Kyk ook:
- Rheinier Nel
- Dominee vat NG Kerk hof toe ná hulle hom uitskop (3 Aug 2025) – Marius Coetzee
- Dominee geskors oor hy gemeente van NG Kerk laat wegbreek (13 Jul 2025) – Nico Sennett
Saak J Dannhauser / NG Kerk: Opsommende oorsig
1. Inleiding en opsommende agtergrond
Ek, Johann Dannhauser, gebore in 1946 te Heilbron in die Noord-Vrystaat, was my hele lewe in die NG Kerk tot Desember 2024. My ouers was gelowige mense en ek is as baba gedoop in die NG Kerk.
Op 10-jarige ouderdom het ek as koshuiskind tydens ‘n Pinksterdiens in NG Heilbron-Suid gehoor dat die leraar, ds. S Burger, uitwys dat elke mens by geboorte ‘n verlore sondaar is en dat al hoe ‘n mens ewige redding en geloofsekerheid kan verkry, is om deur die onsigbare en genadige werking van die Heilige Gees die soenverdienste van Jesus Christus vir jouself in geloof te aanvaar en Hom Here van jou lewe te maak. Ek het op uitnodiging van die leraar aan die aanwesiges saam met hom so gebid en vanaf daardie oomblik geweet dat ek in Christus gered is vir tyd en ewigheid.Wat gebeur het, is dat ek, soos elke mens in dieselfde omstandighede, deur die Heilige Gees weergebore is, dat Hy ‘n beherende aandeel in my lewe geneem het en dat daar vir my ‘n lewe uit dankbaarheid en geestelike groei volg. Soos Adam deur God ‘n geleentheid gegee is om ‘n besluit in gehoorsaamheid te neem en Adam dit negatief geneem het, so het Christus gekom om aan elke verloregaande mens ‘n geleentheid te bied om op grond van Sy soenverdienste en onder beskikking van die Heilige Gees ‘n besluit tot ewige redding te neem.
Ek het in 1962 in die gemeente belydenis van geloof onder die konsulent, ds. Bornman, afgelê. Ná matriek en diensplig het ek aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en is benewens my hoofvak Staatsleer geskoold in die Christelike Wysbegeerte. In 1975 het ek D.Phil. in Staatsleer behaal.
Deur my beroepsloopbaan en gesinslewe het ek in verskillende NG-gemeentes as diaken en ouderling gedien, terwyl ek in 1997 by die Gideons Internasionaal aangesluit het. Veral by laasgenoemde het ek bevestiging ontvang dat weergeboorte die sleutel tot bekering en ewige redding is. In die proses het ek in my lewe ervaar hoe letterlik miljoene mense deur soortgelyke weergeboorte as ek tot redding kom en die vrugte van bekering dra. Daar is volgens die Bybel geen ander manier om gered te word nie. (Joh. 14:6)
In 2013 het ek en my vrou, André, verhuis na Orania en lidmaatsertifikate laat oordra na NG Orania. In die gemeente het ons Sondagmiddae vanaf 16:00-17:00 ‘n informele lofprysings- en getuienisgeleentheid in die kerk begin en gelei, met goedkeuring van die kerkraad, maar wat nie deur óf die leraar, ds. S Albertyn, of enige kerkraadslede bygewoon is nie. In 2017 is ek as ouderling verkies. Sedert 2018 het ek as ouderling by drie geleenthede met ds. Albertyn, in sy studeerkamer gaan praat en vir hom gesê ek meen dit is nie Skriftuurlik vir hom om in ‘n erediens te sê almal teenwoordig is gered nie. Toe die situasie egter voortduur, het ek my beswaar in November 2021 in die kerkraad geopper, waar oudl. C Boshoff dit onmiddelik as “leerstellige verskil” bestempel het. Ek het gedreig om uit ‘n erediens te stap as ds. Albertyn weer sê almal teenwoordig is gered.
Die saak is heen en weer in die kerkraad bespreek, o.m. deur ‘n spesiale kommissie, maar daar is nie tot uitsluitsel gekom nie. Ek het die saak nooit buite die kerkraad geopper nie en dit geensins tot strydpunt verhef nie. Oudl. Boshoff het egter voortdurend gesorg dat die saak op die sakelys van die kerkraad bly en het ‘n brief van vermaning aan my gerig.
Ek het gevolglik in Oktober 2023 die saak skriftelik aan die Ring van Hopetown voorgelê vir bemiddeling. Die Ring het aanvanklik die saak terugverwys na die kerkraad, maar nadat oudl. Boshoff in sy persoonlike hoedanigheid ‘n klag van “leerdwaling” en “skeurmakery” teen my by die ring gelê het, het laasgenoemde ‘n tugliggaamsitting gereël om sowel die klag teen my as ‘n saak van “nadelige gerug rakende ds. Albertyn” aan te hoor.
Ná die verhoor het die ringstugliggaam bevind dat ek skuldig is aan “leerdwaling”, dat geen bevinding gemaak word oor “skeurmakery” nie en dat daar “geen gronde is vir ‘n nadelige gerug rakende ds. Albertyn nie”en dat hy trouens Skrif- en belydeniskorrek in sy uitsprake is. Die ringstugliggaam het voorts beslis dat ek onthef word as ouderling en dat my lidmaatskap van die NG Kerk opgehef word.
Hierop het ek geappeleer na die Sinode van Noord-Kaapland, wat deur ‘n appélliggaam op grond van die beskikbaargestelde dokumentasie en sonder ‘n verhoor die besluite van die ring bekragtig het. Daarop het ek op grond van leerstelligheid/gravamen geappeleer na die Algemene Sinode, wat aan die hand van sy appélliggaam my op 13 Desember 2024 meegedeel het dat in finale uitspraak die beslissing van die Sinode van Noord-Kaap bekragtig word.
2. Volledige dokumentasie
Ek het deur die hele skakeling tussen my en die verskillende kerkliggame nougeset rekord gehou van alle tersaaklike dokumentasie. Hierdie dokumentasie is geplaas in ‘n elektroniese lêer vervat en wat op Google Drive geplaas is, welke lêer op versoek per elektroniese skakel besigtig kan word. Hierdie dokumentasie verteenwoordig volledige kopieë van al die tersaaklike dokumente, sonder enige kommentaar, sodat die leser self ‘n objektiewe beoordeling kan maak.
3. Kern van die saak
Die kern van die saak is dus: Wat behels volgens die Bybel redding/weergeboorte/geloofsekerheid en hoe word ‘n mens dit deelagtig? Ek antwoord daarop soos hierbo onder punt 1 uiteengesit is.
Aan die ander kant volgens ds. Albertyn en oudl. Boshoff (NG Orania) en di. T Pienaar, M Kluge en F van Heerden (Ring van Hopetown) geskied dit by wyse van uitverkiesing deur die Heilige Gees op grond van die genade van Jesus Christus, dat dit eenvoudig op jou neerdaal en dat ‘n mens “dit net uit dankbaarheid kan ontvang.” Hulle sê verder dat in geval van doop as baba jou redding verseël is. Hierdie siening van die leraars is net so gerubberstempel deur die leraars op die tugliggame van onderskeidelik die Noord-Kaap Sinode en die Algemene Sinode.
M.a.w. hulle almal sê dat ek met my siening dwaal en dus by implikasie ‘n gevaar vir die NG Kerk is. In hul standpuntstelling haal hulle nie veel Skrifgedeeltes aan nie, maar steun grootliks op die belydenisskrifte van die NG Kerk. Daarenteen fundeer ek my siening en geloof uitsluitlik op spesifieke Skrifgedeeltes en onderskryf daarmee Sola Scriptura.
Aangesien in Heb. 4:12 verklaar word dat die Woord “skerper is as enige tweesnydende swaard”, kan albei die onderhawige sienings nie korrek wees nie en is dit my submissie dat die genoemde ampsdraers van die NG Kerk dwaal. Dit beteken dat die NG Kerk as sulks in sy sg. verlossingsleer dwaal en mense mislei. Dit is na my beskeie mening die belangrikste enkele probleem waarmee die NG Kerk tans te kampe het en dat dit, soos hieronder in besonderhede uiteengesit sal word, die kerk voor sy oomblik van waarheid te staan gebring het.
4. Resente NG Kerk geskiedenis
Sedert die NG Kerk my in Desember 2024 finaal uitgeban het, het ek opgelees oor die resente geskiedenis van die NG Kerk en gevind dat die Algemene Sinode in 2002 ‘n waterskeidende besluit weg van die Bybel as die absolute Woord van God geneem het. Die besluit is vervat in die aanvaarding van ‘n verslag wat sinsnedes soos die volgende bevat:”die Bybel as menslike boek”; “menslike ‘foute’ in die Bybel”; “volgens moderne standaarde nie voldoen aan wetenskaplike eksaktheid nie”; “Dus is die Bybelself reeds interpretasie wat in elke tyd opnuut vertolk moet word”; ens.
Daarby het ek ook gesien die verderwende invloed van destydse toonaangewende persone in die NG Kerk soos prof. Julian Müller, dr. Ben du Toit, prof. Jurie le Roux, dr. Kobus Gerber e.a., asook sommige latere NG-leiers, almal wat uitdruklik die onvoorwaardelike Gods gesag van die Bybel betwyfel of betwis het en gesê het dat menslike redelike vertolking van die Bybel die norm behoort te wees. Daarbenewens het “gesaghebbende” menings in Die Kerkbode as mondstuk van die NG Kerk al liberaler geword oor die gesag van die Bybel en was daar selfs die noue konnotasie tussen Die Kerkbode en die godlasterlike publikasie Kletskerk.
Die resultaat was en is dat die konsep van “reddingsleer” met sy noodsaaklike aspek van weergeboorte in die NG Kerk al meer vervaag en selfs in opsigte verdwyn het. Die praktiese effek was en is dat dosente by kweekskole tevoorskyn gekom het wat nie weergebore is nie en dus nie o.l.v. die Heilige Gees gestaan het nie. Hulle het gevolglik weer teologiese studente opgelei vir wie weergeboorte dikwels nie noodsaaklik en ‘n prioriteit was en is nie en so is sulke predikante die bediening ingestuur. Die inkorporering van kweekskole by sg. teologiese universiteitsfakulteite het die liberaliserinsproses en distansiëring van die Bybel verder aangehelp.
Die verdere gevolg van hierdie toedrag van sake is die hele debat wat in die NG Kerk losgebars het oor selfdegeslagverhoudings, die maagdelike geboorte, die wesensaard van Christus, wonderwerke in die Bybel e.s.m. Dit het o.a. daartoe gelei dat selfdegeslagverhoudings deur die Algemene Sinode in 2015 goedgekeur is, welke besluit in 2016 egter met ‘n besluit omgekeer is. In reaksie hierop het ‘n groep gay-predikante en -lidmate na die hooggeregshof geappeleer, wat in 2019 uitspraak gelewer het dat, eerstens, die NG Kerk met sy repliek by wyse van verstek uitgetree het uit onder die spesiale beskerming wat art. 31 van die Grondwet aan kerke verleen; en, tweedens, dat die NG Kerk verplig is om o.a. gay-lidmate sonder voorbehou te aanvaar, gay-lidmate in die kerklike ampte toe te laat en gay-“huwelike” te voltrek. Teen hierdie hofuitspraak het die NG Kerk nie geappeleer nie, m.a.w. dit het dit aanvaar.
Die implikasie is derhalwe dat huidiglik geen instansie of gemeente of leraar van die NG Kerk enige diens of bediening aan of van ‘n gay-lidmaat mag weier nie, want sou dit gebeur, sou dit wetsoortreding wees en dus krimineel strafbaar. Die NG Kerk het daarmee sigself in ‘n hoek geverf en is onder verpligting om m.b.t. ‘n duidelike teenstelling met die Bybel aan burgerlike wetgewing gehoorsaam te wees.
Dit beteken dat wat my betref, is die ironie dat die NG Kerk gay-predikante op die preekstoel toelaat, maar my verban as ouderling en lidmaat omdat ek in die Skriftuurlike weg tot saligheid glo.
Die kardinale punt wat ek egter teen die voorafgaande agtergrond wil maak, is dat groteske dwalings in die NG Kerk die afgelope dekades die gevolg was van dwaling en agterlaat van die Skriftuurlike verlossingsleer. Meer spesifiek, leer die NG Kerk nie dat ‘n mens vir jou redding en ewige saligheid o.l.v. die Heilige Gees ‘n oorgawebesluit vir Jesus moet neem om sodoende weergebore te word nie.
Wanneer jy weergebore word, neem die Heilige Gees ‘n beherende aandeel in jou lewe en sal jy nie in erge mate dwaal nie. Die erge dwalings in die NG Kerk sou waarskynlik nie geskied het indien die kerk gelei sou gewees het deur weergebore leiers nie.
Daarom die slotsom in hierdie hele betoog: Aan die wortel van die huidige probleme in die NG Kerk lê negering van die Skriftuurlike verlossingsleer.
5. Vrugte van bekering
Wat is die lakmoestoets vir bekering? Hoe weet jy of ‘n persoon weergebore is en deur die Heilige Gees beheers word? Jesus het gesê dis maklik – kyk na die vrugte van die boom (Luk. 6:43-45).
Indien ek kyk na die bediening van die Evangelie, sien ek mense wat soos ek ooreenkomstig die Bybel tot wedergeboorte en onder beheer van die Heilige Gees gekom het, radikaal omgedraai het en lewenslank onder beheer van die Heilige Gees in mindere of meerdere mate die vrugte van bekering dra. Dit het begin by die eerste gemeente soos beskryf in Handelinge, ek sien dit in bedieninge in talle Skrifgetroue kerkgenootskappe, dit is sigbaar in bedieninge deur Skrifgetroue leraars en getuienisse op die Internet, ek sien dit in bedieninge soos van Geopende Deure, die Gideons Internasionaal, Operation Mobilisation, ek sien dit in die sneeuballende ondergrondse kerk in China, ek sien dit in evangeliserende kerke in Indië as die land ter wêreld waar die Christendom tans die snelste groei, ens. Ek sien dit direk en indirek in ‘n skare van letterlik miljarde van weergebore siele gewas in die bloed van Jesus – en ek weet dat dit waaragtig is.
In teenstelling daarmee, wys my mense wat waarlik deur die “verlossingsleer” van die NG Kerk tot weergeboorte en radikale bekering gekom het? Dít teen die agtergrond van die voortdurende krimpende getalle van die NG Kerk. Natuurlik is daar binne die NG Kerk weergebore en geredde mense, maar daar is ook ‘n massa misleides en onder wanindruk.
Hoe presies die skeidslyne loop, kan ek nie sê nie – Jesus het gesê die goeie graan en onkruid moet nie in hierdie bedeling geskei word nie, dit sal eendag voor Sy hemelse troon uitgesorteer word. (Matt. 13:36-43)
6. Samevatting
- In hierdie saak tussen my en die NG Kerk dwaal op Skriftuurlike grondslag sowel die kerkraad van NG Orania, as die Tugliggaam van die Ring van Hopetown, die Appélliggaam van die Sinode van Noord-Kaapland en die Appéliggaam van die Algemene Sinode. Die kardinale fout wat hulle almal maak, is om die belydenisskrifte gelyk te stel aan die Bybel.
- In my sondegebrokenheid bly ek oortuig dat my weergeboorte en redding Skriftuurlik waaragtig is en dat my verbanning uit die NG Kerk nie Skriftuurlik regverdigbaar is nie. Wat in die saak eintlik ter sprake is, is nie leerstelligheid nie maar Skriftuurlikheid.
- Voorts herhaal ek dat regdeur my saak met die NG Kerk is die Kerkorde gruwelik verdraai en verbreek.
- Dit kan begryp word dat die verskillende instansies van die NG Kerk betrokke by my saak, nie ‘n duim durf toegee op hul geykte siening en argumentering nie, want dit sou skokgolwe deur die hele NG Kerkstruktuur stuur en die spreekwoordelike kat in die duiwehok loslaat. Bowendien is daar kwessies soos salarisse, pensioene, ens.
7. Pad vorentoe
Vir die pad vorentoe word, wat my betref, die volgende aangestip:
- Omdat die Bybel ‘n verpligting plaas om te getuig en te waarsku, deel ek my geskiedenis met die NG Kerk wyd met die bede en geloof dat die waarheid en betekenis van die Evangelie sal seëvier, ook wat die NG Kerk betref. Daar is groteske dwalings wat hok geslaan moet word ongeag die gevolge vir die dwalendes. Mag laasgenoemde tot besinning, berou en bekering kom.
- Hoewel dit vir my moeilik was, het ek, in gehoorsaamheid aan die Skrif, diegene verantwoordelik vir my uitbanning uit die NG Kerk vergewe. Ek het dit aan die Here oorgegee, bid ek vir Sy genade oor hulle en koester ek geen wrok nie.
- Sover dit die NG Kerk in besonder aangaan, reken ek dat die kerk o.a. moet terugkeer na Sola Scriptura en in die lig daarvan die drie belydenisskrifte in heroorweging moet neem. Regsgeldig is die NG Kerk in ‘n hoek en is dit menslik moeilik om te sien hoe dit daaruit kan kom sonder om jare se debatsvoering en sinodale besluite wonderbaarlik om te keer.
- My vrou het aan die begin van vanjaar skriftelik uit die NG Kerk bedank. Ons kom tans onder Woordverkondiging en in deel in die gemeenskap van gelowiges periodiek by drie Charismatiese gemeentes in ons omgewing, terwyl ons ook uitstekende geestelike voedsel vind by bepaalde Skrifsuiwere predikers op YouTube. Daarby vind ons groot vervulling in ons aktiewe lidmaatskap van die Gideons-bediening.
- Mag in hierdie hele sage alles strek tot slegs Deo Gloria.
Johann Dannhauser
Oranje Eggo S39
Orania
redakteur@ditsem.net
082 773 2150
1 April 2025
Dankie vir die standpunt.
As ek mag opsom.
1. U se dat wedergeboorte noodsaklik is vir redding.
2, Ander NG-kerk-lede in u gemeente se dat mens maar net kerk moet bywoon en dan is ‘n mens gered.
U siening maak vir my in die lig van die skrif sin. En ek verstaan glad nie waaraan daardie mense hulle siening vasmaak nie.
“Wat gebeur het, is dat ek, SOOS ELKE MENS IN DIESELFDE OMSTANDIGHEDE, deur die Heilige Gees weergebore is, dat Hy ‘n beherende aandeel in my lewe geneem het en dat daar vir my ‘n lewe uit dankbaarheid en geestelike groei volg.”
“Soos Adam deur God ‘n geleentheid gegee is om ‘n besluit in gehoorsaamheid te neem en Adam dit negatief geneem het, so het Christus gekom om aan elke verloregaande mens ‘n GELEENTHEID TE BIED om op grond van Sy soenverdienste en onder beskikking van die Heilige Gees ‘n besluit tot ewige redding te neem.”
“In die gemeente het ons Sondagmiddae vanaf 16:00-17:00 ‘n informele lofprysings- en getuienisgeleentheid in die kerk begin en gelei, met goedkeuring van die kerkraad, maar wat nie deur óf die leraar, ds. S Albertyn, of enige kerkraadslede bygewoon is nie.”
Diagnose: Evangeliese opwekkings-pietisme, metodisme, Biblisisme (Solo Scriptura), ongekatkiseerd, individualisme. In kort: leerdwaling en skeurmakery
Prognose: Mattheus 18, Johannes 3 en 6, Romeine 5-9, Efesiërs 1 en 2, kerkgeskiedenis, katkisasie, belydenisskrifte.
Bly om te sien daar is nog so bietjie lig in die donker ruim huis.
Beste Malan,
Jy maak ‘n paar aanhalings en dan slinger jy ‘n paar teologiese vakwoorde rond. Ek lei af jy verskil van Mnr Dannhauser. Maar kan jy ‘n bietjie uitbrei hoekom jy dink hy is verkeerd. Jy gee dan darem ‘n paar hoofstukke uit die bybel, maar hoekom dink jy dit bewys Mnr Dannhauser verkeerd?!
Dagsê,
Die aanhalings, veral waar ek sy woorde beklemtoon het, was om te bewys dat mnr Danhauser nie hou by die teologie, vroomheid en praktyk soos bely en beoefen word in die historiese Gereformeerde belydenisskrifte nie.
Die vakwoorde wat ek “rondgeslinger” het is waar hy afdwaal. Die teksverse is proef tekste vir suiwer leer aangaande die feit dat wedergeboorte geloof voorafgaan en die broederlike tug.
Ek dink Mnr Danhauser sal baie goeie argumente en leerstof uit die Dordtse leerreels kry. Dit gaan hier oor die uitverkiesing en verwerping van gelowiges en ongelowiges. Ek hoor hy se dat die belydenisskrifte nie belangrik is nie, maar dit is juis. Die Kerk het 400 jaar terug met hierdie saak geworstel en uitspraak gegee juis op grond van die bybel. Hy kan sy eie saak versterk en goed begrond deur die Dordtse leerreels goed te bestudeer. Ironies hoe die geskiedenis homself herhaal!
Dit is wel so dat daar ook altyd ‘n ander kant van ‘n saak is. In die geval van dr. Dannhauser moet ek toegee dat hy briljant daarin is om met mooi woorde ‘n bepaalde saak in sy rigting te poog manipuleer. Sonder om in die teologiese ontleding van sy weergawe in te gaan, is dit ook bloot om konsekwent te wees belangrik om kennis te neem van ‘n paar ander feite: In Orania opsigself is dr. Dannhauser met ‘n veelvoud van persone en instellings in stryd. Hy sal byvoorbeeld by herhaling valslik voorhou dat ‘n mosie wat hy by ‘n jaarvergadering van Orania se aandeelhouers rakende die hantering van regspleging in Orania aanvaar is, maar die notules dui duidelik aan dat dit nie die geval is nie. Hy stuur die een dreigbrief na die ander na die Dorpsraad en insake ‘n veelvoud van sake wat hy ag dat sy mening absoluut reg is terwyl die res van die gemeenskap verkeerd is. So sal hy sonder enige toestemming en teen die aanvaarde reels wat hy self by sy intrek onderteken het advertensieborde oprig en wat dan die Dorpsraad forseer om gepaste stappe te neem. Hy bedryf verder sosiale media profiele waar hy by herhaling ‘n magdom persone en instellings met leuens en kwaadwillige stellings belaster. Daar moes al regstappe in die verband teen hom geneem word. Sy gedrag in die betrokke gemeente was dan ook nie anders nie en alhoewel hy sy optrede in indrukwekkende akademiese taalgebruik probeer omhul, is die eenvoudige duidelikheid daarvan vir almal sigbaar. Skeurmakery en veral verdagmakery is ongelukkig by hom nie net binne die betrokke gemeente teenwoordig gewees nie, maar inderdaad rig hy dit teenoor die hele gemeenskap waarbinne hy homself bevind. Pogings om hom tot die logiese oor te haal en veral om ten minste net by die waarheid te hou is ongelukkig onsuksesvol. In die lig hiervan is dit baie jammer dat hy homself laat bekend word het as iemand deur bitterheid jeens almal rondom hom gerig, aangesien enkele gevalle waar hy dalk ‘n goeie punt sou opper dit deur sy geskiedenis en voortgesette gedrag ondergrawe word. Daar is baie mense in Orania wat hoop dat hy moontlik iewers vrede mag vind en sal ons ook met daardie hoop voortgaan.