Resensie van NG boek het erge leuen

Die volgende is ’n reaksie op NG oorsig dans tussen objektief en subjektief.

Hierin verdedig Jackson vir Julian Müller en voer aan dat hy geen getuienis kon vind dat Julian Müller Jesus se opstanding ontken het nie.

Eerstens, dit is nie die eerste keer dat Neels Jackson homself probeer verdedig deur die ander party ’n leuenaar te noem nie – kyk ‘Ek het vir u te veel respek om te sê u jok’ (3 Okt 2009)

Tweedens, en nou moet ek versigtig wees, want in die tye waarin ons leef, moet jy jou woorde mooi kies. Dit is ‘n uiters vreemde siening! Ferdie Mulder het in 2006 baie moeite gedoen om drie van sy professore, Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human van teologiese dwaalleer aan te kla omdat hulle nie Jesus se liggaamlike opstanding wou bely nie. Hy het ook die steun van baie ander studente gewerf, maar omdat hierdie jonger studente deur die kuratorium (deur Flip du Toit) gedreig is met regstappe, het hulle almal hulle steun onttrek. Indien Müller en kie bloot hulle geloof in die opstanding bely het, sou dit die einde van die storie gewees het, maar hulle het nie. Indien Müller en die twee ander wel aan die liggaamlike opstanding geglo het, dan beteken dit dat Ferdie bloot ‘n persoonlike vendetta teen hulle gehad het en dat hy dit reggekry het om ‘n groot klomp studente te mislei om dit ook te glo. En selfs as hierdie waar was, hoekom was dit vir die kuratorium nodig om die studente met regstappe te dreig? Gaan lees gerus Ferdie se boek, Opgestaan (2011).

Jammer, maar ek koop dit nie.

******

Resensie van NG boek het erge leuen | Netwerk24

20 Junie 2021

Neels Jackson, Pretoria, skryf:

In sy resensie van my boek Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad van verruiming verlede week verklaar Hoffie Hofmeyr onder meer: “In die boek kies hy (dis nou ek) duidelik die relativistiese ontkenning van die historiese en verheerlike opstanding van Christus deur Julian Müller.”

Dit is ’n blatante leuen. Ek kies nêrens vir enige vorm van ontkenning van die opstanding van Christus nie.

Wat ek wel doen is om aan te voer dat ek destyds nêrens getuienis kon vind vir die ontkenning van die opstanding waarvan Müller beskuldig is nie. Dan verduidelik ek hoe ek dink Müller se standpunt oor die opstanding verstaan moet word.

Dit beteken nie dat ek Müller se teologiese standpunte deel nie. Ek deel inderdaad nie al sy sieninge nie.

Maar dis ook belangrik dat daar formele kerklike ondersoeke was na Müller en ander dosente se teologiese standpunte en dat nie een van die klagtes teen hulle gehandhaaf is nie.

Hofmeyr voer voorts aan dat daar drie teologiese uitgangspunte is: die fundamentalistiese, die liberale en die “gebalanseerde derde standpunt”. Deur by te voeg “ . . . want daar is perke, naamlik dat die kerk nooit vir Jesus Christus mag verloën en verloor nie”, impliseer Hofmeyr dat daar ’n groep in die kerk is wat wel vir Jesus Christus verloën en verloor.

Wat die NG Kerk in die breë betref, sien ek nie getuienis daarvan nie. Inteendeel.

Ek begin my boek deur te sê dat as ’n mens na die diepste wortels van die NG Kerk wil soek, moet jy teruggaan na Jesus van Nasaret toe. En aan die einde skryf ek: “Uiteindelik is dít die toets vir enige kerk: In watter mate is die kerk se mense Christusvolgelinge deur wie die wêreld iets van God se liefde kan beleef.” Vir my lyk dit of daar nou meer daarvan in die NG Kerk te sien is as 30 jaar gelede.

Ek vind dit jammer dat Hofmeyr ’n resensie van my boek gebruik om voort te gaan met die teologiese verdagmakery waarmee hy binne die amptelike strukture van die kerk geen hond kon haaraf maak nie.

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:

In sy resensie “NG oorsig dans tussen objektief en subjektief” skryf prof. Hoffie Hofmeyr verlede week dat daar meer as twee benaderings in die NG Kerk is en dat die fundamentaliste en liberaliste nie die enigste twee is nie.

Volgens hom gooi albei die baba met die badwater uit.

Die derde groep is dan nou die “gebalanseerdes” wat “die kernverwagting van die Skrif en die implikasies daarvan baie ernstig opneem”.

Nou wonder ek waar pas die byna 80 dolerende gemeentes van die Kairos Netwerk in wat nou as die Reformerende NGK bekend staan. Is hulle die gebalanseerdes?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui