Die volgende dele in die Bybel praat oor hofsake:
- Matteus 5:25-26 (Lukas 12:58)
- Matteus 5:40
- 1 Korintiërs 6:1-11
- Handelinge 25
Al hierdie gedeeltes word kortliks hieronder bespreek. Dit is egter slegs 1 Korintiërs wat werklik iets oor hofsake tussen gelowiges sê.
Matteus 5 (Lukas 12:58)
(25)“As iemand ‘n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ‘n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. (26)Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”
Hier word verwys na mense wat in die moeilikheid is. Die boodskap is dat jy nie dapper moet probeer wees en ‘n swak saak in die hof gaan veg nie.
Matteus 5:40
(40)As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere.
Hierdie uitspraak is deel van die beginsel dat jy jou nie teen ‘n kwaadwillige mens moet verset nie (kyk Die Bybel oor “’n oog vir ’n oog” en “’n tand vir ’n tand”).
Dit sê daarom nie dat jy nie iemand hof toe moet vat nie.
Handelinge 25
In Handelinge 25 beroep Paulus hom tot die keiser. Die konteks word gegee in vers 9-11:
Festus wou die Jode ‘n guns bewys en het vir Paulus gevra of hy bereid sou wees om in Jerusalem verhoor te word. Paulus se antwoord is dat indien hy skuldig is, hy bereid om die doodstaf te kry, maar dan sê hy: “Maar as daar niks in hulle beskuldigings teen my steek nie, kan niemand my as guns aan hulle uitlewer nie. Ek beroep my op die keiser.”
‘n Mens kry dus die idee dat hy dit gedoen het om homself te beskerm. Dalk het hy geweet dat hy nie ‘n regverdige verhoor in Jerusalem sou kry nie.
Kyk ook chatgpt.com/?prompt=Hoekom het Paulus hom tot die keiser beroep.
1 Korintiërs 6:1-11
Ek haal ‘n paar dele aan:
(1)Gaan iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie?
(4)As julle oor alledaagse dinge geskille het, laat julle dan dié mense as regters optree op wie die gemeente neersien?
(5)… Is daar dan nie ‘n enkele verstandige mens onder julle wat ‘n saak tussen gelowiges kan besleg nie? (6)Maar gaan een gelowige nou met die ander hof toe, en dit voor ongelowige regters?
(7)… Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?
Kommentaar
In die eerste plek moet ‘n mens in ag neem dat Paulus hierdie brief geskryf het: “aan die gemeente van God in Korinte” (1 Korintiërs 1:2). Dit gaan dus hier oor hofsake tussen gemeentelede.
In vers 4 praat Paulus oor alledaagse geskille. Dus wil dit voorkom of dit oor kleiner sake gaan. Dit sluit nie sake in waar iemand byvoorbeeld ses maande of ‘n jaar se inkomste verloor het nie.
Die res van hierdie gedeelte bevestig dit:
- Paulus moedig gelowiges dus aan om geskille op te los binne die gemeente.
- Paulus stel voor dat jy eerder onreg ly ter wille van vrede.
Wanneer dit by groter sake kom, dan twyfel ek of hierdie riglyne steeds geld.
Veronderstel dit gaan oor iemand wat ses maande of ‘n jaar se inkomste verloor het, kan dit binne die gemeente opgelos word? Veronderstel die gemeente besluit dat die een persoon die ander persoon moet vergoed en hy kan nie of wil nie, wat dan? Die gemeente kan die skuldige wel ekskommunikeer, maar dit herstel nie die verlies van die ander persoon nie.
‘n Mens kan tog ook sekerlik nie so ‘n groot verlies maar net aanvaar ter wille van vrede nie.
Dit wil voorkom of hierdie gedeelte aansluit by Matteus 5:38-42 wat sê: Moenie die beginsel van “’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.” in alle omstandighede toepas nie. Ly eerder skade in die kleiner dinge.
Hierin is wysheid nodig.