Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Wilhelm Jordaan: Geloof maak nie onsin van wetenskap | Netwerk24
Outeur onbekend
14 Oktober 2015
Die woordeboek sê om op te ruim, is om netjies te maak; weg te bêre.
As ek T.T. Cloete se gedig “Opruim” reg begryp, gryp die natuur dag en nag in om op te ruim; om dinge netjies te maak, aan die kant te maak.
Dit gebeur deur vernuwing en dryfkrag. Dit geld ook die mens. Ons ruim op en word opgeruim.
So met ’n onlangse opruim kry ek agter in ’n kas ’n lank vergete, stofbedekte afdruk van die bekende kunstenaarsvoorstelling van die “smalle weg” (na die hemel) versus “die brede weg” (hel toe) – iets wat angswekkend en verdoemend in baie huise se donker gange gehang het.
En ek dink nostalgies aan my kinderdae op my oupa se plaas in die Klein-Karoo waar daar so ’n voorstelling was en hoe ons al giggelend uitgewerk het hoe lank jy op die lekker breë pad kan wees om op die nippertjie oor te skuif na die smal paadjie wat na die hemelstad lei; met God se wakende oog daarbo.
Hoeveel opruiming gebeur daar nie in ’n mens se geloofsgeskiedenis nie! Dit is ’n proses wat aanhou en aanhou: om netjies te maak waar jou geloof slordig raak; weg te bêre wat ontoepaslik of dwaas is. Dat jy kan vorder van die benouende donker gang van geloof na die oop ruimtes van verrassing en verwondering.
Baie opruiming is steeds nodig, want die idee van die “smalle weg” is nog met ons – soos dit dikwels gedra word deur fundamentalistiese en charismatiese geloofsuitings.
In die trant van ’n letterlike verstaan van die Bybel; patriargale denke (die ewig bestraffende Vadergod); kerklike magspraktyke; vrees- en angsgedrewe geloof; welvaartsgeloof (bid jouself gesond en ryk); kreasionisme enso(smalweg)voorts.
Gelukkig skep teologiese opruiming vandag ander “weë” as breed en smal. So byvoorbeeld word ’n letterlike lesing van die Bybel lankal deur opwindende eietydse uitlegte vervang. En geloof en wetenskap word gelyktydig omhels en tot opwindende samespraak gebring.
Baie gelowiges aanvaar die evolusieleer en glo die wetenskap sal nog méér bewyse verskaf oor hoe lewe evolusionêr deur natuurlike seleksie ontwikkel het – miskien uit iets soos Richard Dawkins se “primeval soup”. Dit is verruklike kennis.
Wanneer jy bely dat God ís, probeer jy nie die bioloë se hipoteses en bevindings wegverklaar nie. Jy kies ook nie die “maklike uitweg” dat God deur natuurlike seleksie geskep het nie, want ons weet dit nie.
Die geloof dat God is wat Hy is, is ’n keuse om sin te gee aan alles wat ons verstaan van onsself, ander mense, die wêreld en die kosmos – dat daar, buite ons bevattingsvermoë, ’n ontvouende geheim is wat God genoem word en wat ’n mens met verwondering en lewegewende krag vul.
Kommentaar
xxx