skets ’n eensydige prentjie van God asof Hy net ’n inklusiewe God is. Jy weet mos dat God ook eksklusief is. Jesus het in baie gelykenisse vertel van mense wat uitgewerp sal word in die buitenste duisternis en nie plek sal hê in sy koninkryk nie. In die laaste verse van die Bybel lees ons nog vir oulaas dat daar mense is wat nie in die hemel toegelaat sal word nie (Op 22:15,19).

Julle is verontwaardig daaroor dat daar leraars en lidmate is wat nie met julle op julle pad wil loop nie. Dit sou dan Christelik wees om ruimte te maak vir almal se standpunte en Skrifinterpretasies.

Die eer van die Here is egter hier op die spel, Nelis. Ons kan ons nie skaar by ’n organisasie wat voorgee dat hy van God is, maar in werklikheid minagting het vir Hom wat heilig is nie (1 Pet 1:15). Dit is waaroor dit gaan.

Die priester Eli het sy seuns wat goddeloos geleef het, meer gerespekteer as wat Hy God geag het. God het toe vir hom gesê: “Die een wat My eer, sal Ek eer, en die een wat My minag, sal Ek minag” (1 Sam 2:30). Eli het van sy stoel afgeval en gesterf en die priesterskap is aan iemand anders gegee (1 Kon 2:27).

Kommentaar

Beste ds Jan Louw

Dankie vir jou besorgdheid oor die eenvoudige grondwaarhede van die Woord en jou waarskuwing dat individue soos ds Nelis van Rensburg verkeerd optree. Ons weet dat Ds Van Rensburg nie alleen staan nie. Hy het ook nie net 2 of 3 wat hom in sy ignorering van glashelder Skrifwaarhede ondersteun nie. Inteendeel, daar is ’n groep rondom hom wat saam wal gooi teen die duidelike Bybelse beginsel van ’n huweliksverbintenis wat slegs mag bestaan tussen n biologiese man en n biologiese vrou. Sy ondersteuners is onder meer Malan Nel, André Bartlett, Dewyk Ungerer en ’n honderd meer wat hulle handtekeninge op ’n brief geplaas het in aanloop tot die 2019 AS. Die wyd gerespekteerde prof Malan Nel het bv reg aan die begin van die gay-debat op die afgelope 2019 AS outoritêr verklaar dat die kerk op geen manier nou mag omdraai nie. Die kerk mag met ander woorde op geen stadium onder ’n skuldbesef van watter verkeerde pad ookal omdraai nie. Dit was ook Nel en Botha wat reg aan die begin vd 2007 AS op Boksburg net so outoritêr verklaar het dat die 2 jaar lange verslae van die AS se taakspan oor homoseksuele verhoudings nie moet dien nie, omrede dit kwansuis tot kerkskeuring sou lei. Die Woord staan vir hierdie manne ook sentraal – hulle verklaar dit ook so – maar dis vir hulle ’n boek wat by die ontwikkelende mens moet aanpas. Die hedendaagse mens hoef hom nie met doodgewone eenvoudige Skrifwaarhede uit die verre verlede te assosieer nie, want dis immers baie ou waarhede uit ’n baie ou boek. Mag ek met respek dan ook byvoeg: n Baie ou boek van ’n baie ouer God. Ds Jan, iewers trek ons saam met jou ’n streep in die sand, nie uit hoogmoed nie, maar in biddende afhanklikheid van die Here, en verklaar ons: tot hiertoe en nie verder nie. Sy Woord, sy eer en sy kerk se lewe van heiligmaking is weer eens op die spits gedryf, soos so dikwels deur die eeue se geskiedenis van sy kerk.

Groete in Christus

Gerhard Mahne

1 thought on “Minagting”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui