Weet julle nie wat in die Bybel aangaan nie?

Die volgende brief het in Kerkbode verskyn en word hier geplaas ter inligting.

********

Weet julle nie wat in die Bybel aangaan nie? | Kerkbode

26 Augustus 2020

Deur JP Avenant

Ek is ’n meelewende NG Kerklidmaat van Montagu.

Vandag is ek teleurgesteld, verward, kwaad en geskok. Julle besluit om namens leraars aansoek te doen vir die bevestiging van homoseksuele persone in ’n “verbintenis” is skokkend! Hoe kan julle dit doen sonder hulle toestemming? Ek kan nie anders as om my pen op te tel nie.

Die Woord sê die linkerhand moet nie weet wat die regterhand doen nie, maar ek wil vandag vir die eerste keer noem dat ek hard gewerk het om bydraes aan die NG Kerk te maak. Ek het vir Askham/Noenieput in die jare tagtig, ’n lorrievrag (653) diere bemark. In die jaar 1956 was ek ’n jong seun toe die kerk daar deur ’n Hollander Van Altena gebou is. In my lewe het ek etlike predikante se salarisse betaal, predikante finansieel gehelp om hulle kinders deur universiteit te kry.

Op grondvlak het ons as gemeentes hard gewerk by basaars en insamelings om kerke in stand te hou en nou kom jul­le verhewe groep (die sinode) en breek af, veroorsaak verdeeldheid, verwarring en maak goeie werk wat predikante met baie liefde, tyd en energie doen, tot niet om mense van dieselfde geslag te trou.

Lyk my nie julle weet wat in die Bybel aangaan nie? Julle laat God se gesig in skaamte sak. Julle maak van die waarheid en Wil van God ’n bespotting. Die beste wat julle nou kan doen, is om te ontbind en ons predikante op grondvlak, wat slimmer is en nou saamwerk met die gemeente, hulle werk te laat doen. Dan hoef hulle nie voortdurend julle gemors dood te vee en tyd te mors oor julle waansinnige uitlatings en besluite nie!

Die huwelik wat deur God ingestel is, is tussen 1 man en 1 vrou. Nou is julle so lafhartig om nie eens die woord “huwelik” te gebruik nie, maar ’n mooi woordjie soos “verbintenis” daarvoor te kry.

Dit is vir my moeilik en ’n groot besluit om my lidmaatskap op te hef by die NG Kerk, maar ek mag volgens die Woord van God in Romeine 1:32 ook nie hierdie gedrag goedkeur nie. My predikant het my probeer oortuig om nie vandag my lidmaatskap op te sê nie. Hier moet hy weer tyd en energie spandeer wat hy baie beter in ons gemeente kon spandeer. As julle net wil besef hoe­veel skade julle aanrig! Die vloekwoorde en slegsê wat ek oor my lippe geopper het, laat my dink julle is so verwaand.

Hoekom het hierdie besluit so lank geneem? In 1986 is die besluit deur die NG Kerk sinode geneem dat homoseksualiteit as ’n afwykende praktyk gesien word. Dan is daarna deur die jare gekarring en getorring aan hierdie beleid. Waarom nou die evolusie? Ek sien dit as ’n gebrek aan standpunt en dat ons hier sit met ’n klomp ruggraatlose mense.

As julle net wil besef hoeveel skade julle die breë NG Kerk aandoen. Julle praat namens julleself en neem besluite wat nie op die Woord gebaseer is nie!

Ek gaan julle nie groet nie. Net sê: Wees gewaarsku, julle gaan die NG Kerk op sy knieë kry. Julle besluite wat geneem word om polities korrek te wees gaan ’n skeuring en verdeeldheid in die kerk veroorsaak.

Dit veroorsaak reeds groot verwarring in tye waarin ons nodig het om veilig te voel in ons kerk. Het julle vergeet ons is in die midde van ’n Covid-19-pandemie? Het julle regtig soveel tyd om verdeeldheid, verwarring en tweespalt verder te saai? Is julle werk nie die opbou van God se Koninkryk nie?

Ek wens my kerk hier op Montagu kon wegbreek en op sy eie funksioneer. Ek kry predikante jammer wat alles in hulle vermoë doen om die gemeentes onder baie moeilike omstandighede te probeer bedien.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui