Nog ondersteuning aan Dirkie van der Spuy

Kyk ook:

Die volgende brief is aan die Sinode geskryf ter ondersteuning van ds Dirkie van der Spuy na aanleiding van kritiek wat hy gekry het omdat hy die 2016 besluit oor homoseksualiteit gesteun het (kyk Menigte protesteer teen Dirkie se brief). Die leierskap het ds Dirkie ook gesteun (kyk NG Kerk se leierskap steun ds Dirkie).

***************

AAN:
Dr Gustav Claassen
Algemene Sekretaris van die NG Kerk
Posbus 13528
Hatfield

Geagte dr Claassen,

Ons rig hierdie brief aan u en die res van die Moderatuur as ’n groep lidmate wat die Waarheid liefhet en opreg omgee vir die NG Kerk. U is waarskynlik bewus daarvan dat ’n groep mense onder leiding van Dr André Bartlett besig is met ’n petisie teen Ds Dirkie van der Spuy om nog meer druk op die moderamen te plaas om Ds van der Spuy vir sy godsdienstige oortuigings te vervolg en hulle eis dat hy van sy pos in die moderatuur onthef word.

Ds van der Spuy het dit durf waag om sy geloof in die integriteit van die Bybel in die openbaar uit te spreek in ’n brief aan sy gemeente. Daarin het hy ook sy diepe dankbaarheid oor die besluit aangaande selfdegeslag verbintenisse openbaar. Hy was verheug oor die uitslag van die sinode se besluite. Dit was nie ’n persverklaring nie, maar ’n pastorale brief van ’n dominee aan sy gemeente. Dr Bartlett se groep se beswaar is teen “die inhoud sowel as die triomfantelike toon van sy skrywe”. Hulle beskuldig hom ook indirek daarvan dat hy deel sou wees van ’n “versteekte agenda” en pogings om “die vergadering op ’n onaanvaarbare wyse (te) manipuleer”. Die brief is ook volgens hulle, ’n beskuldiging van “kwalik bedekte kettery en/of leerdwaling”.

Van die ondertekenaars van die petisie is bekende leiers en dit werp ’n ernstige refleksie op die leierskorps in die kerk.

Ons groep beskou Ds Dirkie as ’n broer in die Here wat ’n eerlike poging aangewend het om dit wat reg is (volgens die Skrif) te bely. Verder is ons van mening dat hulle eis dat Ds Van der Spuy, ’n ampsdraer van die NG Kerk, wat kerkordelik geen tugwaardige sonde volgens die kerkorde gepleeg het nie, uit sy amp onthef word op grond van die feit dat hy die Bybel glo en dit in die openbaar bely, niks anders is as godsdienstige vervolging nie. Ons beskou ook Dr André Bartlett se aksie as onkerkordelik.

Ons, die ondertekenaars van hierdie skrywe, vereenselwig ons volkome met die duidelike stelling van dr Gustav Claassen se onlangse skrywe aan gemeentes : “Die Bybelse boodskap ken net die huwelik as uitdrukking van menslike seksualiteit.” Daar is by ons geen twyfel dat enige afwyking van hierdie Bybelse waarheid inderdaad kettery is wat voortdurend ’n sweer van onmin in die Kerk van die Here sal veroorsaak indien daar nie onmiddellik en effektief hierteen opgetree word nie. Geen geloofsgemeenskap kan ’n leuen en die waarheid gelykertyd in sy midde probeer versoen en vrede verwag nie. Ons wil daarom ’n ernstige versoek tot die moderatuur rig om standpunt in te neem. Omdat die saak soveel prominensie in die sekulêre media geniet, word die naam van die kerk skade aangedoen.

Ek stuur hierdie brief in my eie naam uit, met enkele name daarby van lidmate wat die NG Kerk en die Waarheid liefhet. Dit is geskryf op aandrang van vele ander. Die aantal beswaarskrifte wat ontvang is (meer as 130 apèlle, gravamina en beswaarskrifte) vir die Buitengewone Algemene Sinode is bewys van die verset teen die besluite van AS2015 oor sgv. Ons oogmerk is nie om op getalle te roem nie – dit is nie ons styl nie.

Gegroet in die Naam van Christus.

Dr Henrietta Klaasing, Groblersdal NG gemeente.

Jan Louw, Piet Fourie, Jean Kok, Francois Deyzel, Clarissa Fourie en so meer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui