APK oor NGK 2015 homo-besluit

Kyk ook:

Hier volg ’n verklaring deur die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) oor die NG Kerk se Algemene Sinode besluit oor homoseksualiteit.

Hierdie verklaring slaan die spyker op die kop.

************

14 Oktober 2015

Verklaring deur die Sentrale Kerkekommissie van die AP kerkverband:

Die NG Kerk se besluit oor selfdegeslagverhoudings

Die AP Kerk is nie verbaas oor die onlangse besluite van die NG Kerk rakende die erkenning van homoseksuele verhoudings nie. Tog het ons wel met diepe hartseer van die besluite kennis geneem.

Die nuwe besluite van die NG Kerk val nie uit die lug nie. Ons was dit te wagte, gegewe die onbeskaamde en eensydige wyse waarop sekere kerkleiers en media lankal reeds sonder gevolge hul siening gepropageer het. Daar is egter ’n dieper oorsaak as media-kanale wat van bepaalde leiers handige pionne gemaak het. Die NG Kerk se besluite wortel ten diepste in ’n hoogmoedige hantering van die Bybel wat hom nou al dekades lank in sy leersale voltrek. Dit is opvallend dat die onlangse besluite van meet af aan deur die meeste dosente van die NG Kerk se teologiese instellings ondersteun is. Talle sinodale besluite oor die Skrif en sy gesag het oor jare heen ook reeds die vermoede bevestig dat die NG Kerk nie meer onomwonde by die gereformeerde standpunt oor die Skrif as die geïnspireerde, duidelike, genoegsame en onfeilbare Woord van God staan nie. Stemme dat die Bybel nie Woord ván God nie, maar eerder as woorde óór God gesien moet word, het al sterker opgeklink. Die konsekwensies hiervan kon nie uitbly nie en die polities-korrekte besluite oor homoseksuele verhoudings is die bewys daarvan. Dit behoort vir ons elkeen ’n waarskuwing te wees: Wanneer daar nie meer nederige onderwerping aan die Woord van God is nie, verander kerke vanaf termostate wat die temperatuur behoort te reguleer, na termometers wat bloot weergee wat reeds in die kultuur aan die gang is.

Ons treur oor die feit dat ʼn eens gereformeerde kerk die duidelike boodskap van die Skrif oor die seksuele lewe van die mens verlaat het. Ons glo immers op grond van die Skrif die volgende rakende dié saak:

  • God het die mens as man en vrou geskep.
  • Die huwelik as lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is die enigste ruimte wat God gegee het waarin die seksuele sy van die mens kan gedy.
  • Wanneer die Bybel oor homoseksualiteit praat, is dit altyd in negatiewe terme. Die verweer dat die konteks aantoon dat losbandigheid die eintlike groot probleem was, oortuig glad nie. Dit is duidelik dat die homoseksuele dade self veroordeel word.
  • Homoseksuele praktyke en homoseksuele verhoudings moet daarom as in stryd met die wil van God afgewys word.
  • Mense wat teen homoseksuele gedrag in die krag van Christus worstel en dit nie wil uitleef nie, moet met groot empatie deur die kerk ondersteun en pastoraal begelei word.

Die nuwe besluit plaas die verhouding van die NG Kerk met die AP Kerk op ’n baie gespanne voet, aangesien die evangelie met die besluit in die gedrang kom. Daarom roep ons die NG Kerk op om haar van hierdie heillose weg te bekeer.

Prof. IA Brink

Direkteur van kerkadministrasie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui