Verwarring heers oor God as ’n ‘prisma’

Vir die agtergrond van hierdie twee briewe, kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.

*******

Verwarring heers oor God as ’n ‘prisma’ | Netwerk24

Deur Kobus Kruger van Port Elizabeth en Hannes Swart, per e-pos

25 April 2021 00:38

Kobus Kruger van Port Elizabeth skryf:

Ek verwys na die berig oor ds. Melanie Thirion wat na God verwys het as “Haar” en dr. Jana van den Munckhof se verwysing na God as ’n “heilige prisma”.

Die verklarings van dr. Frederick Marais namens die kuratorium en die van die sinode van Wes-Kaapland het my intens verwar, want met ’n basiese kennis van Grieks is daar geen twyfel dat die woord God (Theos), Vader (Paterï) Christus (Christos) en Heilige Gees (Phneumatos of Parakletos) tog in manlike vorm geskryf is nie.

God word wel in die Bybel met metafore beskryf soos die rots, die lig, die waarheid en die lewe, maar nêrens in die Bybel lees ek ’n metafoor van God as “heilige prisma” nie. Al word God met ’n metafoor beskryf, spreek jy God tog nie aan as rots, lig of lewe nie, want dit is eintlik niksseggend. Wat ek wel kan sê, is dat om God as die heilige prisma aan te spreek en dit in ’n gebed, is vir my Bybelvreemd.

In die lig van hierdie verklarings word dit nou vir my al hoe duideliker dat die wyse hoe sommige teoloë, leraars en lidmate in die NG Kerk die Bybel wil lees en interpreteer swaarder weeg as hoe God die Bybelskrywers geïnspireer het om die waarheid te skryf.

Hannes Swart skryf per e-pos:

Ek gebruik die 1983-vertaling van die Bybel en het nog nooit gelees dat na God in die vroulike vorm verwys word nie. Ek het ook nog nooit in ’n preek gehoor dat daar na God in die vroulike vorm verwys word of dat die metafoor van ’n prisma gebruik word nie.

Wat ek wel in die Bybel raaklees, is dat daar dwaalleraars en wolwe in skaapklere rondloop. Miskien moet daar ernstig oorweeg word om evangelisasiewerk onder die predikante van die NG Kerk te doen. Ek bid vir u.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui