Ope brief aan NG Kerk (Coligny Nel)

Kyk ook:

Emeritus Coligny Nel het die volgende ope brief aan die NG Kerk geskryf waarin hy sy bedanking uit die NG Kerk bekend maak na aanleiding van die 2019 homoseksuele besluit.

**************

Coligny Nel
Broeksmasingel 21
Strand
Kaapstad
7140
0833008787
miciyah@gmail.com

21 Oktober 2019

Ope brief aan die NG Kerk

DIE NG KERK IS BESIG OM DIE WOORD VAN GOD TE VERDRAAI EN SONDE GOED TE PRAAT – en hier staan ek en my gesin…. Die NG Kerk as instansie het baie duidelik te liberaal vir ons as gesin geword. Ons glo dat die Bybel deur God se Heilige Gees geïnspireer is en dus die onfeilbare Woord van God is. Ons glo alles wat daarin staan. Onvoorwaardelik. En. Ons staan enige lering teen wat daarteen gerig is.

Jesus sê in Mat 24:11 dat daar in die laaste dae baie vals leringe na gelowiges sal kom en baie sal mislei word. Oor die jare is die NG Kerk met liberale denke binnegesypel en het toegegee aan die wêreldwye tendens om aan die drukgroepe van die beweging en agenda van ’n enkele en globale wêrelderegering toe te gee. Hieronder is Planned Parenthood en UNESCO van die voorloper drukgroepe. Dis groepe wat ons familie eenhede wil vernietig, seksuele perversiteit aanmoedig, geslagsverwarring voorstaan en babamoord voortdryf. Ons sit ook met die haatspraak aanslag wat uiteindelik ten doel het om te keer dat iemand kan sê dat Jesus die enigste weg na die Vader toe is. Hierdie druk word op regerings en kerke wêreldwyd toegepas.

Dit lyk of die NG Kerk weinig begrip vir die feit dat ons in die eindtye teen ’n geweldige aanslag teen en in die kerk(e) te make het. Ja, ons stryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die slinkse bose geeste in die lug wat al jare lank die kerk probeer verlei. Die groot NG Kerk was die eerste groot teiken.
Sommige teoloë is baie liberaal.
Sommiges glo nie eens meer dat daar bose geeste aan die werk is nie. Al sê die Woord van God dit is so.
Die NG kerk is gekaap. Ek is bevrees, dis redelik onherroeplik want dit is so slinks gedoen, deur dit in ’n hoër hof (op onkerklike wyse) en nou kerkwetlik vas te lê. Die paddatjie is stadig maar seker gekook, en hy was grootliks onbewus van sy penarie. My slotsom is dat Jesus Christus nie meer die Hoof van die NG Kerk is nie, maar eerder die antieke Sumeriese gode soos Inanna (godin van geslagsvloeibaarheid, vleeslikheid, geweld en oorlog), ja, en by implikasie selfs van Baal wat die lewende God by name in sy heilige Woord noem. Dis die god van hierdie wêreld wat nou deur die kerk in hierdie eindtye aan bewind gestel word. Dit is hy wat agter al die misleiding sit. En die NG Kerk staan skuldig omdat hulle aan die misleiding toegee en toegegee het… En wie weet waaraan hulle nog gaan toegee…

Wat sê God oor Sy Woord? Joh 1:1 “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” OAV. Psalm 138:2b “for you have exalted your Word above all your name.” KJV
Voeg hierby 1 Pet 1:23. Jesus is die Woord van God en dit wat ons op Skrif het, is volledig deur God gegee en dis genoegsaam. Daarom sal die Gees van Christus ook nooit teen dit praat as Hy ons dag vir dag lei nie.
Die Woord van God is lewend en aktief, waar en lewegewend. Dis soos ’n tweesnydende swaard. Dis nie vir ons om dit na ons goeddunke te verander of te verdraai nie. Dit is duidelik vir God baie baie belangrik (Psalm 138:2b ).

Die Woord van God staan sentraal in die uitleef van ons geloof. Primêr gaan dit oor die gesag en interpretasie van die Woord van God en die erkenning dat die Bybel deur God geïnspireer is. Die Woord van God, soos wat dit deur die eeue staan (Deut 4:2, Mat 5:18-20), is die enigste riglyn vir die onderskeiding van die waarheid. Die Woord is ’n tweesnydende swaard wat skeiding bring tussen lig en duisternis, reg en verkeerd, heiligheid en sonde en beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart (Heb 4:12).

Toe ek as kind in ’n pastorie grootgeword het, was die NG Kerk die bastion in hierdie land om God se Woord te vestig en te beskerm. Die land het ’n pragtige erfdeel daarin. Die NG Kerk het egter mettertyd weggedraai daarvan om Christosentries te wees, na ’n wêreldgodsdiens wat al meer mensgesentreerd geraak het.
Die NG Kerk het aan die dwaal gegaan met mooi geleerde woorde in pragtig geformuleerde besluite deur slim geleerdes, manne van aansien in Sinodes. Sonde word nou “in liefde” goedgepraat en mense word nie meer gewaarsku teen die gevolge van sekere sondes nie. Gaan kyk maar na die name en missies van al die organisasies wat die spiespunt van wêreldse drukgroepe teen Christene is, die woorde gebruik is altyd die teenoorgestelde van die onderliggende doel. In hierdie geval die woorde ‘liefde’, ‘eenheid’, ‘huwelik’. Die Sinode verongeluk die Skriftuurlike betekenis en bedoeling van hierdie woorde.

Wanneer mense sondig, is die Woord daar om hulle op die regte pad te bring. Soos met ’n rooi robot. Maar as die kerk as instansie uit “liefde” en om almal tevrede te laat voel en om ‘eenheid’ te behou al die robots begin groen verklaar, is ’n ramp van ’n ongeluk op pad. Is dit liefde? Ek is bevrees nie. Dis onnosel. Dis rampspoedig. Ons doen almal sonde. Dit weet ons. Maar die sondaar moet deur die kerk omhels word met God se liefde – en nie die sonde self nie. Anders is dit liefdeloosheid. Dis die beginsel. Die Sinode het in essensie die praktyk van sekere sondes gewettig. En dit om eenheid te bewerk? Dit gaan die teenoorgestelde bereik. Eenheid binne die kerk vind hom juis binne die waarheid van die Skrif en akkommodeer nie sondige praktyke nie (2 Kor 6:14).

Die kerk en sy bedienaars van die Woord staan voor ’n groot oordeel van God, die bloed van baie gaan van hulle hande geëis word. “Maar wanneer die wag die vyand sien aankom en nie die ramshoring blaas sodat die mense gewaarsku word nie, en die vyand kom en maak party van die land se mense dood, dan sterf dié mense wel deur hulle eie sonde, maar Ek sal van die wag rekenskap eis vir hulle dood. “(Eseg 33:6).

‘Die huwelik, volgens God se Woord, kan slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word’ (Gen 2:22-24). Dit is deur God self ingestel. Nou het dit tot in die NG Kerk in gedrang gekom. Die besluite in die Algemene Sinode is niks anders as hoerery met afgode nie. As iemand God se Woord ernstig opneem, en blootgestel was of is aan geslagsverwarring en geslagsvloeibaarheid, sou so ’n persoon nie met die besluite van die NG Kerk rondom die saak kon saamgaan nie, maar dit eerder summier en met veragting verwerp.

“Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of homoseksueles* of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” (1 Kor 6:9-11). (*ἀρσενοκοῖται – arsenokoitai) God se
wil: 1 Tes 4:3-8.

Die Woord van God en die Hoofskap van Jesus Christus is my en my gesin se prioriteit.
Ek weet nie wat lidmate te doen staan nie. Ek weet nie wat gemeentes moet doen nie. Maar ek en my huis gaan die Here dien, so hier staan ek, ek kan nie anders nie, ons breek alle bande met die NG Kerk as instansie. Ek en my gesin kanselleer en dus herroep hiermee ons lidmaatskap, aangesien ons alleenlik deel is van die liggaam van Christus. Ons kan nie meer onder die beginsels en besluite van die NG Kerk staan nie. Jesus is die Hoof van die Ware Kerk en ons sal geen afgode dien nie. Ek en my gesin het hardop bely en gebid dat ons losgemaak is van alle verbintenisse hede verlede en toekoms met die NG Kerk en dat ons slegs onder die Hoofskap van Christus staan, en daarom slegs beskikbaar is om lede van Sy liggaam te wees. My bedanking geld dus outomaties ook vir my amp as leraar. So verwyder ons dus van die NG Kerk se databasis. Dis hartseer maar nodig. Ons het geen ander God verende en lewegewende keuse meer oor nie.

Mag die Here julle almal Self lei in hierdie saak.

Groetnis,

Coligny Nel
Adrie Nel
Villiers Nel
Zani Nel
Yachaan Nel

http://our-villiers.site123.me/
http://villiers.webs.com/
https://www.backabuddy.co.za/villiers
https://www.backabuddy.co.za/the-villiers-nel-care-fund
Direkte nommer van Villiers se hulpfonds is Capitek CD Nel 1299 414 522 tak 470010

Die Skrif is aan die muur. Tehilim 138:2

אֶשְׁתַּחֲוֶה אֶל־הֵיכַל קָדְשְׁךָ וְאֹודֶה אֶת־שְׁמֶךָ עַל־חַסְדְּךָ

6 thoughts on “Ope brief aan NG Kerk (Coligny Nel)”

  1. Ds. Coligny Nel
    As gereformeerde Boer (nie landbouer) buite die NG Kerk kry ek weer hoop. Dankie dat u op hierdie wyse standpunt vir God en die waarheid inneem.

  2. Ek dink dit het tyd geword vir ñ Referendum binne die kerk deur alle bestaande lidmate.
    Let wel, bestaande lidmate om sodoende die leeringe van God suiwer mooi en skoon te hou.
    Dit is my Kerk, jou Kerk, ons!!! Kom ons maak die besluit in die woorde van ons Voorvaders: “ Eendrag maak mag!!!”
    Ek pleit by die Sinode dat “Demokrasie” binne die kerk ons weg bepaal in die Heilige naam van onse Here Jesus Chhritus!!!

  3. Dit raak regtig ’n probleem. Ek het self familie wat gay is. Dis siek. Kyk na “Boer soek ’n vrou”. Die gay man het die meeste briewe ontvang. Wys waar gaan ons heen. Kyk na die nuwe onderwys voorstelling in seks onderrig vir skole. Die NG kerk help al die dinge nog aan ook. Ek is self ’n lid van die NG kerk maar ek gaan werklik nie daar bly as hierdie ding deur gevoer word.

  4. Die woorde is sopas uit my mond gesteel. 100💯! En ek gee nie om wat enige iemand daarvan sê nie. Wat die Bybel sê is reg.

  5. As mens kyk na sommige van die dosente aan die teologiese fakulteite waar die NG Kerk se predikante opgelei word, is dit nie verbasend dat die NG Kerk die spoor heeltemal byster geraak het nie. Sola Scriptura geld nie meer vir die NG Kerk nie. Die NG Kerk is nie meer gereformeerd (Skrifgetrou) nie en bewys slegs lippediens daaraan en moet die woord Gereformeerde uit sy naam verwyder. Dit is ’n leuen, dit is misleidend. Die NG Kerk is besig om dieselfde pad as die afgestorwe NP te loop.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui