Vrystaatse NG predikante kap terug oor aanvalle, ‘vals kerk’

Kyk die volgende artikels wat op hierdie artikel reageer:

*******

Vrystaatse NG predikante kap terug oor aanvalle, ‘vals kerk’ | Netwerk24

Charles Smith

Volksblad, 15 Januarie 2024

’n Groep van 45 Vrystaatse NG predikante het in ’n ongewone stap ’n verklaring uitgereik in reaksie op die skerp aanvalle op die kerk, waarin hulle die aanklag verwerp dat hulle “nie meer getrou is aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie”.

In die verklaring getiteld “ ’n Getuienis van Vrystaatse predikante” sê die groep die huidige situasie in die kerk is vir hulle ’n saak van groot hartseer. Hulle is baie lief vir die Here en sy kerk, en daarom is die aanvalle deur ’n “klein groepie” op hulle en die kerk pynlik.

“Dit is daarom met groot hartseer dat ons die afgelope paar jaar gereeld in verklarings, briewe en ander dokumente verdagmakery en beskuldigings teen ons en die kerk waarvan ons lidmate is, moes aanhoor.

“Daarom getuig ons hiermee in die openbaar waar ons staan.”

Die Vrystaatse predikante sê die etikette wat aan mense gegee word, help nie om meer helderheid oor moeilike vrae te kry nie.

“Die valse voorstellings van en halwe waarhede oor die besluite van die kerk wat aan lidmate en kerkrade voorgehou word, bemoeilik ’n eerlike gesprek. Hiermee domineer ’n klein groepie die gesprek. Die tevrede en stille meerderheid laat nie van hulle hoor nie.

“Daarom vra ons diegene wat van die kerk verskil om dit in liefde te doen, om ons geloofwaardigheid te aanvaar, nes ons die geloofwaardigheid aanvaar van dié wat van ons verskil. Ons is almal ewe lief vir die Here en vir sy kerk. Kom ons laat ruimte vir verskille oor randsake,” pleit hulle.

Die predikante verwerp ook die valse voorstellings dat “ ’n meerderheid predikante met hul gemeentes. . . nie-Gereformeerde, inklusiewe, wêreldsgesinde navolgers of goedkeurders van die leuens volgens die tydsgees geword het” en dat “Jesus Christus van Nasaret nie die Hoof van die Kerk is nie” of dat “menseregte of wêreldagendas die Kerk wil regeer”. Hulle verwerp die aanklag dat hulle ’n “vals kerk” sou wees en “ten onregte die naam ‘kerk’ ” sou toeëien.

Hulle bely dat die NG Kerk steeds deel van die liggaam van Christus op aarde is. Daarom verwerp hulle aanklagte dat die kerk “die plot verloor” het en “baie lankal nie meer ’n Christelike kerk/organisasie” is nie.

Hulle verwerp die bewerings dat hulle “wêreldgelykvormig geword het”, in “totale afvalligheid” beland het en dat hulle “huigelaars” is.

Hulle sê hulle is altyd op soek na Skrif-gefundeerde antwoorde en besluite aangaande die huidige uitdagings, en verwerp daarom alle aantygings dat hulle sou toelaat dat die “kultuur of tydsgees die Skrif namens ons interpreteer” en dat hul “fokus primêr op mense se humanistiese agendas en drome van sosiale geregtigheid” is, as oneerlik.

Hulle verwerp ook die aantyging dat die leierskap van die NG Kerk “nie die eer van God ten doel het nie, maar die kerk weglei van haar oorspronklike doel as instrument tot God se heiligheid en draer van die waarheid”. Ook ontken hulle dat die kerk “argaïese strukture” het wat “in kerklike wanorde verval het”.

Hulle bely dat daar binne die NG Kerk meningsverskille oor bepaalde sake is en dat lidmate mekaar hierin moeilik vind.

Die groep verwerp daarby die valse voorstellings dat besware “oor jare heen geïgnoreer” is of dat die kerk “onwillig” was om daaroor te praat, dat daar nie daarvoor “ ’n Bybelse oplossing gesoek” is nie.

“Dit is ook onwaar dat besware ‘blatant geïgnoreer’ is. Ons verwerp ook die bewering dat die kerk ‘voortgaan om uit selftevredenheid in dwaling en sonde te volhard’ asof ons nie saam met ander gelowiges worstel oor God se wil nie.”

? Getuienis van Vrystaatse predikante (en andere)

Ons, die ondergetekendes, is almal gelegitimeerde predikante in die NG Kerk Vrystaat. Ons is baie lief vir ons Here en sy kerk. Dit is daarom met groot hartseer dat ons die afgelope paar jaar gereeld in verklarings, briewe en ander dokumente, verdagmakery en beskuldigings teen ons en die kerk waarvan ons lidmate is, moes aanhoor.

Daarom getuig ons hiermee in die openbaar waar ons staan.

(1) Ons bely die Woord van God as God se openbaring aan ons. Alles wat die mens vir sy/haar saligheid moet glo, word voldoende daarin geleer. In die Bybel vind ons God se wil vir ons lewe; ons strewe daarna om in elke aspek van ons bestaan hiervolgens te lewe. Om hierdie rede doen ons alles in ons vermoë om die teks so akkuraat as moontlik in die lig van die historiese en die literêre aard van die betrokke gedeelte te interpreteer.

Daarom verwerp ons die bewering dat daar net sekeres is wat “Skrifgetrou” is en “wat nie die waarheid van die Skrif ondermyn nie”;

dat ons “die gesag van die Woord van God ondermyn” en ons standpunte “nie eers meer toets aan die Woord” nie. Ons verwerp alle beweringe van ? “geringskatting van Skrifgesag” en “eksegetiese inlegkunde” wat so maklik gemaak word. Dit is misleidend om te sê: “Ek glo onvoorwaardelik in die Woord van God” – so asof ander wat van ? bepaalde interpretasie verskil, dit nie ook doen nie.

(2) Ons bely dat die leer van die Bybel soos dit in die artikels van die Christelike geloof (die Drie Formuliere van Eenheid en die Ekumeniese Geloofsbelydenisse) vervat is, die ware en volkome leer van die saligheid is, omdat dit ooreenstem met die Woord van God. Ons glo dit, leef dit en verkondig dit.

Daarom verwerp ons die aanklag dat ons “nie meer getrou is aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie.”

(3) Ons bely dat die Here Jesus Christus die enigste Verlosser en Saligmaker is. Ons het Hom aangeneem en ons het Hom lief; Hy is die Hoof van sy Kerk en ons volg Hom gehoorsaam. Ons is bewus van ons menslike
swakhede en beperkings, maar deur die krag van die Heilige Gees stry ons daagliks daarteen. Dit is ons strewe om in ons eie tyd en omgewing sigbaar gestalte aan sy Koninkryk in ons lewens en in die groter samelewing te gee.

Daarom verwerp ons die valse voorstellings dat “ ?

meerderheid predikante met hul gemeentes . . . nie-Gereformeerde, inklusiewe, wêreldsgesinde navolgers of goedkeurders van die leuens volgens die tydsgees geword het” en dat “Jesus Christus van Nasaret nie die Hoof van die Kerk is nie” of dat “menseregte of wêreldagendas die Kerk wil regeer.” Ons verwerp die aanklag dat ons ? “vals kerk” sou wees en “ten onregte die naam ‘kerk’” sou toe-eien.

(4) Ons bely dat die NG Kerk steeds deel van die liggaam van Christus op aarde is. Ons besef dat ons as lidmate sondig is en daarom stry ons daarteen. Ons streef daarna om onder die leiding van die Heilige Gees die bes moontlike kerk te wees.

Daarom verwerp ons aanklagte soos dat die kerk “die plot verloor” het en “baie lankal nie meer ? Christelike kerk / organisasie” is nie. Ons verwerp die bewering dat ons “wêreldgelykvormig geword het”, in “totale afvalligheid” beland het en dat ons “huigelaars” is.

(5) Ons bely dat elke nuwe tydperk nuwe vrae aan die kerk stel. Daarom soek ons in gehoorsaamheid aan die Woord na antwoorde op hierdie nuwe vrae. Soos die gelowiges in die eerste eeu moes worstel met die
vraag oor die besnydenis, soos ons voorouers sowat twee eeue gelede geworstel het met die vraag oor slawerny en soos ons onlangse voorgangers geworstel het met die vrae oor apartheid en oor die vrou in die amp, so soek ons na Skrifgefundeerde antwoorde en besluite aangaande die huidige uitdagings op ons
tafel.

Daarom verwerp ons alle aantygings dat ons “toelaat dat kultuur of tydsgees die Skrif namens ons interpreteer” en dat ons “fokus primêr op mense se humanistiese agendas en drome van sosiale geregtigheid” is, as oneerlik. Moeilike vrae het nie altyd maklike antwoorde nie. Daar is geen sprake van sonde wat ons “gerieflik goedkeur” nie.

(6) Ons bely dat God sy kerk deur gelowige en betroubare mense lei wat deur God hiervoor geroep word. Hierdie mense word deur wettige kerkvergaderings verkies en aangestel om sorg te dra dat die ware
godsdiens onderhou word; die ware leer oral versprei word; die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou word; en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. So verloop sake in die kerk behoorlik en ordelik. Die kerk het ook meerdere vergaderings waar hierdie
selfde mense die kerk dien met hulle leierskap.

Daarom verwerp ons die beskuldiging dat “die leierskap van die Nederduits [sic] Gereformeerde Kerk waaronder die  AS, ASM, AK, ATR, ATLAS en meeste streeksinodes se leierskap meer gesag aan hulleself toeken as wat die sinodaal-presbiteriale kerkregeringstelsel toelaat en sodoende ? magsorgaan geword het wat nie die Nederduitse Gereformeerde kerk se gemeentes dien nie.”

Ons verwerp ook die aantyging dat die leierskap “nie die eer van God ten doel het nie, maar die kerk weglei van haar oorspronklike doel as instrument tot God se heiligheid en draer van die waarheid.” Ook ontken ons dat die kerk “argaïese strukture” het wat “in kerklike wanorde verval het.”

(7) Ons bely dat daar binne die NG Kerk meningsverskille oor bepaalde sake is en dat ons mekaar hierin moeilik vind. Uiteraard is besluite nie volmaak nie en sou sekere besluite dalk beter geformuleer kon word. Dalk oortuig die Heilige Gees ons later anders hieroor. Daar is ook sekere sake waaroor ons dit eens is dat dit aandag moet geniet en dit word ook sodanig hanteer. Ons het deeglik kennis geneem van ander se
standpunte en ons het by verskeie geleenthede gesprek gevoer met gemeentes en lidmate wat van ons verskil. Hierdie gesprekke het ons nie oortuig dat die huidige standpunte van die kerk verkeerd is nie.

Daarom verwerp ons die valse voorstellings dat besware “oor jare heen geïgnoreer” is of dat die kerk “onwillig” was om daaroor te praat, dat daar nie daarvoor “ ? Bybelse oplossing gesoek” is nie. Dit is ook
onwaar dat besware “blatant geïgnoreer” is. Ons verwerp ook die bewering dat die kerk “voortgaan om uit selftevredenheid in dwaling en sonde te volhard” asof ons nie saam met ander gelowiges worstel oor God se wil nie.

(8) Ons bely dat die huidige situasie in die kerk vir ons ? saak van groot hartseer is. Die etikette wat aan mense gegee word, help ons nie om meer helderheid oor moeilike vrae te kry nie. Die valse voorstellings van en halwe waarhede oor die besluite van die kerk wat aan lidmate en kerkrade voorgehou word, bemoeilik ? eerlike gesprek. Hiermee domineer ? klein groepie die gesprek. Die tevrede en stille meerderheid laat
nie van hulle hoor nie.

Daarom vra ons diegene wat van die kerk verskil om dit in liefde te doen, om ons geloofwaardigheid te aanvaar, nes ons die geloofwaardigheid aanvaar van dié wat van ons verskil. Ons is almal ewe lief
vir die Here en vir sy kerk. Kom ons laat ruimte vir verskille oor randsake. Die Bybel laat ruimte vir hulle wat vleis eet en vir hulle wat dit nie doen nie; vir hulle wat ? bepaalde dag op ? besondere wyse hou en vir ander wat dit nie doen nie. Kom ons hou op om mekaar as ? “valse kerk” uit te maak net omdat ons van mekaar verskil. Kom ons bid eerder vir die kerk en vir mekaar: “Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom.

Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”

Onderteken deur die volgende leraars:

  1. Andre Barlow
  2. Domonic Basson
  3. Lunette Basson
  4. Gerhard Botha
  5. Dries Cronje
  6. Jan de Man
  7. Nico Dicks
  8. Hannes du Plessis
  9. Leon M Foot (samesteller)
  10. Cobus Hamman
  11. Rikus Hattingh
  12. Stoffel Helmuth
  13. Gretha Heymans
  14. Charles James
  15. Ian Jonker
  16. Danie Kleinhans
  17. Friedrich Kotze
  18. Johan Kruger
  19. Gideon Lamprecht
  20. De la Harpe le Roux
  21. Gerhard Meyer
  22. Charles Mitchell
  23. Nico Mostert
  24. Laurie Naude
  25. Christo Nel
  26. Hannetjie Nel
  27. Lood Oliver
  28. Roelf  Pienaar
  29. Jors Reynders
  30. Kobus Schoeman
  31. Deon Serfontein
  32. Fanie Spamer
  33. Riaan Stander
  34. Juppi Steurer
  35. Attie Steyn
  36. Barnard Steyn
  37. Waldemar Stumpfe
  38. Fanie Snyman
  39. Horace van Coller
  40. Suzanne van der Merwe
  41. Gideon van der Watt
  42. Pieter van Jaarsveld
  43. Andre van Staden
  44. Danie van Tonder
  45. Rikus van Zyl
  46. Christo Weideman

Kommentaar

xxx

4 thoughts on “Vrystaatse NG predikante kap terug oor aanvalle, ‘vals kerk’”

  1. “Ons bely die Woord van God as God se openbaring aan ons. Alles wat die mens vir sy/haar saligheid moet glo, word voldoende daarin geleer. In die Bybel vind ons God se wil vir ons lewe; ons strewe daarna om in elke aspek van ons bestaan hiervolgens te lewe.”
    Dit veronderstel dat ‘die Bybel’ die ‘Woord van God’ is.
    Nou dit is nie wat in die Bybel self staan nie. Volgens die skrif self is dit ‘betroubare getuienis’. En dit se ook dat Jesus ‘die Woord van God’ is.
    Mens moet dit maar in gedagte hou en ook sy woorde reg kies daar.

  2. Kyk wat sê hulle in paragraaf 1 laaste reël, hulle sê dat dit misleidend is om te sê, Ek glo onvoorwaardelik in die woord van God want wat nou van mense wat die Bybel anders interpreteer, en dan sê hulle ook na aanhoudende klagtes van gemeentes en lidmate oor die huidige standpunte van die kerk dat hulle die huidige onbybelse standpunte van die kerk handhaaf want hulle kan nie anders oortuig word nie soos in paragraaf 7 van hulle verklaring, Hulle het nou presies vertel wat verkeerd is in die kerk en hulle vergestalt die kloof in die kerk!

  3. Die volgende 2 opmerkings “Kom ons laat ruimte vir verskille oor randsake,” en “Daar is geen sprake van sonde wat ons gerieflik goedkeur nie”, is volgens my juis waar die kruks van die saak lê.
    ‘n Eenvoudige definisie van “randsake” is sekerlik sake wat nie ‘n beduidende direkte of indirekte invloed op die samelewing, gemeenskap en familie het nie. Sodom en Gomorra is nie verwoes omdat vrouens hoede of nie hoede, kerk toe gedra het nie. Alle sake moet aan die Woord van God, wat die absolute Waarheid is, gemeet word. Die Heilige Gees sal nie een groep oortuig van een “waarheid” en ‘n ander groep oortuig van ‘n ander “waarheid” nie. Iemand is verkeerd en moet tot inkeer kom.

  4. WAT IS WAARHEID?

    Waarheid getuig gewoonlik van ‘self’, en die waarheid ten diepste vir ‘n Christen, is die Een wat van Homself getuig, en oor Wie God die Vader getuig, en aangaande Wie die Gees van Waarheid bevestig as komende van God Self.

    Johannes 18 : 37 ‘…”Dan is jy tog wel ‘n koning?” vra Pilatus. “Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”…’

    In die gebed van Christus in Johannes 17, bid Hy onder andere (v17) “Heilig hulle in U waarheid: U woord is die waarheid”. Dit is interressant om ook na vers 23 te let , “…die 🌎🌍🌏 kan weet dat U My ❤ het, en hulle ❤ het soos U My ❤ het.”. En dan ook die verstommende woorde in vers 9, “…ek bid nie vir die 🌏🌍🌎 nie maar vir die wat U aan My gegee het, omdat hulle aan U behoort”.

    Dit is duidelik dat God se ❤ wel onderskeid maak tussen dié wat Christus se woorde wáárlik glo en in hul hart bewaar, en dié nie.

    In Johannes 15:17 staan ✍🏻, “..dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet ❤”. Hoe? Vers 12 sê:”.. soos Ek julle ❤”. En hoe het Hy ❤? Vers 13 gee die antwoord:.”…sy lewe vir sy vriende aflê.. ” Wie is “vriende”? Vers 14 gee die antwoord : “…julle is my vriende AS julle alles doen wat Ek beveel”.

    Die vraag is dus: as mens sê mens het die kerk en die Here waarlik lief, dan is Sy woorde tog belangrik? Baie mense sê byvoorbeeld, ons is opregte medici, of opregte staatsaanklaers, of opregte motorwerktuigkundiges, of opregte advokate, of opregte rekenmeesters, leraars, ens….en dan haal hul aan uit hul eie bepaalde nering se belydenisskrif. Maar wat beteken dit ten diepste, as jy dit nie alles glo, of erger nog, dit sg. “Glo”, maar verander die bedoelde konteks om jou eie kognitiewe filters te regverdig, wat baie van verskeie 🏳️‍🌈kleure/aspekte/nuanses/motiewe/vraagstukke/ens spreek vanuit kultuur en moderne denke, maar nie van LIG nie?

    Mens sou kon opmerk, dat selfs die satan ‘n vorm van ‘waarheid’ gepraat het in Lukas 4 tydens Christus se versoeking. Let op sy woorde: die ‘self’ uit sy eie mond, getuig wie hy is: leuenaar van formaat, en Christus gee die voorbeeld aan ons, ter wille van ons.

    As mens waarlik Christus volg, is SY voorbeeld tog navolgingswaardig, en ook iemand soos Paulus s’n [ter voorbeeld]. Ongelukkig meen meesste leraars/pastore/apostels/profete/evangeliste, hul woorde en/of aksies is navolgingswaardig, maar hul het nog nooit eens ‘n ‘pad-na-Damaskus’ belewenis gehad, om Lig te werp op hul eie verdorwe harte nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui