NG Kerk se leierskap steun ds Dirkie

Kyk ook:

Na ’n menigte mense ds Dirkie van der Spuy gekritiseer het oor sy e-pos (kyk Menigte protesteer teen Dirkie se brief), het die NGK leierskap besluit om hom te steun.

**************

NG Kerk se leierskap steun ds. Dirkie

Deur Verslagspan 19 November 2016 08:16

Die NG Kerk se top-leierskap het sy steun uitgespreek aan ds. Dirkie van der Spuy van die Moreletapark-gemeente wat hom onmin op die hals gehaal het oor ’n e-pos van die buitengewone algemene sinode se besluit oor gay mense, en gesê wat hy gedoen het, was sy “vrye reg”.

Die moderamen se voorsitter, ds. Nelis Janse van Rensburg, Van der Spuy (ondervoorsitter van die moderamen) en dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris, het Vrydag ’n verklaring uitgereik ter ondersteuning van Van der Spuy.

Van der Spuy het in sy brief onder meer gesê die sinode wat gay-verbintenisse afgekeur het, is ’n oorwinning vir God.

Die verklaring, wat Van Rensburg, Van der Spuy en Claassen uitgereik het, lui onder meer dat Van der Spuy “in die geledere van gebedsvriende sy tevredenheid met die besluit uitgespreek het, is sy vrye reg”.

Verder word gesê “die feit dat die Here se hand gesien is in die wyse waarop die sinode se standpunt verander is, is eweneens ’n persoonlike waarneming waarmee ’n mens kan verskil of saamstem. Dat ’n persoon hartlik saamstem en bly is oor ’n besluit van ’n algemene sinode, kan ook tog nie sonder meer veroordeel word nie.”

Volgens die drie het hulle deeglik besin oor die e-pos wat Van der Spuy aan sy gebedsondersteuningsgroep in sy gemeente gestuur het oor die selfdegeslagbesluit van die sinode.

Verder sê hulle, hulle is oortuig dat die verwysing in die e-pos na ’n besluit van Moreletapark gemeente slegs dui op sy persoonlike mening dat daar ’n gelykluidendheid is tussen die besluit van die sinode en dié van die gemeente.

“Daar was ons insiens nie sprake van ’n poging tot onbehoorlike beïnvloeding van die besluit van die sinode, of ’n poging om te suggereer dat dit deur die gemeente se toedoen was dat die besluit geneem is nie,” lui die verklaring verder.

Dr. André Bartlett, leraar van die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg, wat onlangs bedank het as lid van die algemene sinode se moderamen oor die hantering van die 2015-besluit deur die moderamen, het in kommentaar op die verklaring gesê hy beskou dit as “uiters teleurstellend”.

Bartlett het gesê dit toon geen begrip vir die ontsteltenis en aanstoot by baie lidmate oor Van der Spuy se uitsprake nie.

“Dit help eerder die groeiende polarisasie in die kerk aan.”

Volgens Bartlett gaan die herstel van die skade wat die vertroue in die kerkleiding gely het, veel meer vereis as hierdie soort “goedpratery van die onaanvaarbare optrede” van ’n prominente leiersfiguur soos Van der Spuy.

Netwerk24 het Vrydagmiddag berig die getal lidmate, predikante en teoloë van die NG Kerk wat in ’n ope brief hul ontsteltenis met die brief van Van der Spuy uitspreek, het meer as verdriedubbel van 172 tot 654.

Volgens die brief van die ontevrede lidmate is Van der Spuy se brief ’n beskuldiging van “kwalik bedekte kettery en/of leerdwaling”.

Van der Spuy het die brief ná afloop van die buitengewone algemene sinode geskryf en aan sekere lidmate gestuur, waaronder die uitvoerende hoof van Graan SA, Jannie de Villiers.

Die sinode het gay-verbintenisse afgekeur.

Van der Spuy skryf onder meer in die brief die Here het self kom oorneem by die sinode en ’n wonderwerk laat gebeur.

“Dit was ’n geweldige stryd maar uiteindelik ’n wonderlike oorwinning vir God en sy Woord.

“Die Here het Moreletapark se besluit wat goedgekeur is deur die algemene sinode, gebruik om ’n keerpunt in die besluite te bring en die hele koers van besluite in ’n nuwe rigting te stuur.”

Luidens die beswaardes se brief skep Van der Spuy se skrywe die indruk dat daar ’n gekonkel was op die vergadering. – Pieter Steyn en Marelize Barnard

*****************

Dirkie se e-pos sy ‘vrye reg’

18 November 2016, Kerkbode

Dit was ds Dirkie van der Spuy se vrye reg om sy tevredenheid met die besluit van die Algemene Sinode 2016 in ’n e-pos aan sy gebedsondersteuningsgroep uit te spreek. Dit kan nie veroordeel word wanneer ’n persoon bly is oor ’n besluit van ’n Algemene Sinode nie.

Só sê die voorsitter, onder-voorsitter en algemene sekretaris van die moderamen van die Algemene Sinode in ’n persverklaring wat Vrydagaand uitgereik is. Die volledige verklaring lui:

************

Ons, die voorsitter, onder-voorsitter en algemene sekretaris van die moderamen van die Algemene Sinode, Nelis Janse van Rensburg, Dirkie van der Spuy en Gustav Claassen het vandag, 18 November 2016 ’n uitgebreide gesprek gevoer oor die selfdegeslagbesluite van die buitengewone vergadering van die Algemene Sinode.

Ons het onder meer gepraat oor:

1. die inhoud van die besluit, die belang van die besluit in die eerste plek vir heteroseksuele verhoudings, asook die betekenis daarvan vir gay gelowiges;

2. die felle reaksie van akademici, leraars, kerkraadslede en lidmate ten opsigte van die besluit van die buitengewone Algemene Sinode;

3. die groot reaksie vanuit die kerk ten opsigte van die besluite van die sinode van 2015 en die instemming wat hierdie gelowiges nou met die 2016-besluit het;

4. die wyse waarop die kerk die diversiteit van menings oor selfdegeslagverbintenisse behoort te hanteer;

5. die feit dat baie gay lidmate voel dat die besluit uitsluitend is, ten spyte daarvan dat hulle welkom is as lidmate en in al die besondere ampte van die kerk.

Ons het ook deeglik besin oor die e-pos wat ds Van der Spuy aan sy gebedsondersteuningsgroep in sy gemeente gestuur het oor die selfdegeslagbesluit van die Algemene Sinode. Ons is oortuig dat die verwysing in die e-pos na ’n besluit van Moreletapark gemeente slegs dui op sy persoonlike mening dat daar ’n gelykluidendheid is tussen die besluit van die Algemene Sinode en die van die gemeente. Daar was ons insiens nie sprake van ’n poging tot onbehoorlike beïnvloeding van die besluit van die sinode, of ’n poging om te suggereer dat dit deur die gemeente se toedoen was dat die besluit geneem is nie. Dat hy in die geledere van gebedsvriende sy tevredenheid met die besluit uitgespreek het, is sy vrye reg. Die feit dat die Here se hand gesien is in die wyse waarop die sinode se standpunt verander is, is ewe eens ’n persoonlike waarneming waarmee ’n mens kan verskil of saamstem. Dat ’n persoon hartlik saamstem en bly is oor ’n besluit van ’n Algemene Sinode, kan ook tog nie sonder meer veroordeel word nie. Ons het ook gepraat oor die moontlikheid dat hierdie standpuntstelling impliseer dat andersdenkendes nie ernstig is oor die Bybel nie. Ons vereenselwig ons egter met die sinode se ooreenkoms dat “almal betrokke by die verskillende vertolkings erns maak met die Skrif en dat daar by almal ’n opregte begeerte is om God se wil te soek.” Hierdie ooreenkoms is in die besluit van die sinode opgeneem.

Ons verstaan dat daar baie frustrasie en dankbaarheid is wat met die besluit van die Algemene Sinode gepaard gaan. Openbare petisies teen ’n individu is egter nie die kerklike wyse waarop ons op frustrasies behoort te reageer nie. Trouens, dit is nie die Bybelse weg om verskille te hanteer nie. Daar is ook nie ’n amptelike kerklike proses om met petisies te handel nie. Daar is wel ander bekende kerkordelike weë waarlangs mense hulle frustrasies kan kanaliseer. Hiervan is om in dialoog met mekaar te bly die mees aangewese weg.

Ons is verbind om die eenheid van die kerk te dien. Eenheid staan nie teenoor waarheid nie. Dit is juis deur die eenheid te behou en binne hoorafstand van mekaar te bly, dat ons die onderskeie perspektiewe hoor en mekaar dien met insigte en wysheid om die waarheid te onderskei. Ons ken mekaar goed, is saam lief vir die Here, is saam in sy diens. Ons is saam opgewonde oor die Algemene Sinode se visie van ’n missionale kerk wat ’n bydrae lewer tot ons land. Ons wil met ons verbondenheid aan mekaar ’n voorbeeld stel van beliggaamde eenheid ten spyte van die verskille wat daar in ons denke oor sake bestaan.

Ons roep almal in die kerk op om in hierdie dae goed te dink oor die betekenis van die besluit van die Algemene Sinode. Laat almaI van ons dan erns maak met die Skrif met ’n opregte begeerte om God se wil te bly soek en mekaar te vind. In ’n gereformeerde kerk bly ons immers altyd wagtend op verdere leiding van die Heilige Gees. Laat ons die eenheid van die kerk bewaar ter wille van die waarheid en laat ons só verskil dat almal sal weet dat ons deur Christus verander is tot nuwe mense.

Gustav Claassen

Dirkie van der Spuy

Nelis Janse van Rensburg

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui