Man skenk miljoene weens gelofte aan God

Onderstaande kom uit die Rapport-artikel

‘Dankie, Here… ’

2013-02-09 23:19

Herman Jansen

Suid-Afrika se unieke weergawe van TV se Secret Millionaire is al meer as 30 jaar lank stil-stil besig om van die land ’n beter plek te maak.

Wat die haas onbekende Francois van Niekerk (73) van Pretoria se filantropie van honderde miljoene rande deur die jare so uitsonderlik maak, is dat dit ontstaan het uit ’n gelofte aan God.

Nie net het hy dié eed uitgevoer nie, hy het boonop later daarop “verbeter”.

Van Niekerk glo vandag steeds vas dis die Here wat in 1980 sy pasgestigte IT-onderneming van bankrotskap gered het, het hy die afgelope week aan Rapport gesê.

Die medemenslikheid van skatrykes is in die kollig nadat Patrice Motsepe, voorsitter van African Rainbow Minerals (ARM), onlangs onderneem het om minstens die helfte van die Motsepe-familie se inkomste uit hul bates te skenk om minderbevoorregtes te help.

Maar heel anders as die luide mediageskal oor dié aankondiging ondersteun Van Niekerk al dekades lank mildelik en onder die radar Christelike projekte deur sy Mergon Foundation.

“Die fokus is op doeltreffende evangelisering, opvoeding, armoedeverligting, selfhelp, ensovoorts. En die klem is op doeltreffendheid, eerder as kerkverband of soortgelyke oorwegings,” sê hy.

Oor die Rubicon-oomblik in sy lewe onthou hy: “’n Kritiek nodige bestelling is onverwags gekanselleer en dít was my laaste hoop op finansiële oorlewing.”

Op pad na ’n kliënt het hy ’n oomblik voor die Landbank in die middestad van Pretoria gaan staan en die Here 30% van sy maatskappy (Infotech, wat later tot die reuse-, gediversifiseerde Mertech-groep gegroei het) belowe as Hy hom sou help.

“By die kliënt gekom, het ’n heel skeppende nuwe alternatief binne minute na vore gekom en die maatskappy kon oorleef.”

Die Mergon Foundation is toe as onafhanklike trust geregistreer. Sy aanvanklike aandeelhouding van 30% in Mertech is later tot 65% verhoog.

Dié aandeelhouding finansier Mergon se trust-aktiwiteite.

“Dat ons familie later die 30% tot 65% kon verhoog het absoluut niks met eie meriete te doen nie.

“Dit was bloot ’n reaksie op die Skepper se onverklaarbare guns.”

Met dié aandeelhouding in die Mertech-groep is die Mergon Foundation se geraamde beleggingswaarde tans R1,68 miljard.

“Die opbrengs op hierdie belegging betaal vir sendingwerk en opheffingsprojekte vir gemeenskappe van R53 miljoen vir die huidige jaar,” sê Van Niekerk.

“Mens moet onderskei tussen filantropie en aalmoese uitdeel.

“Ons het self absoluut geen erg aan laasgenoemde nie.

“Die fokus is uitsluitlik op die uitbreiding van Christus se koninkryk en veral deur hulp te verleen aan dié wat dit verder kan voer en mettertyd weer ander kan help.

“Ek het baie van die Here gekry,” sê die skraal man wie se pa ’n “armerige boer” in die Paarl-distrik was.

Hy en sy vrou, Miems, is vandeesmaand 50 jaar gelede in Riebeek-Wes getroud.

Hulle het ’n dogter, Carla Helene, ’n skoonseun, Antoin, en “drie wonderlike” kleindogters.

Een van die belangrikste insigte wat hy van die Here gekry het, is dat geld min werklike voordeel het, sê Van Niekerk.

“Die betekenis daarvan is die balans tussen eie gebruik en wat jy daarmee vir ander doen.”

Hoewel hy dankbaar is vir sekere voordele, vermy hy uitspattighede, sê Van Niekerk.

“My stokperdjies is beperk tot fietsry saam met die familie en die versamel van sekere modelmotortjies.

“Dan het ek ook ’n 1942 Farmall-trekker waarmee ek ’n korterige draai in die woonbuurt (’n gholflandgoed in die ooste van Pretoria) ry wanneer niemand kyk nie.”

 

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui