‘Ek het vir u te veel respek om te sê u jok’

Hierdie is een van ’n paar artikels wat deel van ’n debat is oor Adrio König se boek Die evangelie is op die spel.

Kyk Die doel is debatvoering vir die vorige artikel en Teoloë kap König oor sy nuwe boek vir die eerste artikel.

**********

‘Ek het vir u te veel respek om te sê u jok’

2009-10-03 02:21

Elise Tempelhoff

(Oorspronklike artikel kan hier gelees word.)

‘n Kerksakejoernalis het ’n teoloog gister “byna” ’n leuenaar genoem tydens ’n gesprek oor die huidige debat oor die letterlike of figuurlike verstaan van die evangelie in die NG Kerk.

Neels Jackson, kerksakeverslaggewer van Beeld, en prof. Adrio König, teoloog van Unisa en skrywer van Die evangelie is op die spel, het erg koppe gestamp tydens ’n openbare gesprek gister by die Boek-Oase op Aardklop.

Die koppestamp tydens die gesprek: “Is die evangelie self op die spel?”, het hoofsaaklik gewentel oor die interpretasie van Jesus se opstanding.

König het die ortodokse manier van glo oor Jesus se opstanding verdedig en die sogenaamde liberale teoloë daarvan beskuldig dat hulle die evangelie in die gedrang bring omdat hulle nie in Jesus se liggaamlike opstanding glo nie.

Jackson het König met vrae gepeper. König was soms in ’n hoek en het nogtans kalm probeer bly, maar homself dikwels weerspreek.

Hy was sigbaar geskok toe Jackson aan hom sê: “Ek het te veel respek vir u om u as ’n leuenaar te bestempel.”

Dit was na aanleiding van onder meer König se ontkenning dat hy die “liberale teoloë” in sy boek in ’n slegte lig probeer stel.

König het voet by stuk gehou dat daar rede tot kommer is oor dié “liberale teoloë” se standpunte en dat hulle mense “seermaak en verwar”.

Jackson het volgehou König vertolk spesifiek twee werke van prof. Danie Veldsman (wat in ’n vaktydskrif verskyn het met die opskrif: “Die opstanding van Jesus: God se nadergekome en steeds naderkomende protes en liefde”), asook prof. Ben du Toit se worsteling met sy geloof in sy boek, God? Geloof in ’n Postmoderne tyd, verkeerd en dat albei “juis die geloof probeer behou”.

König het in ’n stadium gesê hy wonder hoeveel geloof Du Toit “nog oor het”, maar kort daarna hy betwyfel nie Du Toit se geloof nie.

Jackson het König beskuldig dat hy in Die evangelie is op die spel daarop uit is om Veldsman, Du Toit en prof. Julian Müller van Tuks in ’n slegte lig te stel.

Volgens König skryf Du Toit in sy boek dat hy nie meer glo aan die maagdelike geboorte, die wonderwerke, bose magte, die twee nature van Christus en die drie-eenheidsleer nie.

Jackson het ontken dat Du Toit dit só bedoel het en het herhaaldelik aan König gesê hy vertolk die boek verkeerd en dat hy nie die konteks verstaan nie of dit nie wil verstaan nie.

König het ná die gesprek na Jackson oorgeleun en aan hom gesê hy was “geruk” deur die indirekte wyse waarop Jackson hom ’n leuenaar genoem het.

Feesgangers wat die gesprek bygewoon het, het König se terme “die hoog lees en die laag lees van die Bybel” gekritiseer en gevra of die huidige debat in die kerk werklik nodig is, veral in die lig van die Goddelike opdrag: “Julle moet mekaar liefhê.”

– Beeld

**********

Lees die volgende artikel by Kan Neels my my leuens noem en ek antwoord.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui