Wie is Pieter Pelser?

Pieter Pelser is sedert 1960 reeds besig om ’n studie van die Bybel te maak. Hy onderskryf die standpunt dat die Bybel beide wetenskaplik en geskiedkundig volkome betroubaar is, en dat die skepping ongeveer 4 500 vC sy ontstaan gehad het.

Hy het die volgende boeke geskryf:

  1. Evolusie en die Bybel: Kan hulle versoen word?, 2001 (320 bladsye)
  2. NG Kerk: Reformeer of…Disintegreer?, 2005 (306 bladsye)
  3. Die evolusie illusie, 2007, (160 bladsye)
  4. The Hoax of Darwinism and the African Eve, 2008 (155 bladsye)
  5. Is Die Rakleeftyd van die Bybel Verby?, 2019 (344 bladsye)

Hy is ook ’n lid van die Intelligente Ontwerp beweging in Amerika.

Hier is ’n meer volledige beskrywing van sy lewe deur homself geskryf in 2020:

Ek is in 1933 in Constantia, Wes Kaap gebore en het argitektuur aan die Kaapse Universiteit studeer – ’n 5 jaar kursus. Ek was vir tien jaar ook dosent in die fakulteit met ’n kleinerige praktyk daarby. My belangstelling in die wetenskap en hoe die evolusie paradigma daarop impakteer is gebore uit die talle en onophoudelike vrae van sy mede-klasmaats terwyl ons daagliks in ’n groot ateljee saam gewerk het aan ontwerp projekte.

Ek het ’n groot deurbraak beleef toe ek die boek The Harmony of Science and Scripture deur Dr Harry Rimmer raakgeloop het. Rimmer het doktorsgrade in beide die teologie en die wetenskappe gehad. Daarna was daar geen keer aan my belangstelling in daardie onderwerp nie.

Ek het in die Tegniese Boekwinkel in die stad twee van Velikovski se boeke raakgeloop – Worlds in Collision en Ages in Chaos. Elke Christen moet hierdie boeke lees. Intussen het my biblioteek oor die wetenskap sodanig uitgekring dat ek waarskynlik tans omtrent 50-60 sulke boeke besit.

Ek behoort aan die wêreldwye groep wetenskaplike genoem Intelligent Design en ek besit die mees uitstaande van die boeke deur die lede daarvan geskryf. Ek het al in die verlede by ’n paar geleenthede op die RSG se Praat Saam opgetree teen Jurie van den Heever, plus omtrent vier of vyf Sondagaandprogramme van die destydse Flip Loots. Ek was ook die eerste Suid Afrikaanse spreker wat by die drie jaarlikse predikante-konferensies opgetree het: Twee in die Transvaal en een op Stellenbosch.

In my praktyk het ek 100 kerke hoofsaaklik in Kaapland ontwerp, plus vyf in Malawi. Ek het ook die grootste Staatsgebou in Kaapstad ontwerp. Sover het ek 57 wêreldlande besoek waarvan ek bykans die hele Wes Europa omtrent agtkeer besoek het. Ek het op ’n stadium baie in NG kerke gepreek, maar ook in die Church of England in South Africa in Nuweland, Mowbray en Pinelands.

Ek het op die volgende rade gedien vir tot soveel as 45 jaar by die YMCA, 15 jaar aan die SA Bybelinstituur in Kalkbaai, die CSV hoofbestuur, Die Kaaplandse Skoolraad, die Raad van die Constantia Verbeteringskool (15 jaar), en as voorsitter van die Graduates Christian Fellowship en selfs as voorsitter van die NP in Constantia toe ek merk dat PW en kie van apartheid afstand begin doen het. Ek het selfs in 1987 vir die parlement gestaan.

Ek het drie kinders – een seun en twee dogters. Ek het eers op 42 jaar getrou, maar my vrou het my verlaat toe ek te dikwels met die Stellenbosse Kweekskool swaarde gekruis het. Ek was vir 20 jaar getroud.

Verder het ek my eerste kunsuitstalling in 1965 gehou terwyl ek agv my groot belangstelling in fotografie die Nasionale Voorsitter was van die enigste Nasionale Uitstalling van Argitektuur.

Ek het ook ’n bergstapgroep gehad wat die Sederberge en talle ander in die Weskaap, Wildekus en Drakensberge maandeliks- of jaarliks opgesoek het.

Voorheen het ek in kore gesing, onder andere 16 jaar in die Stellenbosse Mannekoor. Tans sing ek ook in ’n koor.

Laastens: ek was vir 14 uit die 15 jaar leier van die CSV Stranddienste op Struisbaai in die Suidkaap. Dit was ’n wonderlike voorreg!

Ek is die Here dankbaar vir ’n gesonde gestel en ’n ondersoekende gees. Ek het op 15 jarige ouderdom ’n kind van die Here geword.

Aan die Here al die eer!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui