Van gereformeerde kerk na gekaapte kerk. Wat nou?

Kyk ook:

Van gereformeerde kerk na gekaapte kerk. Wat nou?

2 November 2019

Coligny Nel

Ek het baie navraag vanoor die hele land gekry oor my bedankingsbrief as predikant uit die NG Kerk. Die mense is hartseer en vra wat nou. Hier moet ek duidelik stel, ek is nie so belangrik nie, maar my motivering is. Want dit is Skrif gefundeerd. Ek verloor ook nie so baie soos baie ander kan nie. Net my titel. En dis van min belang. Ek het in elk geval nie ’n salaris om te verloor nie. My werk om my gestremde seun te versorg betaal in elk geval nie. Ek is beslis nie ’n held nie. God sorg al lankal vir ons. Nou, waaroor gaan dit dan? Hier moet ons Christosentries dink. God is hier die belangrikste persoon. Dit gaan oor Sy hart en pyn.

Moenie dink ons land is alleen besig met ’n kerklike dilemma van kerk kaping nie. In die VSA is baie baie Christene besig om weg te breek van die sogenaamde ‘mainline churches’. Oor dieselfde redes. Dis gekaap. Dus geskaak. Tot in skaakmat. Gedryf deur dieselfde instansies. Met dieselfde vyand daaragter. Die ware kinders van die Allerhoogste in die kerke het besef dat die vyand van ouds hierdie kerke gekaap het en drasties begin optree.

Die vraag is hoe doen hulle dit? Die mense beweeg weg van die gesentraliseerde kerke en begin weer in huiskerke saamkom. Soos die eerste gemeentes. Dis so Skriftuurlik as wat kan wees. Dis waar koinonia leef. Dis waar die koinoniale herstel van die gemeente van Christus plaasvind. Ek glo dis die Here se plan. Wêreldwyd. Dit hoe die vervolgde kerk kragtig in China voortlewe en groei. God se hart is baie bedroef deur die NG Kerk as instansie, maar Hy is nie in ’n skaakmat situasie met sy ware kinders in die kerk nie! Kerklike instansies is ook nie so belangrik soos Sy kinders self nie. Daar is so iets as om aan die ware kerk te behoort en dit kan geskied sonder ’n institusionele kerklike instansie!

Wat kan die gemeentes en lidmate doen wat geknel is in die kaping van die NG Kerk? Wel ek en my gesin het heeltemal weggebreek. Dis die een radikale opsie. Maar ek dink die regte manier is om eers die kerkregtelike proses van doleansie te volg. Doleer is ’n proses van treur, weeklaag en rou, weerstand en gesprek met die NG kerk Sinode. ’n Dispuut word met die NG Kerk verklaar. Streeksinodes en/of gemeentes kan dit doen. Sommige gemeentes is klaar besig is met hierdie proses. Nog baie ander oorweeg of beplan dit al sterk. Gemeentes kan saamspan en saamgaan in die proses.

Die probleem is net, soos genoem dat die NG Kerk op ’n slinkse wyse en op ’n wêreldse manier in ’n hoër hof gekaap is. Hierdie hofuitspraak het groter konsekwensies as wat mense besef. Die Sinode se besluite is maar net die finale spyker in die doodskis. So ek kan nie sien dat daar ’n goeie uitkoms vir hierdie proses kan wees nie. Tog is doleansie maar die regte en eerste opsie.

Die volgende opsie is dat hele sinodes of gemeentes wegbreek van die Algemene Sinode. Dit kan trouens met of sonder ’n proses van doleansie plaasvind.
Streek Sinodes kan eerstens self van die Algemene sinodes wegbreek. Ek voeg my by ander om te sê dat dit by verreweg die beste opsie is. ‘Skrifbehoudende gemeentes van ander streeksinodes kan na sulke sinodes oorloop. Vrysinnige gemeentes uit hierdie sinodes kan hulle weer by vrysinnige streeksinodes gaan voeg. Oor en weer migrasie is dus moontlik.’ Dit gee die potensiaal ‘om ’n gesonde reformatoriese beweging aan die gang te sit’.

Gemeentes kan ook outonoom wegbreek van die instansie self as daar nie streeksinodes is wat wegbreek nie. Die NG Kerk sien in elk geval die gemeente as ’n outonome kerk. Sulke gemeentes kan ook saam groepeer.

Die volgende opsie is om die hele gemeente te laat wegbreek van die instansie. Dis eers die volgende stap in die proses as die proses platval. Die NG Kerk sien in elk geval die gemeente as ’n outonome kerk. Die gemeente verklaar dan eerstens dat Jesus Christus as die enigste Hoof van die gemeente en leef in diepe respek en afhanklikheid van sy Woord. Hulle verklaar voor God self dat hulle deel van die wêreldwye ware kerk van Jesus Christus is. Hulle breek dan voor Hom alle bande met die NG Kerk as instansie. Hulle maak in die proses vorentoe seker hulle ken hoor sy stem, luister en volg Hom, en Hom alleen. Die stap moet verkieslik eenstemmig geskied. Hulle bly waak teen misleiding. Die spreekwoord sê: “When you’re deceived – you don’t realize you’re deceived – because you’re deceived” 2 Thess 2:10 sê in essensie dat dit die LIEFDE vir die Waarheid is wat mense in die eindtye van misleiding sal bewaar – nie net die waarheid self nie. Maar die Liefde daarvoor. Dis ’n hartsaak. Sola Scriptura.

As die leiers van die gemeente saamgaan met die kaping, is die volgende opsie om weg te breek en huiskerke te begin. Die lidmate organiseer dan in groepe met leiers wat hulle volgens Skriftuurlike riglyne verkies. Daar is dan outomaties ’n tekort aan predikers, maar met die sosiale media en multimedia as hulp, is daar baie goeie preke landswyd en selfs wêreldwyd beskikbaar. Ek glo vas dat kinders van die Here self gelei sal word deur die Heilige Gees om die regte keuses te doen. Hulle kom dan bymekaar, luister na uitgesoekte boodskappe, sing saam, aanbid en dien die Here.

As daar nie die bogenoemde opsies oor is nie, dan eers is die volgende radikale stap om te doen wat ek en my huisgesin gedoen het. Die Here Jesus sal self ingryp en hulle geestelik versorg. Hy is ’n liefdevolle en getroue God! Ek glo dat pragtige planne deur die Gees van Christus aan sy kinders geopenbaar sal word om hierdie situasie te hanteer.

Wat nou van die kwessie van kerkskeuring? Kerkskeuring kom nie van God af nie. Luther het nie die Roomse kerk verlaat nie, hy is uitgeskop. Hier het die NG Kerk het haarself weer by Rome geskaar, trouens selfs ver links verby beweeg ten opsigte van hierdie sake. Mens kan sê dat die NG Kerk is tans baie meer afvallig as die Roomse Kerk self is. Almal in laasgenoemde Kerk glo immers pertinent in ’n letterlike duiwel, terwyl die Algemene Sinode besluit het dat dit opsioneel is om in ’n letterlike duiwel te glo. Rome glo (nog) amptelik ’n huwelik is slegs tussen ’n man en ’n vrou en duld geen homoseksuele dade of homoseksuele egpare nie, direk in teenstelling met die NG Kerk, om nie eers te praat om hulle te trou of hulle as leraars toe te laat nie. Egskeiding word uiters selde deur die Roomse kerk aanvaar, terwyl die NGK links en regs egskeidings toelaat en geskeides weer trou. Hier geld Matt 15:9, “Dit help niks dat hulle my probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.”

Die Reformasie is opgehef en en ’n kaping is gedoen. Sola Scriptura is deurgeskraap. Ons het hier met ’n kerk te doen wat deur die vyand gekaap is. Dis deur skeurmakers gedoen onder die voorwendsel van ‘eenheid’. Tipies hoe die vyand van God ’n titel omdraai. Jes 5:20 sinspeel hierop. Kinders van God kan nie staan en toekyk en niks doen nie. Vir my kom Op 18:4 dus nou van toepassing: “Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê: “gaan uit haar uit my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.””

Die Woord sê duidelik dat die poorte van die hel nie die kerk sal en kan oorwin nie. Maar as jy na die sewe gemeentes in Openbaring kyk, sien jy dat Jesus self die Een is wat die deure van gemeentes toemaak.

2 thoughts on “Van gereformeerde kerk na gekaapte kerk. Wat nou?”

  1. Die skrif is lankal aan die muur vir ons geliefde NG Kerk. Baie van haar lidmate is dwalend en weet nie hoe om die situasie te hanteer nie. Danksy God se getrouheid en Sy beloftes, tesame met bogenoemde brief se praktiese raad, wag ons nou op Hom om die weg aan te dui. Hy sal Sy kinders nooit in die steek laat nie. Nogmaals baie dankie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui